Werk met vreugde vir die Here
Ons wonder dikwels soos die Prediker waarom ons alles doen, as alles dan tevergeefs is. Maar Jesus Christus het alles nuut kom maak. Lees hier waarom jy moet werk.
deur ds. Werner Brotherton
Het jy al ooit gewonder waarom ons werk? Waarom staan ek elke oggend op, trek aan, eet ontbyt, gaan werk toe, kom huis toe, eet, bad, gaan slaap? Net om dit die volgende dag weer te doen! Dit word af en toe onderbreek deur ’n naweek of ’n vakansie, maar in beginsel bly dinge dieselfde. Die Prediker wys vir ons baie mooi dat die lewe om herhaling en roetine gaan. Kyk net na die skepping: “Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom. Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer” (Prediker 1:5-6).
Swoeg onder die son
Die boek Prediker klink amper heeltemal depressief. Waarom alles doen? “Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?” (Prediker 1:3, 1933-vertaling). Die verskil in ons vertalings is hier belangrik. Die ouer meer letterlike vertaling van 1933 het dikwels die frase “onder die son”, terwyl die 1983-vertaling dit vertaal met “in hierdie wêreld”.
Daar lê iets dieper in die frase “onder die son”. Dit het iets te doen met die vloek van die Here op die mens na die sondeval. In Genesis 3 hoor ons dat die Here die mens vervloek: “In die sweet van jou aangesig” sal jy brood verdien (Genesis 3:19). Ons kan amper hoor: onder die warm harde son sal jy werk en sorg vir jou gesin. Onder die son laat ons besef dat hier gepraat word van die mens onder God se vloek. Dit gaan dus nie hier oor die sekulêre wêreld wat nie met God rekening hou nie, maar oor die hele gevalle wêreld waar almal as sondaars onder God se vloek is.
Dit alles kom tot niks
Dit is so erg dat die Prediker uitroep: “Alles tevergeefs, … alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs” (Prediker 1:2, 1933-vertaling). Wanneer ons na die Hebreeus gaan kyk staan die woord tevergeefs ook anders. Daar staan eintlik die tevergeefse van die tevergeefse. Dit stem ooreen met ander frases soos: die Heilige van heiliges, God van die gode, Here van die here. Die tevergeefse van die tevergeefse.
Hoe maklik kan ons so voel oor ons werk? Ons kyk vas teen die vloek van Genesis 3. Dis dan wanneer ons werk tevergeefs voel en die lewe kort en bleek lyk, en ons wonder waarom ons werk.
Lees met Christus voor oë
Die boek Prediker kan in hierdie sin moeilik wees om te verstaan. Waarom is hierdie dinge vir ons opgeskryf? Wil die Here die mens moedeloos maak oor die wêreld? Wil die Here hê dat ons elke oggend opstaan en aan die tevergeefse werk dink? Dit gaan tog tot niks kom nie. Alle mens gaan eindelik dood soos Prediker 1:4 sê: “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.”
Dit is genadiglik nie die punt van die boek nie. Hier is eintlik ’n geweldige troos hierin, afhangende van die bril waarmee ons lees. As gelowiges lees ons tog die hele Bybel, Ou en Nuwe Testament met een bril: Christus. Hy is die vervulling van die Ou Testament.
In Lukas 24:44 sê ons Here Jesus: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die Psalms, vervul moet word.” Ons kan die hele Ou Testament met Christus voor oë lees. Die Ou Testament moet in Christus vervul word, en dit is. Hy het kom voldoen. Met Hom as ons bril kan ons die boek Prediker lees. Met Christus voor oë lees ons verder in Genesis 3. Na die vloek oor ons werk is daar nog geskryf in Genesis 3:15 dat daar ’n Mens sal kom om die kop van die slang te vermorsel. Daar sal Iemand kom wat die vloek van die sonde kom breek, ook die vloek oor ons werk.
Werk met vreugde vir die Here
Skielik is die lewe onder die son nie meer so bleek en kort nie, maar lewe deur die Seun is ewig en vreugdevol. Skielik maak ons werk vir ons sin. Ek kan elk oggend opstaan met die woorde van 1 Korintiërs 15:58: “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
Net so verander Paulus die hele prentjie van die groot tevergeefse. Ja die Ateïs sal nog dink alles is tevergeefs want dit kom tot niks. Maar, gelowiges het en kan nooit so uitkyk op die lewe hê nie. Gelowiges is nie rigtingloos nie. Ons het ’n roeping, elkeen in die Here. Ongeag van watter werk jy doen, jy is daartoe geroep en kan dit met vreugde doen, want dit is vir die Here. Ons weet wanneer Christus weer kom sal die vloek oor ons werk ten volle verbreek word, maar ons weet ook die vloek is in beginsel al gebreek. Die vloek is al gedeeltelik gebreek, want ons werk in die Here. Dit maak dat ons met alle ywer moet werk.
Christus het die vloek oor die werk kom verbreek. Die Heilige Gees verander ons van ou skepsels na nuwe skepsels. Óf jy kan opstaan met ’n opgeblaasde mond en negatief wees teenoor werk. Óf jy kan positief opstaan en weet dat jy jou werk vir die Here doen, in watter omstandighede jy jouself ook bevind.