Hoop in Sentraal-Asië
Wanneer die Woord van God gelees word kom mense tot geloof.
deur Geopende Deure
Vasiliy*, ’n 50 jarige dominee van ’n Protestante kerk in Sentraal-Asië, het besef hoe ernstig die probleme wat die beperkinge veroorsaak het, vir sy gemeente is. Hy het besef dat Protestante gelowiges na Rusland of die Oekraïne sou moes reis om goeie Christenliteratuur te bekom. Daarna sou hulle die risiko moes neem om hierdie boeke deur die doeane te smokkel. “Vader, hoe kan ek help?” het Vasiliy eendag gebid. God het sy gebed verhoor en aan hom gewys hoe hy die Kerk in Sentraal-Asië kan dien. Deur een van sy vriende, ’n Geopende Deure-vennoot, het Vasiliy betrokke geraak by die verspreiding van Christenliteratuur onder kerke in Sentraal-Asië.
Onwettig!
Soenni-Islam en die Russiese Ortodokse Kerk word as die enigste tradisionele gelowe van Sentraal-Asië erken. Alle ander godsdienstige denominasies word as onwettig geag of is onderworpe aan ernstige teistering. In die aanslag op nie-tradisionele godsdiensgroepe, het die regering van een Sentraal-Asiese staat die druk en invoer van Protestante Christenliteratuur verban. ’n Tydskrif soos Kruispad, sal daarom onwettig wees in hierdie staat. Die land het geen amptelike, geregistreerde Christenboekwinkels buiten die Russies Ortodokse Kerk se boekwinkels nie, wat kerse, simbole en ortodokse gebedshandleidings verkoop. Ander Sentraal-Asiese lande het soortgelyke beperkinge.
Die hoop wat God se Woord bring
Vasiliy het onlangs ’n groot aflewering aan ’n leier van een van die Protestante kerke gemaak. Dominee Alexander* was baie bly om vir Vasiliy te sien, omdat hy geweet het dat hy nie met leë hande sou terugkeer na sy gemeente nie. “In ons land is daar geen fundamentele Christenonderrig nie,” het Alexander aan Geopende Deure vertel. “Mense lees boeke deur ongeskoolde skrywers. Dit is waarom daar so baie probleme in die Kerk is, waarom verskille en argumente tot kerkskeuring lei. Die boeke wat Vasiliy aflewer verenig God se kinders in die geloof en genade van Christus.
“Ek kan nie in woorde uitdruk hoe baie ons die hulp aan die kerk in ons land waardeer nie! Almal wat die boeke, wat deur Geopende Deure en dominee Vasiliy voorsien word, lees, ondergaan verandering en word ywerige volgelinge van Christus. Hulle ontvang vertroosting en bemoediging om selfs te midde van moeilike omstandighede in geloof te leef. Ek is so dankbaar teenoor die Here vir hulle en hul werk!”
Vasiliy vertel: “Elke keer wanneer ek boeke onder kerke versprei, dink ek daaraan dat elke boek een meer siel na die Here kan lei. Dankie aan ons vennote wat ons bediening so seën deurdat hulle dit moontlik maak om meer mense met die Evangelie in Sentraal-Asië te bereik, en hulle na God toe te lei.”
’n Boodskap van liefde en vergifnis
Asel*, ’n 39 jarige Christen is soos Vasiliy vreesloos in haar bediening en het haar lewe gewy daaraan om die Evangelie te bring aan weeskinders. Deur haar vennootskap met Geopende Deure word Asel in staat gestel om God se Woord te bring aan diegene wat weerloos gelaat is deur die afsterwe van een of albei van hul ouers. “Ek werk reeds agt jaar met weeskinders in die tronk,” sê Asel. “Deur die loop van hierdie agt jaar het ek honderde hartseer verhale teëgekom. Die lewens van weeskinders is verwarrend en ontmoedigend. Na jare in weeshuise, wend hierdie kinders hulle na ’n lewe van misdaad. Baie beland in die tronk. Na hul tronkstraf keer hulle weer terug na ’n lewe van misdaad. Dit is ’n bose kringloop.”
Asel besoek weeskinders in die tronk en bemoedig hulle met Christenliteratuur. Sy getuig dat lewens voor haar oë verander. Sy het die geleentheid gehad om Munira* te bedien, wat tronkstraf uitdien vir moord. Munira het belangstelling begin toon in die Evangelie. “Sy het my gevra om vir haar ’n paar Christenboeke te bring,” sê Asel. Asel het vir haar drie boeke gegee en tot haar verbasing het Munira al drie boeke geneem. “Ek het nie verwag dat sy hulle sal lees nie, maar sy het al drie gelees!”
God se Woord bewerkstellig wonderwerke
Drie weke later het Munira, Asel weer genader. Sy was in trane en het Asel omhels en in haar oor gefluister: “Voorheen het ek in haat gelewe. Ek was kwaad vir my ouers wat my gelos het toe ek net ’n baba was. Ek was kwaad vir die werkers in die weeshuis, vir my klasmaats en vir die wêreld. Nadat ek die boeke gelees het wat jy vir my gegee het, het ek geleer oor God se liefde vir sondaars en nadat ek jou liefde vir my beleef het, het ek besef waarom jy so gaaf is. Jy het ’n liefdevolle God. Ek wil nie die bose persoon wees wat ek voorheen was nie. Ek wil liefdevol en vergewingsgesind wees, soos Christus ons leer om te wees.”
Asel kon saam met Munira bid en sy het Jesus as haar Koning en Saligmaker aanvaar. Hoewel sy nog twee jaar se tronkstraf moet uitdien, sal Asel haar gereeld besoek en haar die fundamentele waarhede van Christenskap leer en haar van Christenliteratuur voorsien. “Ons is so dankbaar dat Geopende Deure ons met sulke wonderlike hulpbronne voorsien. Dit is nie elke dag dat so ’n getuienis in die tronk gevind word nie,” sê Asel met trane in haar oë.
Bid saam met Geopende Deure-ondersteuners wêreldwyd:
- Bid vir gelowiges in Sentraal-Asië wat deur die staat en Islamitiese ekstremiste vervolg word.
- Bid dat elke gelowige met ’n honger en dors na die Woord van God ’n Bybel sal ontvang deur die werk van Geopende Deure en ander Bybelverspreidingsorganisasies.
- Bid dat meer mense, soos Munira, wat gebuk gaan onder die las van sonde, deur die bloed van Christus bevry sal word en vrede in ’n verhouding met die Allerhoogste sal vind.
Vir meer inligting besoek Geopende Deure se webblad by www.opendoors.org.za, volg hulle op Facebook (Open Doors South Africa) of Twitter (@opendoorssa). As jy betrokke wil raak SMS jou naam en Kruispad na 44641 of stuur ’n e-pos aan southafrica@od.org.
*Name verander weens sekuriteitsredes