God se plan is soveel meer as jou eie planne!
Is jy versigtig om planne te maak vir hierdie jaar? Dan is dit tyd om terug te keer na wat werklik saak maak en jouself af te vra wat God van jou verwag.
deur ds. Lohan Linde
Planne, drome, ideale. In hoeveel sinne en gedagtes hoor ons nie die woorde “ek dink ek gaan” of “ek wil graag” nie. Dit is tog so ’n unieke mens-ding, is dit nie? Om te droom, om te beplan, om vooruit te dink. Dalk gee ek die miere te min krediet hierin, ek het al gehoor hulle vergaar ook kos vir die winter, maar dan is dit hulle enigste fokus, doel, vir die tyd wat hulle besig is daarmee.
Planne maak is ’n mens-ding. Dit is deel van wie ons is, wat ons dryf, wat ons menslik maak.
In die tyd van nuwejaarsvoornemens is dit dan ook presies wat ons wil doen, nè? Maar het ons hierdie jaar, 2021, nog voornemens? Is ons bereid om selfs so bietjie te dink aan wat die jaar gaan of kan inhou, en hoeveel beheer ek enigsins oor die dinge in my lewe gaan kan hê?
As ons laasjaar hierdie tyd ’n meningspeiling gehou het, wat sal die planne en drome gewees het? Meeste van ons planne was sekerlik aktiwiteite, lekker vakansies, groot partytjies … Soos ’n groot onweersknal word dit alles weggeruk, selfs skool, kuier saam met vriende, jou eerstejaar op universiteit, alles word tot stilstand geroep soos die “pause”-knoppie van jou afstandsbeheer wat vashaak, alles oor daardie vieslike c-woord (corona, covid-19, die koronavirus?).
Dit is eintlik wat ek graag met ’n meningspeiling sou wou bepaal:
Hoe verskil jou nuwejaarsvoornemens hierdie jaar van laasjaar s’n?
Ek wil vermoed dat laasjaar meer gerig is op dinge wat ons kan doen, dinge wat ek wil bereik. Met pandemie, lockdown, tuisskool en met alles wat gebeur het, het dit jou dalk bewus gemaak van ’n ander vraag wat jy eerder wil/kan/moet vra, nie hierdie keer “wat wil ek doen nie”, maar eerder: “wat kan ek verander?”
Omdat dinge hierdie jaar meer onseker is as laasjaar, is dit belangrik dat ons na die geestelike sy van ons eie lewens kyk: jou geloof, jou emosies, jou siel. As dit die vertrekpunt is, dan neem dit klaar verskeie ander probleme weg wat jou dalk van koers af kan bring in hierdie jaar. As jou ingesteldheid gaan oor wat jy kan bydra, toevoeg, positief verander, dan gee dit jou ’n ander uitkyk, ’n ander toekomsvisie. Moenie verkeerd verstaan nie, planne en drome is goed, maar dit moet uit die regte plek gebou word.
Wat is ons vertrekpunt, ons fondasie, ons belangrikste dryfveer?
Saam met al hierdie vrae en twyfel oor die toekoms, het ek begin wonder of ons werklik besef het wat belangrik is, wat die moeite werd is, wanneer iets belangrik genoeg is dat ek my tyd, emosie, aandag en energie daaraan bly spandeer?
Al hierdie dinge trek saam na een belangrike punt toe: Wat is God se wil vir my lewe?
Dit is iets waaroor gelowiges baie wonder. Wat is God se plan, God se plan met my lewe, met die wêreld, wat was God se plan met hierdie virus, en dan in die donkerte, daardie lastige vraag wat soms soos ’n doring in jou brein inkruip: “Is God nog in beheer?’
Die laaste vraag is die maklikste om te beantwoord, want dit is ’n oorweldigende ja! ’n Ja sonder twyfel, ’n ja wat deur die eeue heen deurgebasuin word. Die ander vrae is nie so maklik nie, ek kan nie vir jou sê wat God se plan met jou lewe is nie. Wat wel baie belangrik is, is om die eerste trappie reg te hê.
Deur die moeras van onsekerhede en vrae en bekommernisse kom een antwoord klokhelder na ons toe: God gee om oor jou. Hy sorg vir jou. Hy het jou lief, nimmereindigend, ontsaglik lief. Hy het sy Enigste Seun laat sterf sodat jy kan lewe. God wil die beste vir jou hê. Hy weet die beste vir jou is om Hom te dien, om heel eerste voor enigiets anders te vra:
Wat verwag God van my?
Dit antwoord so baie vrae, dit gee rigting aan soveel drome, dit gee leiding in soveel tye van hopeloosheid en moedeloosheid. As jy daardie vraag kan antwoord, dan kan jy hierdie jaar met die verwagting instap dat dit ’n goeie jaar sal wees. Dan het jy ’n skat, ’n uitkyk, ’n ingesteldheid wat niemand van jou kan wegvat nie. Dan is jy bereid om te verander om meer die woorde uit te leef: Bly in My, want ek is in julle.