Positiewe gevolge van gebed
deur Johannes Schickerling
In die kerk word dit algemeen aanvaar dat ons bid. As gelowiges praat ons dikwels op hierdie manier met God, hetsy deur ‘n lang, beplande gebed of deur ‘n vinnige skietgebed. In hierdie artikel gaan ons kyk na die fisiese en psigiese waarde van gebede.
In die meeste gelowe is daar een of ander vorm van gebed. Dit behels meditasie, chanting, praat, buig, kniel of ‘n ander ritueel. Die verskillende tipes gebede is vorme van kommunikasie tussen ‘n persoon en sy hoër mag. Wanneer ‘n persoon sy sorge deel met iets/iemand wat hy glo in staat is om hom te help, laat dit hom voel dat hy nie alleen in die wêreld is nie. Dit verlig dus die daaglikse druk. Baie navorsing is al gedoen om die positiewe effek van gebed op die mens se psigiese en fisiese toestand te bewys.
Kom ons kyk na ‘n paar voordele wat die Christelike gebed kan inhou:
Gebed is ‘n geleentheid om stil te word, iets wat deesdae al hoe moeiliker word. Dit verwys na ‘n innerlike stilte wat spanning laat daal en energie na God toe kanaliseer. Jou aandag word gefokus en kalmte word bewerkstellig in jou gedagtes, gevoelens en gedrag. “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon,” (Matteus 6:6). Gebed is dus ‘n great manier om kalm te word en te ontspan.
Tydens ‘n gebed praat jy met jou Skepper oor dinge waaroor jy skuldig voel, foute wat jy gemaak het en allerlei issues. Jy deel jou diepste geheime en voel wanneer jy om vergifnis vra dat jy verlos word van ‘n las. “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking,” (Jakobus 5:16). Deur gebed is jy dus besig met selfterapie.
Meestal word daar in jou gebed ‘n versoek aan God gerig vir jouself of iemand anders, bekend of onbekend. Dit kan vir ‘n behoefte, gesondheid, sukses, geluk, talent of seën wees. “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra,” (Matteus 21:22). ‘n Gevoel van magteloosheid word vervang met ‘n gevoel van mag, krag en hoop dat hierdie versoek beantwoord sal word.
In gebede word dankbaarheid beklemtoon, want God word bedank vir alles wat jy reeds ontvang het. Dit maak jou bewus van jou lewe en omgewing, en kweek ‘n gesindheid van nederigheid en dankbaarheid. Hiermee word die fokus op die hier-en-nou geplaas en die klem weggeskuif van verwagtinge en onrealistiese drome. So word ‘n gesonde perspektief oor jouself in die wêreld gekweek.
Die proses van gebed bevorder verder ’n positiewe houding en gedagtes teenoor ander, die wêreld en jouself. As jy glo dat dit beter kan gaan, dat God jou gaan help of krag gaan gee om self iets te verander, skep dit so ‘n positiewe gesindheid. “Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand,” (1 Korintiërs 14:15). Positiwiteit en ‘n goeie lewensuitkyk word met behulp van gebed gekweek.
Laastens word die klem en fokus op die eie ek tydens gebed verskuif omdat jy tot God bid. Dit bevestig dat jy nie alleen in die wêreld staan nie en dus ‘n gevoel van konneksie ontwikkel. Jy spreek jou ego aan, verkry perspektief omdat jy op ‘n ander manier na jouself en jou issues kan kyk, en kweek so insig.
Gebed het nog soveel ander voordele. Daar is baie navorsing gedoen wat die effektiwiteit van gebed ondersoek en bevind het dat dit ‘n betekenisvolle, positiewe uitwerking op mense het. Al ly ‘n persoon aan ‘n hartsiekte, kanker, psigologiese probleem of trauma, die feit bly staan dat gebed sy/haar lewenskwaliteit kan verbeter. Ons God is almagtig en net om met Hom te praat het soveel voordele. Word elke dag stil en praat met Hom wat jou laat ontspan, terapie gee, hoop en perspektief gee, positief laat uitsien en help met alles waarmee jy sukkel.
“Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed,” (Romeine 12:12).
Goeie dag en baie dankie vir hierdie artikel oor gebed.
Ek het na inligting gesoek oor hoe om vir iemand te bid met ‘n negatiewe gesindheid, en op hierdie artikel af gekom.
Mag ek asseblief vra dat julle saam met my sal bid vir ‘n familielid wat ‘n baie negatiewe gesindheid het, wat fout vind met alles en wat almal rondom hom aniliseer om enige tipe vorm van foute te vind en uit te wys.
Dit is baie onaangenaam om voortdurend in hierdie persoon se geselskap te wees want dit beinvloed ook my eie gemoedstoestand.
Vriendelike groete en baie dankie.
Anna