’n Goeie hart kom uit ’n ware geloof

Mense sê maklik iemand het ’n goeie hart as hulle reken dat die persoon graag aan ander mense goed doen. Maar wat beteken dit, en hoe kan jy ’n goeie hart hê?

deur ds. Dinant Zwemstra

Die Bybel leer dat “daar nie een is wat regverdig is nie, selfs nie een nie” (Romeine 3:10). Niemand het ’n goeie hart nie. Niemand is vanuit homself goedhartig nie. As gevolg van die sondeval het die mens sleg geword en is hy inderdaad tot niks goed in staat nie. Die mens word in sonde ontvang en gebore. Selfs Paulus skryf in Romeine 7 dat die goeie nie in hom woon nie, maar die slegte. Ons sien dit rondom ons, en as ons eerlik is met onsself, sien ons dit ook ín ons.

Kan jy sê dat jý net goed doen?
Ons kan nie staatmaak op een of ander innerlike goedheid van die mens nie. Dit beteken ’n goeie hart moet êrens anders vandaan kom. Daar moet iewers ’n skatkis wees waaruit ons die goeie kan gaan haal. Hierdie skat is Christus. Met ander woorde, iemand met ’n goeie hart, volgens Bybelse maatstawwe, is nie iemand wat net goeie goed doen nie, dis iemand wat deur die geloof in Jesus Christus in ’n verhouding met God lewe.


Hoe kry ek ’n goeie hart?

Ons kan ’n verkeerde idee hê van wat goed is. Soms meet ons goedheid aan wat iemand doen of nie doen nie. Die ryk jong man in Lukas 18 het ook so gedink. Hy het alles wat goed is gedoen. Al het hy die wet tot op die letter gehou, het Jesus hom ontmasker. Wat daardie jongman, en ons moet verstaan is dat goedhartigheid nie lê in wat ons doen nie, maar aan Wie ons verbind is. Jesus sê in Matteus 19:17 “Daar is net Een wat goed is.

Wat ons nodig het is ’n lewende verhouding met Christus, dit is daardeur wat ons deel kry aan God wat goed is.

’n Goeie hart kom van God af en is net moontlik waar die Heilige Gees mense se lewens herskep. Goedheid kom voor by mense wat onder beheer van die Gees lewe. ’n Totale herskepping is nodig voordat die mens goed kan word. Ons lewens moet deur die Heilige Gees omgekeer word. Deur geloof in Jesus Christus en oorgawe aan Hom kan jy ’n goeie hart hê. Jy moet in afhanklikheid van Hom lewe en sy verlossing jou eie maak.


Leef jou goeie hart uit

Soms is ons tevergeefs besig met die stryd om goed te lewe. Ons tekort lê daarin dat ons dink ons kan deur menslike pogings goed word. Ons kan slegs die stryd wen indien ons deur die Heilige Gees vervul word. Daar is verantwoordelikhede wat ons moet nakom omdat ons in Christus aan God verbind is en omdat die Heilige Gees in ons woon: Dit is om gehoorsaam aan God te lewe, om soos ’n Christen te lewe en om vrug te dra. God gee aan ons die opdrag om tot eer en verheerliking van Hom ’n goeie lewe te lei.

’n Goeie hart kan alleenlik vanuit ’n ware geloof kom. Jou hart kan net goed wees as jy tot eer van God en volgens sy wil leef. Gaan, en leef vir God. Leef die goeie hart, wat die Heilige Gees vir jou gee, uit.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui