Geld die sesde gebod in oorlogstyd?
Die Tien Gebooie sê duidelik dat Christene nie moord mag pleeg nie. Maar geld dit steeds as daar ’n oorlog is? Lees hier.
deur ds Daniël Myburgh
Die Tien Gebooie is vir die meeste van ons baie bekend. Baie van ons ken dit byna uit ons koppe uit, aangesien ons dit élke Sondag in die erediens hoor. In die Sesde Gebod sê die Here duidelik: “Jy mag nie moord pleeg nie”. Hoe is dit dan moontlik dat daar steeds mense is wat “ter wille van hulle geloof” oorlog voer en moord pleeg?
God gee lewe, en God neem lewe
Vanuit die Bybel is dit duidelik dat dit Gód is wat aan die mens lewe gee, en dat dit ook Hy is wat lewe neem (vergelyk o.a. Job 1:21; Gen. 1:26; Ps. 104:29, 30). Geen mens het dan die reg om sy/haar medemens se lewe te neem nie – tensy dit ’n duidelike opdrag van God is.
Vanuit die Bybel is dit duidelik dat die Here van ons verwag om ons medemens lief te hê en te besef dat húlle – net soos óns – na die beeld van God gemaak is (Gen. 1:26; 9: 6). Iemand wat dus ’n ander persoon opsétlik doodmaak, is nie nét in stryd met die land se wette nie, maar óók in stryd met God se Wet (vergelyk ook Matt. 19:35-40).
Mag ons deelneem aan oorlog?
Maar hoe maak ’n mens dan wanneer daar oorlog uitbreek? Is dit enigsins reg om aan ’n oorlog deel te neem? Gelowiges het elke nou en dan met hierdie tipe vrae te doen, aangesien oorlog iets is wat so oud soos die mensdom is.
Die drie verskillende sienings oor oorlog
In kort is daar drie sienings onder Christene rakende oorlog. Daar is dié mense wat meen dat oorlog áltyd – onder alle omstandighede – rég is. Dan is daar dié mense wie meen dat oorlog nooit regverdigbaar is nie. En dan is daar natuurlik ook diegene wie meen dat ’n mens net sóms aan ’n oorlog mag deelneem.
1. Aktivisme: “Oorlog is altyd reg”
Die eerste argument word “aktivisme” genoem. Hierdie mense sê (terég) dat God die Owerheid/Regering daargestel het en dat gelowiges dan onderdanig aan die regering behoort te wees (vergelyk o.a. Matt. 22: 21; 1 Pet. 2: 13, 14; Rom. 13). “Maak nie saak wát die regering dan van ’n mens vra en verwag nie – ’n mens móét dit doen”, sal hierdie mense redeneer. Indien die regering dan oorlog verklaar en van die land se burgers verwag om aan hierdie oorlog deel te neem, móét ’n mens gehoorsaam wees.
2. Pasifisme: “Oorlog is nooit reg nie”
’n Tweede argument word “pasifisme” genoem. Hierdie gelowiges meen dat ’n mens nooit aan ’n oorlog mag deelneem nie, aangesien God dit duidelik in sy Wet maak dat ’n mens nie iemand anders mag doodmaak nie. Om moord te pleeg sal dan áltyd verkeerd wees.
Hulle hou aan Skrifgedeeltes soos Matteus 5:44 vas waar Jesus sê dat ’n mens selfs jou vyande moet liefhê en dat jy vir dié mense wat jou vervolg behoort te bid. Of Romeine 12:19 en 21 wat sê: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
3. Selektivisme: “Oorlog is soms reg”
Die derde argument word “selektivisme” genoem. Dit is wanneer Christene meen dat dit sóms reg is om aan ’n oorlog deel te neem, en ander kere nie. Hierdie argument kan gesien word as die “goue middeweg” rakende ’n gelowige se beskouing oor oorlog.
Die rede daarvoor is omdat beide aktivisme én pasifisme vanuit die Bybel begrond kan word. Wat gelowiges van hierdie laaste argument dan wil doen, is om ánder Bybeltekste óók in ag te neem en nie nét die Tekste wat spesifiek oor oorlogvoering handel nie.
Terwyl dit die waarheid is dat die regering deur God aangestel is om die kwaaddoener te straf en nie verniet die swaard dra nie (Rom. 13:4), is dit óók waar dat ’n gelowige sóms met die regering mag verskil. Skrifgedeeltes soos Eksodus 1:17, 20-21, Daniël 3 en 6 en Handelinge 4 en 5 maak dit aan ons duidelik dat daar van ons verwag word om eerder meer gehoorsaam aan God te wees as aan mense.
Dit gaan dus afhang van die omstandighede. Wanneer die regering bv. sy landsburgers die opdrag gee om aktief ’n ander land of volk te gaan aanval, dan mág ’n mens teen hulle rebeleer. Maar wanneer die regering van sy landsburgers verwag om die land bloot te beskerm teen aanvalle, dan behoort ’n gelowige dit te doen.
Soek altyd wysheid by God
Mag ons, as gelowiges, altyd by die Here gaan antwoorde soek wanneer ons dink en praat oor oorloë. Mag ons Hom smeek vir wysheid sodat die Heilige Gees ons in hierdie moeilike vraagstuk sal lei. En mag ons altyd meer ontsag en respek vir God se opdragte hê as wat ons vir ander mense – selfs vir regerings – se opdragte het.