Slim wenke om te spaar
Deur Engela Bischoff
Volg hierdie maklike wenke elke dag om geld te spaar.
Hierdie wenke is nie te moeilik om te volg nie. Dit is eenvoudige stappe wat jy in jou alledaagse lewe kan inwerk. Deur mooi te dink voor jy sommer net iets koop, hoef jy nie ’n wonderwerk te wagte te wees om ’n paar rand ekstra teen die einde van die maand te hê nie!
Los jou beursie by die huis.
As jy weet jy hoef nie deur die dag iets spesifiek te koop nie, los jou beursie tuis. Haal net die nodige goedjies, soos jou bestuurslisensie of studentekaart uit. Sou jy dan in die versoeking kom om al weer iets te koop waarvoor jy nie eintlik geld het nie, het jy eenvoudig nie die geld daarvoor nie.
Leer om “nee” te sê.
Ek is seker jy kan aan ’n hele klomp dinge dink wat jy gekoop het, maar waarsonder jy net so goed kan klaarkom of wat jy na die tyd besef het eintlik nie nodig was nie. As ’n mens nie impulsief is nie en ’n week of wat wag voor jy iets koop, veral as dit ’n groter, duurder ding is, kan jy ’n objektiewe opinie daaroor vorm. Besluit dan of dit dan nog werklik nodig is om dit te koop.
Drink meer water.
Behalwe dat ’n mens in elk geval elke dag omtrent 2 liter water moet inneem, is dit baie goedkoper as koeldrank of koffie.
Koop winskopies na die vakansie.
Na vakansiedae soos Kersfees en Paasfees het winkels dikwels uitverkopings om van die laaste voorraad ontslae te raak. Dit is wanneer jy al die winskopies moet opraap.
Skryf ’n inkopielysie.
Jou ma doen dit nie verniet elke keer as sy winkel toe gaan nie. So sorg jy dat jy nie onnodige goed koop nie. Hierdie tegniek vereis ook selfbeheersing: jy moet by die lysie kan bly. ’n Wenk om daarby te hou, is om net ongeveer die regte bedrag vir die inkopies saam te vat plus ’n paar rand vir die wis en onwis. Om met honderde rande ekstra in jou beursie na ’n winkel te gaan, is ’n resep om te veel te spandeer.