Is daar nog wonderwerke?

Deur dr. Albert Coetsee

Een gewilde vraag onder gelowiges is of wonderwerke vandag nog plaasvind. Die antwoorde wat mens op dié vraag kry verskil hemelsbreed van mekaar. Waar kom die verskil vandaan? Dit hang alles af van ons definisie van ’n wonderwerk. Daar is hoofsaaklik twee definisies vir wat mense met die woord wonderwerk bedoel: Die wye definisie en die nou een.


Die wye definisie

’n Wonderwerk verwys na enige bonatuurlike handeling van God in sy skepping.

As ek byvoorbeeld sonder ’n skrapie van ’n motorongeluk wegstap, is dit ’n wonderwerk. As God my gebede verhoor en iemand gesond maak, is dit ’n wonderwerk. As God deur die Heilige Gees in ’n sondaar se hart werk en hom tot bekering bring, is dit ’n wonderwerk. Volgens hierdie definisie is alles wat bonatuurlik gebeur, alles wat die natuurwette teengaan, ’n wonderwerk. Die teenoorgestelde is waar by die nou definisie: Daarvolgens is alle bonatuurlike handelinge van God nie wonderwerke nie. Die feit dat ek ’n motorongeluk oorleef of dat my gebede beantwoord word, is nie wonderwerke nie, maar deel van God se daaglikse versorging van sy kinders. Hierdie dinge kom ongetwyfeld van God af, maar dit word nie wonderwerke genoem nie.


Die nou definisie

Wonderwerke is daardie bonatuurlike handelinge van God in die Bybel waardeur Hy bevestig dat die boodskap wat verkondig is (byvoorbeeld deur die profete, Jesus of die apostels) van Hom afkomstig is (Eksodus 4:1-9; Hebreërs 2:1-4).

Dit beteken dat God deur sekere persone wonderwerke gedoen het om die waarheid van sy Woord te bevestig. “Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen” (Handelinge 14:3). Hierdie wonders was nooit ’n doel op hul eie nie, maar het gewys na Iemand anders en was bedoel om die waarheid te bevestig. Aangesien God se besondere openbaring met die voltooiing van die Nuwe Testament opgehou het, moet ons volgens hierdie definisie nie verwag om vandag nog wonderwerke te sien nie. Die einde van God se besondere openbaring impliseer die einde van wonderwerke as bevestiging van sy Woord.


Wie is reg?

Dit is interessant dat beide definisies glo dat God steeds aktief in sy skepping werk; beide glo dat God gebede beantwoord; en beide is daarvan oortuig dat God elke dag gelowiges lei en beskerm, maar nie albei definieer God se werk in die skepping, sy beantwoording van gebede of sy leiding en beskerming as wonderwerke nie. Nou watter definisie is korrek? Beide. Dit hang af wat jy met ’n wonderwerk bedoel. As jy dus weer met iemand in gesprek is oor die vraag of wonderwerke vandag nog plaasvind, maak seker julle verstaan mekaar se definisies van wat julle as wonderwerke beskou. Wanneer die man op straat van ’n wonderwerk praat gebruik hy gewoonlik die woord soos gedefinieer onder die wye definisie daarvan. Gelowiges beskou wonderwerke dus meermale as God se bonatuurlike handelinge in die skepping en in hul lewens. Gebeur wonderwerke vandag nog? As jy wonderwerke verstaan as God se bonatuurlike handelinge in sy skepping, as sy bonatuurlike beskerming en bewaring en as sy beantwoording van jou gebede, is die antwoord sonder twyfel “Ja!”

Doen hierdie Bybelstudie om wonderwerke in die Bybel beter te verstaan.

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui