Gratis Christelike tydskrifte
Jy kan hierdie skakels gebruik om oulike tydskrifte of artikels te gaan lees.
Vertical Thought is ’n gratis internettydskrif wat daarna strewe om relevante inhoud vir tieners te bied wat hulle kan help om ’n Goddelike lewe te ontdek en te volg. Volgens die webblad is vertikale denke ’n uitdaging wat die Here aan elkeen van ons gee. Al is ons as mense nou tydelike, vlees-en-bloed-wesens word ons as Christene bemagtig om die “dinge te soek wat daarbo is,” en om ons “gedagtes te rig op die dinge daarbo,” (Kolossense 3:1-2).
Vertical thought is nie net daar om jou te help om die dinge daarbo te oordink nie, maar ook om die dinge wat die belangrikste in die lewe is uit te leef. Jy kan hierdie gedagtes toepas in jou lewe. Onthou: wat jy in jou hart bedink, so is jy (Spreuke 23:7).
Die Youth Messenger is die jeugtydskrif van die Free Church of North America. Jy kan die volledige tydskrif in pdf-formaat gratis aflaai. Ons het veral van die Bybelstudies gehou en daar is gelukkig ’n paar in elke uitgawe. Die tydskrif verskyn twee keer per jaar. Gaan lees gerus hierdie oulike tydskrif.
’n Christelike jeugblad met gratis oordenkings, fliekresensies en video’s. Lees artikels oor onderwerpe soos tienerkwellinge, die Bybel, popsterre, teologie en meer. Nie al die artikels is saamgestel volgens ons gereformeerde belydenis nie, so gebruik jou eie diskresie.
Hierdie tydskrif word maandeliks uitgegee deur die OPC (www.opc.org). Jy kan New Horizons ook gratis lees. Hulle het ook’n afdeling met weeklikse vrae en antwoorde wat interessant is om na te gaan. Klik gerus ook op die skakel van Home Missions. Hier is baie lekker leesstof.
Christelijke Gereformeerde Kerke in Nederland (CGK) het die oulikste webblad en aktiwiteite wat hulle vir hul jongmense reël. Jy kry hulle jeug se webblad by www.lcj.nl/lcj. Hulle het ook ’n tydskrif met die naam LCJ magazine. Die tema wat behandel word verskyn groot op die voorblad. Jy kan hierdie tydskrif op Issuu gaan lees en sommer jou Nederlands lekker opskerp.