Is oorloë ’n teken van die eindtye?
In hierdie artikel leer ons wat Jesus vir sy dissipels oor die eindtyd sê, en watter rol oorloë in die eindtyd speel.
deur ds. Werner Brotherton
Die afgelope tyd is die wêreld geskok met die skielike oorloë wat plaasvind wanneer ons dink aan Oekraine en Israel. Uit die aard van die saak is daar baie mense wat sekere tekens hierin wil raaksien. Sommiges wil dit veral sien as ’n teken van die eindtye. Ons kyk in hierdie artikel hoekom dié stelling op dieselfde tyd reg en verkeerd is.
Wat sê Jesus oor die eindtye?
In Matteus 24 leer ons dat ons Here Self sê oorloë is een van die tekens van die eindtye. Daar sal ook gerugte van oorloë wees, wat ons ook kan vertaal met propaganda. Daar is wel ’n sleutelgedagte wat ons Here Jesus hierby vir ons sê:
… maar dit is nog nie die einde nie.
Matteus 24:6
Dat oorloë ’n teken van die eindtyd is, is beslis so, maar beteken dit dat die eindtyd nou dadelik is? Nee, dit kan ons nie sê nie, veral nie met sekerheid nie. Jesus het Self gesê dat net die Vader weet wanneer Christus weer kom, en dit is met die koms van Jesus wanneer die laaste dag sal aanbreek. Die eindtye is dus vandat Jesus opgevaar het na die hemel totdat Hy weer kom.
Jesus het hierdie dinge juis tot ons troos gesê. In vers 6 sê Hy dat ons nie verskrik moet wees nie, want dit alles moet plaasvind. Daar moet oorloë wees, daar moet valse profete wees, daar moet hongersnood wees, daar moet siekte wees. Dit is alles egter nie die finale teken van die eindtyd nie. Dit is alles voetstappe wat lei na die laaste dag.
Die laaste dag van die eindtyd
Die teken van die laaste dag sal Christus Self wees wat in die hemel verskyn (vers 30). Daarom kan ons bemoediging vind in elke oorlog, elke pessiekte, elke ramp wat plaasvind, want dit alles wys ons daarop dat Christus kom. Hoe wonderlik is dit nie! Selfs die slegte dinge in die lewe laat ons op ons Verlosser fokus. Dit is ook die punt! Wanneer dit moeilik gaan in ons lewe en daar allerhande slegte dinge gebeur is dit juis die tyd wanneer ons werklik verlang na die koms van Christus.
Ook die oorloë wat tans plaasvind moet ons nie mismoedig maak nie. Ons moet nie verskrik wees nie. Ons moet bly wees, nie omdat baie mense doodgaan nie, nie omdat baie mense seer het en sonder heenkome sit nie, maar omdat dit ’n teken is van Christus se koms. Christus sê dit moet gebeur. As dit nie gebeur nie, sal Christus nie kom nie. Maar presies hoeveel oorloë daar gaan wees, en hoe lank dit nog gaan neem voor Jesus kom, sê Hy nie vir ons nie.
Moenie mislei word oor die eindtyd nie
Jy is nie alleen as jy wonder oor al hierdie dinge nie. Jesus het hierdie dinge vertel omdat sy dissipels na Hom toe gekom het met vrae oor die eindtyd. Hulle het ook gewonder en was onseker en daarom begin Jesus sy antwoord met die woorde:
… pas op dat niemand julle mislei nie.
Matteus 24:4
Pas op … Wees op die uitkyk, wees wakker, wees nugter, want daar gaan mense wees wat ons probeer bangmaak met stories oor die oorloë. Mense sal ons probeer bangmaak met propaganda.
Maar hoe is ons waaksaam? Hoe pasop ons? Ons is gereed vir al hierdie dinge deur gegrond te wees op die Woord van Christus!
Wanneer ons deurdrenk is met die Woord van God sal ons nie onkant gevang word deur al hierdie dinge nie. Daarom moet ons sorg dat ons uitkom by die Woordverkondiging in die eredienste, huisgodsdiens, persoonlike stiltetyd en Bybelstudie. In Christus alleen bly ons staande, in Hom alleen kan ons pasop.