Hoe kan ek balans tussen werk en rus vind?

Vanaf die begin van die Bybel kry ons God se voorbeeld van werk en rus. Lees hier hoekom ons Hom deur ons werk én ons rus moet verheerlik.

deur ds. Brahm Robinson

Alle mense werk. Dit is ’n uitsondering dat iemand nie werk nie, hetsy deur ouderdom of siekte. Van ons kinderdae af probeer meeste van ons om weg te kom as daar werk uitgedeel word. Ons het die idee dat werk sleg is, en rus lekker is. Die teenkant is ook waar, dat baie kinders groot word en ’n werkverslaafde word. Die uiteinde is dat mense uitbrand. Ons sit dus met hierdie twee kante waar te veel rus of te veel werk nie goed is vir ons nie. Maar hoe vind ons die goeie balans?


God is ’n werkende God

Die Bybel begin met die woorde dat God ’n werkende God is. As iemand die Bybel van heel voor af lees, is die heel eerste openbaring wat God in die heel eerste vers maak, dat Hy werk. Alles wat jy sien is deur Hom gemaak omdat Hy werk. Deur die ses skeppingsdae skep Hy alles. Ons hoor ook in die tweede hoofstuk dat God besorg is met die skepping en verder werk deur vir die mens ’n tuin aan te lê. God werk dus as Tuinier met die grond en die plante om dit te kultiveer.

God hou nie op met sy werk nie

Gelowiges ken God as die Een wat nooit ophou werk nie. Selfs nie na die ses dae nie (Johannes 5). God bly steeds in sy skepping werk. As Hy vir een oomblik sou ophou om te werk, sal die hele skepping in chaos verval. Die Seun hou nie op met sy werk na die kruisiging en opstanding nie. Hy werk en regeer nou as Koning en Hy werk en tree vir ons as Hoë Priester in. Jesus stuur sy Heilige Gees om in sy kinders te werk. Hy werk die wedergeboorte en geloof. Ons God is dus werkend.

Die Bybel openbaar baie duidelik aan ons dat God van die begin af absoluut besorg is oor sy werk. Sy werk geniet altyd sy volle aandag, want sy werk verheerlik Hom.

God werk volgens ’n patroon

Wat die Bybel verder aan ons bekendmaak, is ’n ritme en ’n orde waarvolgens God werk. Hoewel God alles sonder ’n oomblik kon gemaak het, word daar aan ons ’n ritme in tyd beskryf in God se werk. ’n Ritme van werk en rus. Nie net ses dae se werk en een dag rus nie.

God het op die eerste dag al dag en nag gemaak. Hy het ’n dag gewerk; dit het aand geword, dit het môre geword en dit was ’n werksdag. “God het die lig toe ‘dag’ genoem, en die donker het Hy ‘nag’ genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag” (Genesis 1:5).

Met ander woorde, God het nie net op die sewende dag ‘gerus’ van sy skeppingswerk nie. Hy werk en rus op elkeen van die skeppingsdae. Hy het elke dag klaar geskep wat Hy wou en daarom gerus.

God maak die mens na sy Beeld

Tog stop God nie hier met sy werk nie. Ons hoor in Genesis die merkwaardige openbaring van stof wat gevorm word tot ’n mens. Die skepping van die mens word anders as die res van die skepping bekendgestel met ’n persoonlike uitdrukking “Laat ons … na ons beeld… ons gelykenis maak” (Genesis 1:26). Daar is nog niks wat sy gelykenis het nie. Kom Ons maak na alles, die skepsel wie se doel ons beeldskap is en ons gelykenis is. Beide man en vrou word as die Beeld van God geskep.

Mense is gemaak om te werk

Die beeldskap van God is om te kan doen wat God doen. Die mens kan deelneem in die skepping en werk in dieselfde lyn waarop God werk. Ons is gemaak om te werk. Nie om uit niks te skep nie, maar om te omskep en te werk met dit wat God aan hulle gee om mee te werk.

God begin skep deur die aarde te orden en te vul. Hy skep twee geslagte na sy Beeld om te werk en voort te werk aan wat Hy geskep het. God seën hulle en gee aan hulle die opdrag om vrugbaar te wees, baie te word en die aarde te bewerk. God plaas die mens in die tuin saam met al die ander goeie dinge wat daar teenwoordig is. Mooi dinge vir die oog om na te kyk, kos, wandeling saam met God en werk.

Die mens se werk is nie ’n straf nie

So werk en hande-arbeid is nie ’n straf nie. Die werk van die mens is nie aan hom gegee sodat God nie hoef te werk nie. Die werk van die mens is nie gegee as ’n straf nie. Werk is vir die mens gegee as aanbidding. Om die beeldskap uit te leef is om God te aanbid.

Net soos die Here vir ons werk gee, weet gelowiges dat Hy rus ook gee. Nie net werk vir 24/7 nie. Gelowiges dra hulle beeld soos God is. Hulle doen ’n dag se werk en rus. Doen ses dae se werk en rus een dag, wetende dat God ook die werk moet seën vir enigiets om vrug te dra.


Verheerlik God deur jou werk én jou rus

En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Kolossense 3:17

Daar is dus ’n direkte verstaan van die evangelie en hoe jy die werk doen wat jy doen. Aan die een kant is daar die ongehoorsaamheid van geen werk nie, omdat jy God nie ken as ’n werkende God nie, en dat jy moet werk na sy Beeld nie.

Aan die ander kant is iemand wat nie ophou werk nie, want jy ken nie God as ’n God wat werk moet seën nie; jy verstaan nie dat God jou nie net geskape het om Hom alleenlik deur werk te verheerlik nie, maar ook deur rus.

Onthou dan dat werk én rus van die Here af kom, en ons moet sy voorbeeld daarin volg. Ons moet ook onthou wat die Bybel ons in Kolossense 3:23-24 beveel: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.”


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui