’n Boom geplant vir die ewige God

Lees hier meer oor hoekom Abraham ’n tamariskboom geplant het – as bevestiging van die ewige God op wie se beloftes ons kan vertrou.

deur ds Philip Wepener


As ’n boom afgekap word en ons sien net die stomp wat agterbly, maak dit soms ons innerlik seer. Sommer dadelik begin ons te hoop dat die boom weer sal groei en nuwe takke en blare sal voortbring. Van kindsbeen af het ons opregte liefde en waardering vir ’n boom. Buiten boomklim of ’n boomhuis, verskaf ’n boom suurstof en ’n heerlike skaduwee. ’n Boom skep ’n gevoel van ruimte en vrolikheid. Vir elke kind en mens beteken ’n boom iets persoonlik. Dit kan iets wees soos hoop, lewe, geloofsgroei, standvastigheid of ’n toekomsverwagting.

Vir Abraham het die tamariskboom wat hy in Berseba geplant het iets vir hom persoonlik beteken (Genesis 21:33). Wat is so uniek aan hierdie boom? Kom ons grou en groei saam!

Abraham plant ’n tamariskboom in Berseba

en Abraham het ’n tamarisk by Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die ewige God, aangeroep.

Genesis 21:33

Met die eerste oogopslag kan dit lyk asof vers 33 ’n gewone stelsin is. Die skrywer van Genesis kon ook maar net sê dat Abraham ’n boom geplant het. Tog in fyner besonderhede vertel die skrywer die presiese tipe boom wat Abraham geplant het en die presiese plek waar hy dit gedoen het, naamlik ’n tamarisk in Berseba.

Interessant, ’n tamariskboom groei baie stadig. Om tot volle hoogte te groei (ongeveer 12 meter) kan amper 400 jaar neem. ’n Tamarisk is in staat om met min water op droë plekke en klipperige gronde (soos in ’n woestyn) te groei en te oorleef.

Boonop, plant Abraham die boom nadat ’n verdrag (ooreenkoms) met die Filistynse koning Abimeleg in Berseba gesluit is (Genesis 21:22-32). Berseba is in die Negevwoestyn geleë. Daar is nie veel in Berseba nie, behalwe waterputte, sand en klippe.

So waarom het Abraham hierdie tipe boom geplant wat so lank neem om te groei – en dit nog in die dorre Berseba? Was dit boomplantdag? Het Abraham dit gedoen sodat die boom eendag skaduwee vir reisigers en hulle diere kan gee? Nee, glad nie! Die antwoord is verbasend eenvoudig, maar terselfdertyd besonders wonderlik!

’n Simbool van die ewige God wat sy beloftes vervul

Abraham het die tamariskboom geplant as ’n gepaste simbool van God se getrouheid aan die verbond met hom. God het aan Abraham belowe dat Hy hom ’n groot nageslag sal gee en dat dié land (Kanaän) waarin hy woon aan sy nageslag behoort. God het onlangs Abraham geseën met ’n verbondskind – Isak (Genesis 21:1-8). Abraham en koning Abimeleg het tot ’n vreedsame ooreenkoms gekom oor ’n waterput in Berseba (Genesis 21:22-32), wat bevestig dat God dié land aan Abraham en sy nageslag gee.

Dit is egter nie al nie. Nadat Abraham die boom geplant het, het hy net daar die Naam van die HERE, die ewige God, aangeroep. Abraham erken God as die ewige God. Daarom plant hy ook die tamariskboom met die toekoms in gedagte! Al gaan hy nie lewe om te sien hoe sy nageslag dié land in besit neem nie, weet hy dat God daar sal wees wanneer dit gebeur.

Aangesien ’n tamariskboom amper 400 jaar neem om volledig te groei, kom hierdie verrassende gedagte by ons op! Ná 400 jaar, nadat Abraham die boom geplant het, wie kom deur die woestyn op pad na Kanaän nadat hulle uit Egipte bevry is? Abraham se nageslag, die Israeliete.

Abraham se tamarisk – nou ’n groot skaduboom met laaghangende takke – het dit bevestig! Die ewige God is getrou aan sy verbond; ja, die ewige God vervul sy beloftes!

’n Simbool van onwrikbare vertroue in die ewige God

Dit is duidelik dat na Abraham die tamariskboom geplant het, hy sterk vertroue in God gehad het. Abraham het self gesien met die geboorte van Isak en met die vreedsame ooreenkoms met Abimeleg, dat God volkome te vertrou is. (Let op Abraham se onmiddellike reaksie op God se opdrag in Genesis 22:3).

So ook kan ek en jy op God vertrou, met die wete dat Hy sy beloftes sal vervul (Numeri 23:19). Ons hoef nie vir een oomblik te twyfel nie, want al God se beloftes is die “ja” en “amen” in Christus (2 Korintiërs 1:20). Dit is vas en seker! God sal sy beloftes in vervulling laat gaan, onder andere:

  • God het ’n ewige genadeverbond met ons opgerig by ons doop. Hy het belowe dat Hy vir ewig ons God sal wees en dat Hy as ’n getroue Vader ons sal versorg en beskerm.
  • Die Heilige Gees wat in ons woon en werk verseker ons dat al God se beloftes wat nog uitstaande is, by ons Here Jesus Christus se wederkoms in vervulling sal gaan. Dink aan die heerlike belofte van die nuwe hemel en die nuwe aarde; die troosvolle belofte dat God al die trane van sy kinders se oë sal afdroog en die dat die dood, leed, smart en pyn nie meer daar sal wees nie (Openbaring 21:1-5).

Kyk met nuwe oë na ’n boom in die Bybel!

Die tamariskboom leer ons opnuut weer dat geen geïnspireerde vers in die Bybel oorgeslaan moet word nie. Volgende keer wanneer jy weer van die tamariskboom of van ander bome in die Bybel lees, onthou om vir ’n oomblik stil te word en die betekenis daarvan te oordink.

Geniet vanjaar se lentebloeisels – ’n sigbare teken en herinnering dat die ewige God sy beloftes aan jou en my sal vervul!

Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. Karen sê:

    n Boom groei hoog en wyd, wortels wyd en diep. So is God se liefde en werking vir ons ook. Bome dra ook vrugte en so moet ons ook vrugte dra met Christus as n ‘Boom’ in ons lewe geanker

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui