Vind raad vir algemene probleme met stiltetyd
Sukkel jy om stiltetyd te hou? Hier is vier algemene probleme wat jou stiltetyd kan belemmer, en hoe jy dié probleme kan oplos.
Stiltetyd is noodsaaklik as jy in jou verhouding met die Here wil groei. Soms sukkel ons egter om vol te hou daarmee. Óf ons voel ons het nie genoeg tyd daarvoor nie, óf ons aandag word afgetrek. Jy moenie moed opgee nie! Hier is raad vir die mees algemene probleme waarmee mense sukkel as dit by stiltetyd kom.
deur Jacques Killian
Die probleem van selfdissipline
Dis daardie dissipline om jouself in die oggend uit die bed te kry. Dis wanneer jou komberse met jou praat en vir jou sê: Komaan, lê nog net 5 minute! Hier is ’n paar wenke hoe om hierdie probleem te oorbrug:
- Gaan slaap betyds saans. As jy vroeër wil opstaan die volgende oggend, help dit om die aand vroeër te gaan slaap. Dit is nie goed om die kers aan beide kante te brand nie. “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap” (Psalm 127:2).
- Staan dadelik op wanneer jy wakker word. Die stryd word gewoonlik gewen binne die eerste paar sekondes. As jy eers gaan begin nadink hieroor, het jy reeds verloor.
- Wees bedag op stiltetyd-diewe, oftewel dinge wat jou wil ontneem van jou stiltetyd. Meeste hiervan het te make met die vorige aand. Die TV is sekerlik heel bo aan die lys.
- Gaan slaap met ’n Skrifgedeelte in jou gedagtes. Gaan slaap met die gesindheid van: “Ek sien U môre oggend, Here.” Vra die Here dat, wanneer jy wakker word, jy heel eerste aan Hom wil dink.
Die probleem van tye van droogte
Soms gebeur dit dat mense begin met stiltetyd, en voel dat hulle niks daaruit kry nie. Moenie jou stiltetyd meet aan hoe jy voel nie. Jou gevoelens is bedrieglik – dit kom en gaan. Moenie daarop staatmaak nie. As jy net gaan stiltetyd hou wanneer jy lus voel, gaan dit dalk bittermin gebeur. Natuurlik sal daar sommige kere wees wanneer ons nie baie bewus is van die Here se teenwoordigheid nie. Ander kere voel dit weer asof die hemel voor ons oopgaan. Moet dus nie verwag om met elke stiltetyd ’n ervaring met die Here te hê nie.
Lang tye van geestelike droogte in jou stiltetyd kan egter toe te skryf wees aan een van die volgende faktore:
- Ongehoorsaamheid. Nou praat ons van onbelyde sonde in jou lewe. Die Here sal jou nie iets nuuts wys, totdat jy nie doen wat Hy jou reeds tevore gewys het nie. As die Here vir jou drie maande tevore iets in die Woord gewys het en jy is steeds besig om met Hom hieroor te worstel, gaan Hy jou nie iets nuuts wys totdat jy Hom hierin gehoorsaam nie.
- Jou fisieke toestand. Miskien kry jy nie genoeg rus nie. As jy nie uitgerus is nie en halfpad aan die slaap voel, gaan jy nie veel kan saamneem uit jou stiltetyd nie. Inteendeel, daar is ’n sterk verband tussen die fisiese en die geestelike. Somtyds is die mees geestelike ding wat jy kan doen om die vorige aand vroeg te gaan slaap.
- Om té haastig te wees. Om deur jou stiltetyd te jaag met een oog op die horlosie gaan jou stiltetyd verongeluk. Mik na kwaliteit, nie na hoeveel jy kan doen nie!
- Verval in ’n groef. As jou stiltetyd ’n ritueel word, in plaas van ’n lewende verhouding, dan is dit dood! Die oomblik as dit wetties begin raak, instede daarvan dat jy daarna uitsien om die lewende God te ontmoet, is dit in gevaar. Dan word jou stiltetyd ’n gewoonte in die negatiewe sin van die woord. Word buigbaar! Pas jou roetine en jou plan aan, miskien selfs die plek waar jy stiltetyd hou. Verskeidenheid sal jou stiltetyd interessant hou.
- Om nie met ander te praat oor wat jy leer nie. Hoe meer ons uitgee, hoe meer ontvang ons juis terug. Begin om met ander te praat oor wat jy leer in jou stiltetyd en kyk wat gebeur.
Die probleem van konsentrasie
Hier het jy te make met gedagtes wat dwaal, geluide wat jou pla, té min slaap, swak lig en ’n miljoen ander dinge wat jy net nie uit jou kop kan kry nie! Hier is ’n paar voorstelle:
- Maak seker jy is heeltemal wakker. Gaan stort of doen oefeninge voor jy met jou stiltetyd begin.
- Lees en bid hardop.
- Loop terwyl jy bid. Jy sal nie sommer aan die slaap raak terwyl jy staan nie, so loop rond.
- Hou ’n notaboekie byderhand. As jy iets onthou wat jy nog daardie dag moet doen, skryf dit neer en gaan verder met jou stiltetyd aan.
Die probleem van mismoedigheid
Jou grootste uitdaging gaan wees om te hou by jou beplande stiltetyd. Die maklikste ding in die wêreld is om nie stiltetyd te hou nie, veral wanneer jou program baie besig begin raak. Om op te hou met stiltetyd is gewoonlik die heel eerste stap wat mense gee wanneer hulle geestelik terugval. Dis hoekom die Here Jesus aan die deur van ons harte klop en vra dat ons saam tyd spandeer (Openbaring 3:20). Wanneer jy ander geestelik wil help, kan jy hulle nooit verder neem as wat jy self reeds gevorder het nie. As jy nie self toelaat dat die Here elke dag inspraak gee in jou lewe nie, gaan jy niks hê om met ander mense te kan deel nie. Jy sal hulle nie kan help om te groei nie.
Hier is ’n paar praktiese voorstelle om jou te help:
- Maak ’n belofte aan die Here. Belowe om elke dag met Hom tyd te spandeer. Voordat jy dit doen, bereken egter eers die koste (Prediker 5:4-5). Kies om met die Here tyd te spandeer omdat jy weet dit is wat die Here begeer.
- Maak dit deel van jou weeklikse beplanning. Maak ’n vaste afspraak met die Here soos wat jy sou doen met ’n dokter of ’n besigheidsafspraak.
- Verwag dat die duiwel jou hierin gaan aanval. Besef dat die duiwel jou gaan probeer kelder in jou besluit.
- Maak jou Bybel die vorige aand reeds oop by die gedeelte wat jy graag die volgende oggend in jou stiltetyd wil lees. Wanneer jy dan die volgende oggend wakker word en jou oop Bybel sien, sal dit as groot aansporing dien om stiltetyd te hou.
As jy alles ondersoek het en jy steeds voel jy kry niks uit jou stiltetyd nie, praat met die Here hieroor. Wees bloot eerlik en erken dit teenoor Hom. Onthou jou verhouding met die Here het, net soos enige ander verhouding, drie dinge nodig om te kan groei: jy moet saam God tyd spandeer, jy moet met God praat, en jy moet die Here van elke area van jou lewe deel maak. As jy dit doen, sal jou verhouding met die Here oor die langtermyn verdiep. Moenie moed opgee nie. “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel” (Galasiërs 6:9).
Vir meer oor persoonlike stiltetyd kan jy die leesstuk, “Hoe om betekenisvolle stiltetyd te hou”, van Jacques Killian van die Bloemfontein Baptiste Kerk aflaai.