Voel jy moedeloos en bekommerd oor die land?

As jy onseker voel of daar vir jou ’n toekoms in jou land is, skep moed uit dié verhaal van God se volk in Jeremia. Lees hier.


deur Barend van der Westhuizen

Is daar vir ons ’n toekoms in Suid-Afrika? Dit is sekerlik ’n vraag waaroor jy al gewonder het. Ons lees dikwels van moord, korrupsie en onreg – ons het dit dalk ook al in ons gesinne beleef. Die agteruitgang in ons land is tasbaar … ons voel en sien dit elke keer as ons deur ’n nuwe slaggat ry, as ons van nog ’n plaasmoord lees, as ons verby soveel arm mense in nedersettings ry of as ons hoor van nog ’n president wat onder die verleidelikheid van geld en magsug geswig het.


God se woorde aan Israel in ’n heidense land

Die Here leer egter vir ons ’n ryke en bemoedigende waarheid vanuit Jeremia 29:1-15. Dié gedeelte vorm deel van ’n brief wat die profeet Jeremia aan die ballinge stuur wat deur Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevat was. Tog is dit nie Jeremia se woorde in die brief nie. Volgens vers 4 en 8 is dit duidelik: “So sê die HERE!” Dit is ook nie sommer net Nebukadnesar wat die Judeërs na Babel toe gevat het nie, maar volgens Jeremia 29:4 en 7 sê die HERE dat dit Hý is wat sy volk daarheen weggevoer het.


Die Here straf sy volk se ongehoorsaamheid

God het Nebukadnesar as instrument gebruik om sy volk uit Jerusalem te vat en die stad te verwoes (2 Konings 24:18- 2 Konings 25:21). Die rede hiervoor was die ongehoorsaamheid van die inwoners van Jerusalem en Juda. Hulle het hulle nie tot God bekeer nie. Die Here is die Heerser oor alle magte en Hy het Babel gebruik om sy volk te straf. Volgens Psalm 137 word die volk se hartseer en gesindheid in Babel goed opgesom. Die trane het gevloei. Hulle wil nie vir die HERE sing nie en verlang terug na Jerusalem.

Maar die volk het spesifieke opdragte in die heidense land

Die volk moes egter nie in Babel doelloos swerf en hulself jammer kry nie. Jeremia 29:4-15 spreek in twee dele twee verskillende realiteite aan. Vanuit Jeremia 29:4-7 blyk dit dat die volk lank in Babel sal bly en met hulle lewe moet voortgaan al is hulle in ’n heidenland. Hulle moes seker maak dat hulle meer moet word. Hierdie blywende leefstyl in Babel moes die regte perspektief aan Israel gee aangesien daar dwaalleeraars was wat valse leer verkondig het (Jeremia 29:8-9 en 15). Hierdie dwaalleerraars het waarskynlik verkondig dat die tyd in Babel gou verby sal wees en dat Israel vinnig na Jerusalem sal terugkeer. Die HERE se Woord in hierdie brief dui egter dat die God van Israel sy volk vir 70 jaar in ballingskap gaan laat bly.

In hulle tyd in Babel moet Israel egter nie vir hulself lewe nie. Die HERE sê volgens Jeremia 29:7 wat hulle wel moet doen:

  • Bevorder die vrede van die stad waarheen ek julle gestuur het.

Die volk moes nie in bitterheid en selfbejammering wegkwyn nie. Die Israeliete se verhouding met God moes in sigbare optrede van goeie dade teenoor mekaar en die ander inwoners van die stad oorloop. Hulle moes omgee en vriendelikheid teenoor die inwoners van die stad betoon het. Hulle moes as ‘t ware vertoonvensters wees van wie God is. Die volk moes beterskap en voorspoed in die stad waarin hulle was gesoek het. En, hulle moes hulle verhoudings met die inwoners van daardie stad versterk.

  • Bid vir die stad.

Hierdie woord vir gebed dui spesifiek daarop dat hulle vir die stad en sy inwoners moes intree. Hulle moes voorbidding vir die mense van die stad doen sodat hulle ook in ’n herstelde verhouding met God kon staan. Hulle moes bid dat God heerskappy in die stad sigbaar word.


Daar is vir ons ’n toekoms in Suid-Afrika – God se toekoms

In Suid-Afrika met al die uitdagings kan ons maklik meer en meer onsself wil handhaaf en vir onsself leef. Ons mure word hoër gebou en ons meng nie met ander rasse nie en kan maklik vir ander net die slegste toewens. Tog vanuit Jeremia 29 leer ons dat God, die Heerser oor alle magte, ons met ’n rede in hierdie land geplaas het. Ons is God se kinders en moet so leef.

Vanuit Lukas 22:31-32 en Hebreërs 9:11 leer ons dat Christus vir ons bid sodat ons geloof nie sal beswyk nie. Hy tree vir ons by die Vader in. Selfs aan die kruis het Hy vir diegene wat Hom gekruisig het gebid: “Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” (Lukas 23:34). Jesus het uit die dood opgestaan en het alle mag en gesag in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Dit is Hy wat ons na die uithoeke in die wêreld stuur om van Hom te getuig en Hy is met elkeen van ons. Daarom is ons doel hier in Suid-Afrika om volgens God se Woord en plan te leef.

Hou hierdie teksverse in gedagte

  • “Die Gees staan ons ook in swakheid by …” (Romeine 8:26).
  • “God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet,” (Romeine 8:28).
  • “Geseënd is die vredemakers …” (Matteus 5:9).
  • “Julle is die sout vir die aarde; Julle is die lig vir die wêreld” (Matteus 5:13a & 14a).
  • “Maar ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel … (Matteus 5:44).
  • “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir die wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid” (1 Timoteus 2:1).

Hoe kan ons prakties in Suid-Afrika die vrede van die stad waarin ons is bevorder?

  • Besef dat jy ’n roeping het daar waar jy bly.
  • Hou op jouself isoleer en soek mense op.
  • Vorm warm gemeenskappe wat vrede met God en vrede met ander bevorder.
  • Raak by liefdadigheid, opvoedkundige of maatskaplike aksies in jou dorp betrokke.
  • Reik uit na die wat nie die HERE ken nie en bedien die versoening van Christus aan mense wat verlore is.
  • Poog om vrede tussen mense en rasse te werk.
  • Bid vir God se standaard in reg, geregtigheid en verhoudings en wees ’n voorbeeld daarin.
  • Bid dat Christus se heerskappy in die regering, munisipaliteite, polisiediens, regstelsels, skole, dorpe en inwoners se lewe sigbaar sal word.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui