Beste vriende vir altyd

Deur Anel Potgieter

Wil jy weet hoe om ’n ware vriend te wees? Volg Jesus se voorbeeld.

Al ooit gewonder waarom ’n vriendskap nie die toets van die tyd deurstaan het nie? “My vriendin het my hartsgeheime met iemand anders gedeel, sy het my vertroue geskend.” Ons almal ken die seer wat vriende jou kan aandoen. Die persone wat die naaste aan jou is, kan jou die seerste maak. Wanneer die eienskappe van ware Christenvriendskap in ons vriendskappe ontbreek, word groot seer en ontnugtering veroorsaak.
Tog kan ons nie sonder vriende deur die lewe gaan nie. Sonder vriende is ons eensaam, en selfs ankerloos. Die geheim is om die regte vriende uit te soek om jou hart aan toe te vertrou. Jy moet natuurlik self ’n ware vriend wees!


Eienskappe van ware vriende

Vra jy vir mense om die eienskappe van ware vriende op te noem, dink hulle aan woorde soos eerlikheid, respek, liefde, lojaliteit, ondersteuning, betroubaarheid en aanmoediging. Ek het gewonder of dit moontlik sou wees om aan die hand van die Bybel die eienskappe van Christenvriende meer konkreet op te som. Die Bybel gee vir ons Jesus as voorbeeld van ’n ware Vriend, en dit is wat ek oor Hom ontdek het:

Onvoorwaardelike liefde
Jesus het ons onvoorwaardelik lief, ons hoef dit nooit te verdien nie. Daarby is sy liefde vir ons vol opofferings, en nooit selfsugtig nie. Hy het sy liefde deur sy wonderwerke gedemonstreer, deur die nederige was van sy dissipels se voete, en uiteindelik deur sý lewe vir ons aan die kruis af te lê. Volgens Johannes 15:13, het niemand groter liefde as dit nie. As ons net ’n klein bietjie van hierdie liefde in ons aardse vrienskappe vir mekaar het, sal die wêreld verseker ’n beter plek wees.

Onwankelbare steun
Die Bybel noem Jesus ons Rots. Omdat Hy stewig staan, kan ons ook op die Rots staan wanneer dinge in ons lewens wankel. Hierdie tipe ondersteuning is ook wat ware vriende van blote kennisse onderskei. Dis juis wanneer ons nie meer self kan regop bly nie, dat ons ware vriende soos rotse onder ons bly staan, al verlaat soveel ander ons. Jesus het hierdie verlatenheid geken: toe Hy hulle die nodigste gehad het, het al sy dissipels Hom verlaat.

Bereid om jou uit te daag
Hoewel ’n ware vriend jou onvoorwaardelik met jou foute aanvaar, daag hy of sy jou ook uit om te verbeter. Jesus draai nie doekies om nie, Hy konfronteer ons altyd met ons sonde, en daag ons uit om dit te beveg. Soms is ’n vriend se brutale eerlikheid (al maak dit seer), dit wat hom van ander onderskei wat jou op jou pad van selfvernietiging los. In Spreuke 27:17 staan “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.” Christenvriende bou mekaar op en help mekaar om meer bruikbaar vir God te word.

Standvastig oor tyd heen
Hebreërs 13:8 sê: “Jesus Christus is dieselfde gister, vandag en vir ewig.” Hy verander nie. In ons wêreld waar alles relatief geword het, en niks meer vas en seker is nie is ware Christenvriende vir ons ’n anker. ’n Ware vriend se liefde, integriteit, betroubaarheid en ondersteuning verander nie saam met afstand of omstandighede nie. In ons wêreld vandag kan die konstantheid van ’n vriend van onskatbare waarde wees.

Toon vergiffenis
Ware vriende is bereid om mekaar se foute te vergewe, en in liefde op te tree selfs al verdien die ander party dit nie. Jesus het selfs aan die kruis vir sy vriend (en vyande) gebid, al het hulle die ondenkbare gedoen. Dit is slegs wanneer ons aan mekaar genade bewys dat ons vriendskap die toets van die tyd sal deurstaan.


God gee aan ons vriende om ons lewens te help vol maak. As jy dus weer wonder of dit die moeite werd is om in ’n vriendskap te belê – toets jul verbintenis aan hierdie eienskappe. Jy mag vind dat jy geseën word met ’n besondere vriendskap, of jy mag besluit dat dit tyd is om aan te beweeg.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui