Verkondig die evangelie soos Timoteus
In 2 Timoteus 4:1-5 lees ons hoe Paulus vir Timoteus beveel wat sy opdrag ten opsigte van die Bybel is: Timoteus moet die evangelie verkondig. Hy moet dit oral en altyd doen, want dít is wat mense moet hoor, al wil hulle dit nie hoor nie. Hierdie gedeelte leer ons wat die opdrag van alle dienaars van Christus is: Verkondig die evangelie oral en altyd!
Lees 2 Timoteus 4:1-5
Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, 3want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. 4Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. 5Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.
1. Wat wys dat Paulus in hierdie gedeelte baie ernstige opdragte aan Timoteus gee?
2. Wat lees ons sal Christus by sy wederkoms doen? Hoe laat dit jou voel?
Wat beteken oordeel? (vers 1) Oordeel is om plegtig te besluit of iets of iemand reg of verkeerd is. Christus sal by sy wederkoms alle mense (dié wat reeds dood is en dié wat nog lewe) oordeel. Hy sal besluit of hulle ewig gered word, of ewig verlore gaan. Maak dit jou bang? Jy hoef nie bang te wees nie. Die Bybel troos jou dat elkeen wat in Christus glo, deur Hom van al sy of haar sondes gereinig is. Op die oordeelsdag sal ons voor Christus staan en dit sal lyk of ons nooit gesondig het nie – so perfek het Christus vir ons sondes betaal.
3. Wat beteken dit om vol te hou om die Woord te verkondig, tydig en ontydig?
4. Gee voorbeelde van omstandighede waar dit al vir jou moeilik was om die evangelie te verkondig.
5. Wat kan ons doen om seker te maak dat ons die evangelie tydig en ontydig sal verkondig?
6. Wat is die verskil tussen weerlê, bestraf en bemoedig?
7. Hoekom kry ons die opdrag om “met alle geduld” onderrig te gee?
8. Hoekom moet Timoteus volgens vers 3 tydig en ontydig die evangelie verkondig?
Wat beteken gesonde leer? (vers 3) Dit wat in die Bybel geleer word. Indien iemand iets verkondig wat nie in die Bybel gevind word nie, is dit nie die gesonde leer nie. Om die gesonde leer te verdra, beteken om gehoorsaam te wees aan dit wat die Bybel leer. Lees 1 Timoteus 1:10 en 2 Timoteus 1:13.
9. Gee voorbeelde uit ons samelewing waar mense hulle eie begeertes volg en leermeesters het wat net sê wat hulle graag wil hoor.
Wat is verdigsels? (vers 4) Verdigsels is opgemaakte stories. Ons kan sommer sê dit is leuens.
10. Watter vier opdragte gee Paulus ten slotte vir Timoteus in vers 5?
Wat beteken nugter? (vers 5) Kalm en rustig. Om nugter te wees, is om nie deur allerhande leuens en stories mislei te word nie.
11. Wanneer is dit vir jou nodig om nugter te bly? Gee maniere hoe jy dit kan doen.
12. Hoe sal jy Paulus se samevattende opdrag aan Timoteus in vers 5 opsom?
Samevatting
Te midde van ’n wêreld wat nie die evangelie wil hoor nie – en nie eens besef dat hulle die evangelie móét hoor nie – is ons opdrag: Hou aan om die evangelie te verkondig. Dit is nie altyd maklik nie. Maar dit is ons roeping, en die Here gee ons die krag om dit te doen. Wat ’n voorreg om ’n instrument in sy hand te wees wanneer ons die evangelie verkondig!
Gebedsriglyne
- Bid dat God jou die vrymoedigheid sal gee om die evangelie tydig en ontydig te verkondig.
- Bid dat God jou die nodige woorde in die mond sal lê wanneer jy die evangelie verkondig.