Geniet jou lewe in die Here

Wil jy elke dag ten volle geniet? Die Bybel sê jy moet!

Deur dr. Albert Coetsee


Fokusvers: Prediker 11:9-10

Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen. Ook die jeug en die jonkheid kom tot niks. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.


Dwarsdeur die Bybel leer ons dat God ons geskep het om Hom in alles te verheerlik. Prediker fokus op een spesifieke manier waarop ons dit doen: wanneer ons, ons lewens in die Here geniet!

  1. Lees die volgende gedeeltes: Prediker 2:24-25, 3:12-13, 3:22, 5:17-19, 8:15 en 9:7-10. Wat word ons in al sewe skrifgedeeltes in die boek Prediker beveel?
  2. Wat is jou eerste indruk as jy hierdie herhalende opdrag hoor? Hoekom kan hierdie opdrag sommige mense moontlik onrustig maak?
  3. Wie word telkens as die Gewer van alle gawes in Prediker aangedui? Wat lei ons hieruit af oor die genieting van die lewe?
  4. Wat leer ons uit die spesifieke dinge wat die Here ons beveel om te geniet in Prediker 9:7-10?
  5. Lees weer Prediker 11:9-10. Watter wonderlike opdrag word hier aan jongmense gegee?
  6. Wat leer die Here ons hieruit oor heeltyd uitstel om sekere dinge in die lewe te geniet?
  7. Watter beperkings gee die Here aan jongmense ten opsigte van die genieting van die lewe?
  8. Hoe help hierdie beperkings ons om werklik die lewe te geniet?
  9. Wat beteken dit prakties om kommer uit jou hart te hou en te vermy wat jou liggaam kwaad kan doen?
  10. Beoordeel die volgende stelling: “Ons is slegs in staat om werklik die lewe as ’n gawe van die Here te geniet omdat Christus in ons plek vir ons sondes gesterf het.”
  11. Hoe verskil die Prediker se opdrag om die lewe te geniet van die destydse ongelowiges se slagspreuk: “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons”? Dit staan in Jesaja 22:13 en 1 Korintiërs 15:32.
  12. Wat sê die Here deur die Prediker vir ons wat gereeld ’n skeiding tussen ons alledaagse en godsdienstige lewens maak?
  13. Op watter wyse gaan jy die Here se opdrag gehoorsaam om die lewe in Hom te geniet? Dink aan vyf dinge wat jy kan doen om jou lewe in die Here te geniet.

Die Here leer ons deur die Prediker dat die genieting van die lewe en gehoorsaamheid aan Hom hand aan hand gaan. Ons alledaagse en godsdienstige lewens hang ten nouste saam. Ons verheerlik God wanneer ons ons lewens in Hom geniet!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui