Hoe vra ek om vergifnis vir my sondes?
deur ds. Werner Brotherton
Een van die moeilikste dinge wat ons soms kan doen is om te erken dat ons ’n fout gemaak het. In die huwelik is dit baie keer nodig om te erken dat jy iets verkeerd gedoen het. Dit is baie keer die begin van die pad van versoening. So is dit ook met die gelowige gebed wanneer ons om vergifnis vra. Ons moet eerstens besef, erken en bely dat ons sonde het.
Die sonde van Dawid
In 2 Samuel 11 lees ons dat Dawid sonde gedoen het deur met Batseba gemeenskap te hê. Daarna het hy ook haar man Uria laat doodmaak. Die Here stuur dan sy profeet Natan om met Dawid te kom praat en te laat besef dat hy sonde gedoen het. Psalm 51 is ’n skuldbelydenis van hierdie sonde en ook ’n oproep tot vergifnis van die Here.
Lees Psalm 51 en 2 Samuel 12 vir meer hieroor.
Wat is vergifnis?
Die woord vir vergifnis beteken in Hebreeus om te vergeet, of om iemand se sonde teen hom te tel. Wat ons dus doen wanneer ons vra om skuldvergifnis is dat ons die Here vra dat Hy ons sonde sal vergeet. In Psalm 103:1–4 leer ons dat die Here dit wel doen. Hy verwyder ons oortredinge so ver van ons soos die weste is van die ooste (Psalm 103:12). Lees gerus die hele Psalm 103 en sien die wonder van die Here se groot vergifnis.
Die belangrikheid van gebed
Wat Psalm 51 ons leer is dat ons dus ons sonde moet besef en teenoor die Here moet bely. In Sondag 45 van die Heidelbergse Kategismus (HK) leer ons ’n paar interessante dinge rondom gebed. Ons leer:
- Gebed is die vernaamste deel van ’n gelowige se lewe.
Dit beteken: gebed moet die bekendste deel van my lewe wees. ’n Teoloog het eenmaal gesê: Wat ’n man wanneer hy alleen op sy knieë voor die Here is, dit ís hy. Met ander woorde, dit wat ons glo, bely en leef word bekend in ons gebede. As jy wil weet wat iemand glo, luister na sy gebede.
Dit is dus belangrik dat ons leer bid, en as ons nie weet wat om te bid nie kan ons die Psalms bid. Die Psalms staan ook bekend as die gebedeboek van Christus, kyk maar hoe baie het Hy die Psalms gebid. - Tweedens leer ons in die Heidelbergse Kategismus dat ons die enige ware God moet aanroep soos Hy Homself in sy Woord openbaar.
- Derdens leer ons dat ons, ons nood en ellende reg en grondig moet ken sodat ons, ons voor sy majesteit kan verootmoedig.
Dit is hier waar ons Psalm en belydenis bymekaar kom. Ek moet weet waarvoor ek vergifnis vra en ook van Wie ek dit vra, en ook op watter gronde. - Die gronde leer ons laastens in ons belydenis. Ons het die vaste grond, al verdien ons dit nie, dat die Here ons gebed ter wille van Christus wil verhoor, soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof.
Die vrymoedigheid om vir jou sondes te bid
Dit is soms vir ons baie intimiderend om te bid, veral om te erken dat ons sonde het, maar ons het in Christus die vrymoedigheid dat ons gebede verhoor word.
- In Romeine 8 leer ons dat die Heilige Gees vir ons intree. Hy suiwer ons gebede. Dit beteken dat ons gebede anders lyk as hoe ons dit hier bid, dit is gesuiwerde gebede.
- Ons vrymoedigheid gaan wel nog verder. Die boek Hebreërs leer dat Jesus ons Hoëpriester is wat vir ons by die Vader intree. Deur sy middelaarswerk bring Hy ons gebede voor die Vader.
Die Heilige Gees suiwer dus ons gebede en Jesus Christus bring dit voor die Vader. Dit wek by ons ’n groot vrymoedigheid by die Here op!
Wat as ek dalk vergeet om vir ’n sonde te bid?
Beteken dit dat sommige van my sondes onvergewe bly? Nee! Genadiglik nie. Mag ons nooit so klein van Christus se werke dink nie. Ons gebede bepaal nie of ons verlos is of nie.
Kyk maar na die moordenaar langs ons Here Jesus aan die kruis in Lukas 22:33–49. Hy het nie gebid nie. Hy het alleen vir Christus gevra om aan hom te dink in die Paradys. Tog sê ons Here Jesus dat hy saam met Hom in die Paradys sal wees. Hy het besef wie Jesus is en deur te vra dat Jesus aan hom dink is hy gered. Dit is ook ’n vorm van belydenis.
Waarom vra ons om vergifnis?
Ons vra om vergifnis omdat ons afhanklik van die Here is en Hy wil hê ons moet dit besef. Ons moet ook besef hoe groot ons sonde is sodat ons weet hoe dringend ons verlossing nodig het.
Gebed is deel van ons dankbaarheidslewe en ons kan ook in alle dankbaarheid vir Christus se werke ons sondes bely voor die Here en vra dat die Here ons in Christus sal aansien. Dat Hy nie ons sonde aan ons sien nie, maar Christus se werke aan ons sien.