Die verskillende leesstof in die Bybel

Gebruik dié opsomming wanneer jy Bybel lees om jou met die boodskap van verskillende gedeeltes te help.
deur ds. Marco le Roux
Elke boek in die Bybel is uniek. In party boeke is daar vertellings, ander poësie en ander profesieë. Wat egter ooreenstem tussen al die verskillende soorte stof is dat God die hele Bybel gebruik om Homself aan ons te openbaar. Hy wil hê ons moet Hom ken en ons kan net die Bybel verstaan as Hy dit vir ons oopmaak.
In hierdie opsomming kyk ons na die verskillende soorte stof in die Ou en die Nuwe Testament. Jy kan dit as ’n vertrekpunt gebruik om die verskillende soorte stof in die Bybel beter te verstaan.
Onthou hierdie wanneer jy Bybel lees
- Aanvaar dat dit wat jy lees die Woord van God is.
- Bid om die leiding van die Heilige Gees sodat jy sal verstaan wat jy lees.
- Lees altyd ’n gedeelte in sy verband om dit reg te verstaan.
Ou Testament
Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium
Tipe stof en hooftrekke: Wet en Geskiedenis
Hierdie vyf boeke, bekend as die Pentateug, bevat die geskiedenis van Israel en dit wys hoe God wil hê sy kinders moet leef. Daar is wette wat vandag nog geld (byvoorbeeld Eksodus 20) en wette wat vervul is.
Vrae wat jy kan vra: Wie het geskep? Hoe kan ek die Here in my lewe eer? Wat leer al die wette my van wie God werklik is?
Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia en Ester
Tipe stof en hooftrekke: Geskiedenis
God stap ’n pad met sy kinders, sy volk. Hy wys ook dat Hy die hele wêreld regeer. Hy maak Homself in die geskiedenis bekend.
Vrae wat jy kan vra: Wat leer God van Homself deur die mense met wie Hy ’n pad stap? Hoe werk God in my lewe? Hoe wil Hy hê moet ek Hom ken en eer?
Job, Psalms, Spreuke, Prediker en Hooglied
Tipe stof en hooftrekke: Wysheid of gedigte (poësie)
Lewensbeginsels word in die wysheidboeke (Job, Spreuke, Prediker) vir ons uiteengesit. Hierdie wysheid kan ook in poësie geskryf word (Psalms, Hooglied). Hierdie boeke wys ook die eer en lof aan God en dat ons dit moet sing. Dit wys ook wat ons die diepste raak, wat in ons harte omgaan.
Vrae wat jy kan vra: Wat kan ek prakties in my lewe doen om die Here te eer? Watter raad moet ek nie volg nie? Dink byvoorbeeld aan die verkeerde raad van Job se vriende. Hoe sien ek God se werk in my lewe, selfs al gaan dit baie moeilik, of as dit baie goed gaan?
Jesaja, Jeremia, Klaagliedere, Esegiël en Daniël
Tipe stof en hooftrekke: Groot profete, profesie
Hierdie is profesieë wat oor die hele geskiedenis van Israel strek. Sommige hoofstukke van Esegiël en Daniël bevat ook stof wat oor die eindtyd gaan, net soos Openbaring. Profesie is om te troos en te waarsku. Dit wys dat God oor alles beskik en dat Hy ’n plan met sy kinders het. Ons lees ook profesieë in die lig van ons Here Jesus Christus.
Vrae wat jy kan vra: Wat leer God van Homself? Hoe waarsku God my? God se troos en liefde is ’n realiteit, ongeag van my situasie. Hoe vind ek troos in Christus as ek hierdie gedeeltes lees?
Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi
Tipe stof en hooftrekke: Klein profete, profesie
Ons noem hierdie die klein profete omdat die boeke korter is. Die boeke bevat dieselfde stof as die groot profete. Dit is in dié sin uniek dat dit baie kere die karakter het om mense terug te roep na God toe.
Vrae wat jy kan vra: Hoor ek God se roepstem duidelik? Besef ek dat Hy my roep tot gehoorsaamheid? Hoe sien ek God se hand in hierdie profesie?
Nuwe Testament
Matteus, Markus, Lukas, Johannes
Tipe stof en hooftrekke: Evangelies
Die woord evangelie beteken “goeie nuus” of “boodskap”. Hierdie woorde wys dat die boodskap goed is en dat dit nuus is, dit wil sê dit het werklik gebeur. Dit is die geskiedenis van Jesus Christus se lewe en werk hier op aarde. Die evangelies is elkeen uniek.
Vrae wat jy kan vra: Die evangelies wys vir ons wie Christus werklik is. Jy kan altyd vra: Wat leer ek van my Koning en Verlosser?
Handelinge
Tipe stof en hooftrekke: Vroeë kerkgeskiedenis
Hierdie Bybelboek wys vir ons hoe Jesus Christus sy kerk vestig en laat groei. Dit is die gebeure nadat Christus opgevaar het en die Heilige Gees ten volle uitgestort is.
Vrae wat jy kan vra: Besef dat Jesus Christus ons nooit laat vaar nie. Hoe laat God sy kerk groei? Hoe is ek deel van die plan? Sien ek God se liefde vir sy kinders raak?
Romeine, 1 en 2 Korintiërs, Galasiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense, 1 en 2 Tessalonisense, 1 en 2 Timoteus, Titus en Filemon
Tipe stof en hooftrekke: Paulus se briewe
Hierdie is briewe van Paulus en briewe word altyd aan iemand persoonlik geskryf. Hierdie briewe spoor aan en versterk die geloof. Dit verduidelik die verlossingsfeite van Christus en God se plan met ons, sy kerk. Hierdie briewe spoor ons ook aan tot die regte lewe en hoe ons moet leef.
Vrae wat jy kan vra: Hoe word ek verseker van my verlossing? Wat is God se doel en plan met ons? Hoe ken ek Hom?
Hebreërs, Jakobus, 1 en 2 Petrus, 1 tot 3 Johannes en Judas
Tipe stof en hooftrekke: Algemene briewe
Hierdie briewe word so genoem omdat dit briewe is wat nie deur Paulus geskryf is nie. Ons is onseker wie die skrywer van Hebreërs is. Die briewe stem baie met Paulus se briewe ooreen, dit verkondig ook die waarheid van God en sy liefde vir die gelowiges.
Vrae wat jy kan vra: Wat leer God van Homself en sy liefde? Waarvan moet ek verseker word en opgeskerp word?
Openbaring
Tipe stof en hooftrekke: Apokalips
Hierdie is ’n boek wat profeties oor die eindtyd verkondig. Apokalips beteken ook om “oop te maak”, dit wat onbekend was. Hierdie boek gebruik beelde, simbole en getalle. Die boek het ook patrone wat herhaal. Dit is om ons te troos en te wys dat ons Here regeer totdat Hy weer kom. Dit maak nie saak wat met ons as kerk gebeur nie, ons is getroos!
Vrae wat jy kan vra: Hoe regeer Christus in my lewe? Hoe ken ek die Here in elke situasie? Wat leer die boek my oor die simbole wat gebruik word? Watter ander dele in die Bybel help my om te verstaan wat moeilik lyk? Wat leer ek van God en waarin moet ek getroos wees?
Die opsomming is opgestel met behulp van LaHaye, 1976:48-54, Hoe om Bybelstudie te doen.