Hoe kies ek ’n kerk?
Min mense dink oor wat die Here wil hê wanneer hulle besluit oor watter kerk hulle wil besoek. Verskille in kerke word afgemaak as ’n verskil in smaak. Ons aanbid tog dieselfde Here en die kerk bepaal tog nie of ek hemel toe gaan nie, word daar geredeneer.
Tog sê die Here duidelik dat almal ’n verantwoordelikheid het om hulle by die ware kerk aan te sluit. Wanneer jy jou ouerhuis verlaat as student of jong werkende moet jy self besluit waar jy wil aansluit. As gelowiges moet ons onsself krities afvra of ons by die kerk is waar die Here Homself openbaar. Hoe weet ’n mens of jy by ’n kerk is wat getrou aan die Woord is?
Hier is ’n paar riglyne:
- Word daar elke keer uit die Bybel gelees in die erediens?
- Verkondig die prediker die Woord van God of sy eie idees?
- Word die sakramente van die doop en nagmaal bedien soos die Bybel sê?
- Kan jy sien dat daar liefde in die gemeente is? Huisbesoek en die versorging van die armes is belangrik.
- Is daar enige dokument wat jy kan lees sodat jy kan sien wat die mense glo en bely?