Goeie gewoontes vir jou persoonlike stiltetyd

’n Roetine sal jou help om persoonlike stiltetyd te hou. Volg hierdie raad oor wanneer, hoe en waaroor jy stiltetyd kan doen.

deur ds. Werner Brotherton

Enige gelowige wat al kinders het weet dat een ding baie belangrik is: Roetine. As daar nie roetine en dissipline in die huis is nie, is daar chaos. So is dit ook met ons geloofslewe. Ons het ’n vaste roetine nodig sodat daar nie chaos in ons persoonlike Bybelstudie is nie. Om roetine te hê het ons beplanning nodig. In Lukas 14:28 en 29 sê Jesus iets oor beplanning:

Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? – sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaar kry nie.


Jou stiltetyd moet ’n roetine hê
Die woord roetine beteken: gewone, reëlmatige orde, gang van doen, gewone daaglikse pligte, gereelde volgorde van werk. Dit is presies wat ons persoonlike stiltetyd moet word. Iets gewoon, iets wat ons elke dag doen wat ons maklik mis as dit weg is. Dit moet ’n goeie gewoonte word!
So gaan dit met ons geloof. As ons nie beplan om te groei in geloof nie, gaan dit nie vanself gebeur nie. As ons nie God se Woord bestudeer nie, kry ons geen kennis van God nie en kan ons nie leer om op Hom te vertrou in moeilike tye nie. Die Woord bring vreugde in die hart van ’n gelowige. Spreuke praat baie dat die regverdige kennis verkry, en hierdie kennis maak van die gelowige ’n vrolike mens selfs in moeilike omstandighede. Klink dit nie lekker nie? Nou ja! Spring sommer dadelik weg en begin beplan waar jy jou persoonlike stiltetyd gaan inpas wanneer jy klaar hierdie artikel gelees het.


Goeie gewoontes in jou persoonlike stiltetyd

Ons kyk na drie onderafdelings om ’n goeie roetine in jou persoonlike stiltetyd aan te leer. Dié afdelings is wanneer, hoe en waarmee jy jou stiltetyd doen.

1. Roetine in wanneer jy persoonlike stiltetyd doen

Dit is nie altyd vir ons moontlik om te sê presies watter tyd ons persoonlike stiltetyd hou nie. Vir sommiges is dit heel moontlik en is dit goed om ’n tyd vas te maak. Jy kan dit selfs ’n afspraak noem. As jy ’n vaste tyd het vir stiltetyd en iemand wil iets reël in daardie tyd kan jy sê dat jy reeds ’n afspraak in dié tyd het.
Vir ander is dit weer goed om stiltetyd ná ’n sekere aktiwiteit te skeduleer. Dit is wel baie belangrik dat jy beplan wanneer jy gaan Bybelstudie doen, anders gebeur dit nie. Die lewe sluk ons eenvoudig te maklik in.

Indien jy jou persoonlike stiltetyd gemis het, vat ’n oomblik en beplan die res van jou dag van voor af en kyk waar jou stiltetyd inpas. Ons lewe in ’n wêreld waar ons roetines maklik omgegooi word.

2. Hoe jy persoonlike stiltetyd doen

Dit is goed om roetine te hê in hoe jy jou stiltetyd inrig. Waar doen jy dit? Het jy ’n spesifieke plek waar min afleidings is? Daar is nie ’n regte en verkeerde antwoord vir waar jy persoonlike stiltetyd doen nie, solank jou gedagtes nie dwaal daar waar jy dit doen nie.

Dit is daarom baie belangrik dat ons seker maak ons pas ons denke op. Die Satan is listig en sal ook wanneer ons stiltetyd hou ons aandag probeer aftrek. Daarom is dit goed om aan die begin en einde van jou stiltetyd te bid. Bid dat die Gees jou sal lei wanneer jy met God se Woord besig is. Bid dat Hy jou sal bewaar teen die aanslae van die Satan ook in jou persoonlike stiltetyd.

’n Goeie roetine kan wees:

  • Bid
  • Lees
  • Lees weer as jy nie alles verstaan nie, of om te verhoed dat jy iets mis
  • Oordink
  • Bid weer
3. Waarmee of waaroor hou jy persoonlike stiltetyd?

Daar is baie dagstukkieboekies besikbaar. Tog is dit nie die Woord van God nie, en kan dit nooit die Bybel vervang nie. Dit is belangrik dat jy primêr die Bybel gebruik. Dit is goed om eerder self te worstel met ’n Bybelgedeelte as om ’n boek te gebruik. Dagstukkies kan aanvullend wees en help wanneer ons sukkel, maar dan moet dit ’n betroubare persoon wees wat dit geskryf het. As jy nie weet waaroor om stiltetyd te doen nie, begin voor in die Bybel, of kies ’n Bybelboek soos Spreuke of die Psalms of een van die Evangelies.


Hou jý persoonlike stiltetyd?
Jy kan enige tyd met jou persoonlike stiltetyd begin as jy nog nie het nie. Onthou, die Bybel is die Woord van God. Daarom is dit belangrik om in ons daaglikse roetine plek te hê om God se Woord te hoor. As jy sy stem wil hoor, maak tyd, bid, lees en luister soos jy lees. Wanneer jy ’n roetine begin, gaan jy later agterkom daar kort iets wanneer iets onverwags gebeur het en jy nie by jou persoonlike stiltetyd kon uitkom nie. Baie sterkte en geniet ’n lewe wat gevul is met vreugde vanuit jou persoonlike stiltetyd!

Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. Ilona Oosthuizen sê:

    Baie dankie – insiggewend?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui