Regverdigmaking en heiligmaking: Hoe verskil dit?

deur ds. Marco le Roux
Regverdigmaking
Regverdigmaking is ’n regsterm. God tree as die regter op en op grond van Christus se werk (sy geregtigheid) spreek hy ons van die skuld en straf van die sonde vry. Daar vind ’n verklaring plaas: Ons word regverdig verklaar. Ons ontvang die ewige lewe. Ons is skuldig voor God en nou word ons van hierdie skuld vrygespreek.
Outeur: Die Vader wat deur Christus vryspreek.
Karakter: Dit is ’n regterlike uitspraak wat buite ons in die hemel plaasvind. Daar vind ’n verklaring plaas: “Jy is nie meer skuldig nie, maar onskuldig.”
Die vrug: Dit is vryheid, vrede, vreugde en geloofsekerheid. Dit neem die skuld van die sondaar weg.
Die tyd: Regverdigmaking gebeur een maal en dis volkome.
- Romeine 8:33 “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.”
- Romeine 5:1 “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.”
Heiligmaking
Heiligmaking is die proses wat die Woord en die Heilige Gees in ons hart werk om ons na God se beeld te vernuwe. As regverdigmaking die fondament is, dan is heiligmaking die huis. Die heiligmaking behels twee dinge deur weg te vlug van die sonde en om goeie werke te doen. Al is ons onskuldig is ons nog steeds onheilig en word ons in hierdie proses heilig gemaak. Dus, na die beeld van God vernuwe.
Outeur: Die werk van die Heilige Gees.
Karakter: Dit is ’n etiese of sedelike daad wat in ons uitgeoefen word deur die werk van die Heilige Gees*. Dit bring verandering in jou lewe. Ons sterf die ou mens af en in ons staan die nuwe mens op.
Die vrug: Dit neem die smet van die sonde weg en ons doen al hoe meer goeie werke.
Die tyd: Heiligmaking vind deur ons hele lewe plaas totdat ons doodgaan en is in hierdie lewe nog nie afgehandel nie.
- Efesiërs 4:22-24 “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”