Jesus het gekom om vrede te bring

Die vrede van Kersfees is nie die wêreldse vrede waaraan ons dalk dink nie, maar die vrede tussen ons en God. Lees hier daaroor.

deur Philip Wepener


Kersfees is ’n tyd van vrede! In die sitkamer staan ‘n pragtige kersboom en onder lê toegedraaide geskenke; kersligte en -klokkies is opgehang, en die blink rooi tafeldoeke en splinternuwe servette is vir die maaltye gedek. Tekens van vrede!

Tog moet ons nooit vergeet van die eintlike vredeteken van Kersfees nie. Gedurende Kersfees word vrede maklik met wêreldse dinge of omstandighede verbind, terwyl vrede gaan oor die herstelling van God en die mens wat ons Here Jesus – die Prins van Vrede! – gebring het.


Jesus is ons Prins van Vrede

Ons Here Jesus word in Jesaja die Vredevors genoem. Reeds in die Ou Testament was die vredebelofte geprofeteer dat Hy vrede op aarde sou bring (Jesaja 9:5). Tog is die soort vrede wat Hy gebring het nie noodwendig waaraan ons dink wanneer ons van vrede tydens kersfees sien of hoor nie. Nee, Jesus het gekom om óns Vrede te wees! Omdat ons almal gesondig het en teen God in opstand gekom het, het ons nie vrede met God gehad nie. Daarom het Jesus gekom om vrede tussen God en die mens te bring (Lukas 2:14). Deur die versoeningsoffer wat ons Vredekoning gebring het, lewe ons nou in vrede met ons hemelse Vader (Romeine 5:1, 10).


Ons kan in vrede met God leef

Jesus se vrede is nie op wêreldse dinge of op omstandighede gesteld nie, maar sy vrede rus op die ewige sekerheid dat ons in vrede met God lewe. Ja, ons lewe in ‘n onaangename tyd in ons land en die omstandighede maak dat vrede ver voel, dit terwyl die ware Vredebringer by elkeen van ons is wat Hom in die geloof omhels (Johannes 14:27). Wêreldse dinge of ons omstandighede bepaal nie vrede nie, maar dit kom van Hom wat die gelowige hart met sy vrede vul – ‘n vrede wat nie van hierdie wêreld is en wat die wêreld nie van wil weet nie.


Kersfees is ’n wonderlike tyd van vrede! Moet of mag ons kersfees vier? Ja, absoluut! Jesus het gekom om vrede te bring! As Prins van Vrede is Hy vir ons gegee en gebore, sodat ons vrede met God kan hê. Onthou en vier altyd dié vredeteken van Kersfees!

Mag ons in hierdie tyd vrede ontvang sowel as om dit aan ander te getuig en te gee. Geseënde Prins van Vrede-fees vir elkeen van julle!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui