Leef volgens God se wil
Uit die gebed van Dawid en sy omstandighede kan ons leer hoe ons volgens God se wil moet leef.

Wat wil God hê moet jy met jou lewe doen? Wat moet jy na skool doen? Moet jy studeer? Moet jy van rigting verander of moet jy deurdruk? Jy sou graag wou hê dat God vir jou ’n duidelike teken stuur oor wat jy volgende moet doen. Jy wil net die Bybel spontaan oopmaak en sien wat God vir jou lewe beplan het. Tog werk God nie so met ons nie. Hy het die mens van die begin af sy eie wil gegee om self keuses te kan maak. Beteken dit dat die mens kan doen wat hy wil? Hoe werk dit saam met God se wil vir jou lewe?
Psalm 3
’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. 2 Ek het so baie vyande, Here!… 4 Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. 5 As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela 6 As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. 7 Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. 8 Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan. 9 Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk. Sela
- Watter tipe Psalm is hierdie?
- Wat is Dawid se omstandighede waarbinne hy die Psalm skryf?
- Wat bely Dawid oor God in verse 4, 5 en 9? Watter troos en gevolge bring dit vir hom in sy lewe? (vers 6)
- Wat vra Dawid vir die Here in vers 8?
- Is daar spanning tussen Dawid se belydenis oor God se beskerming en sy smeking om beskerming?