Stel ’n prioriteitslys op

’n Prioriteitslys kan jou help om jou lewe ten volle te geniet.

Deur Johannes Schickerling

Die nuwe jaar en ons voornemens

Die koms van ’n nuwe jaar maak dat almal rondom jou wil weet wat jou voornemens vir die jaar is. Gewig verloor, meer kerk toe gaan, minder vloek, beter presteer, mooier lyk, lekkerder eet, daar is baie om van te kies. Ongelukkig gebeur dit so maklik dat jy volgende jaar weer op presies dieselfde plek begin. Nuwejaarsvoornemens eindig te dikwels in skuldgevoel, mislukking of depressie. Hoe kan jy jou voornemens ’n werklikheid maak? Begin deur jou prioriteite agter mekaar te kry.

Herinner jouself
Baie mense het wense wat nooit vervul word nie. Waarom? Hulle is lui, bid nie hard genoeg nie, werk nie hard genoeg nie, of het nie selfdissipline nie … Nee! Hulle vergeet. Ons almal vergeet wat ons doelwitte is en hoekom ons hulle wil bereik. Dan eet ons maar twee stukke koek op, druk Wikipedia-projekte uit, vloek die taxi en slaap in kerktyd. Ons moet leer om te onthou. Dit doen mens deur ’n prioriteitslys op te stel.

Maak die regte keuses
Die hoofdoel van ’n prioriteitslys is om jou te help om keuses te maak. Elke dag is met keuses belaai wat gevolge vir jou en die mense om jou het. Gaan ek nou opstaan of snooze? Gaan ek kerk toe of laat slaap? Gaan ek klas toe of bunk? Gaan ek ’n sigaret rook of nie? Swem of huiswerk doen? Kuier of leer? Alles keuses. Daar is ook jou betrokkenheid by jou kerk, koshuis of skool. Waaraan gaan jy alles deur die jaar deelneem? Wanneer jou prioriteitslys opgestel is, word die keuses makliker en kan jy ook die haatlike skuldgevoel omseil.


Só maak jy ’n prioriteitslys

  1. Skryf alles neer wat jy dié jaar wil doen. En ek bedoel alles! Swot, werk, kuier, kerk, oefen, familietyd, jol, vriendelik wees, sing, boks, eet. Alles.
  2. Gee aan elke item ’n nommer: 1 is die belangrikste en 100 is glad nie belangrik nie.
  3. Dink aan die langtermyngevolge. Indien jy vashaak, vra jouself: Watter een gaan die beste langtermyngevolge vir my hê? Byvoorbeeld: Leer of kuier? Kuier is ’n onmiddellike bevrediging van jou behoeftes, maar leer gaan jou meer help as jy ’n dokter wil word. Dus, eers leer, dan kuier.
  4. Wil ander dit hê of wil jy dit hê? Indien jy met 2 en 3 vas-haak, plaas dan wat jy wil hê bo dit wat ander van jou wil hê.
  5. Maak seker jou lys het items op waarvan jy hou. Jy wil juis moontlike skuldgevoelens vermy. Maak dus seker dat jou sanglesse bo-aan die lys is.
  6. Bespreek die lys met iemand wat jou ken. Kyk dan of hulle dink die lys gaan jou gelukkig maak.
  7. Pas die lys in jou daaglikse lewe toe. Byvoorbeeld: Leer of kerk toe gaan? Gaan eerder kerk toe en leer later sonder enige skuldgevoelens, want dan kan jy met vrymoedigheid die Here vra om jou in die eksamen te seën.

Uit die Bybel

In die Bybel is daar baie riglyne om jou te help om jou prioriteite te bepaal:

  • Matteus 6:33
    beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
  • Romeine 12:2
    Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
  • Deuteronomium 6:5
    Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
  • Filippense 4:6,7
    Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
  • Psalm 37:4
    Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui