Wat beteken die naam Christen?

In hierdie artikel kyk ons waar die naam Christen vandaan kom en waarom die Here Jesus Christus genoem word.
deur dr MJ du Plessis
Waar kom die naam Christen vandaan?
Die naam Christen is die eerste keer in Antiogië gebruik. Ons lees dit in Handelinge 11:26: “En hulle het ’n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ’n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem” (Handelinge 11:26, 1953-vertaling).
Die heidene het die mense wat tot bekering gekom het dié naam gegee om daarmee aan te dui dat dit mense is wat Christus volg. Hulle is dus vernoem na die Een wat hulle aanbid het. Die naam Christen was baie keer as ’n spotnaam gebruik. Vergelyk byvoorbeeld Agrippa se opmerking in Handelinge 26:28: “Agrippa sê toe vir Paulus: ‘Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ’n Christen maak.’”
Hy het baie spottend vir Paulus gesê dat hy hom byna beweeg om ’n Christen te word. Die 1953-vertaling beskryf dit so: “En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om ’n Christen te word.”
’n Voorbeeld in die Bybel waar die apostel Paulus die naam in heilige erns gebruik, kry ons in Romeine 16:7. Hy groet ’n klompie mense, maar die belangrike is dat hy aan die einde van die groet sê dat hierdie mense reeds voor my in Christus gewees het. Die 1983-vertaling vertaal dit effens anders, naamlik dat hulle voor my al Christene geword het.
- “Groet Andronícus en Júnias, my stamgenote en my medegevangenes, wat in aansien is onder die apostels en reeds voor my in Christus gewees het” (Romeine 16:7, 1953-vertaling).
- “Gee my groete ook aan Andronikus en Junias, my volksgenote wat saam met my in die gevangenis was; hulle is hoog aangeskrewe by die apostels en het voor my al Christene geword” (Romeine 16:7, 1983-vertaling).
Dit is in hierdie geval belangrik om die twee vertalings te vergelyk, omdat dit verduidelik wat dit beteken om ’n Christen te wees: Dit is om in Christus te wees; en dit beteken dat jy deel het aan die salwing van die Here Jesus.
Die mense wat as Christene bekendgestaan het, het dit nie maklik gehad nie. Die naam Christen was gehaat deur die gemeenskap, daarom het hulle hierdie mense skade aangedoen. Die samelewing het sy mes in gehad vir hulle. Daarom bemoedig die apostel Petrus die mense wat ly omdat hulle Christene is: “Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.” (1 Petrus 4:16, 1983-vertaling) Met die loop van die tyd het die naam Christen onder die gelowiges selfs ’n erenaam geword. Daarom kon Petrus die gelowiges bemoedig met die gedagte dat dit vir hulle ’n eer is om die naam Christen te dra.
Ons dra ook die naam van Christus – die Here Jesus Christus is ons almagtige God en Verlosser. Daarom noem ons onsself Christene.
Waarom is die Here Jesus Christus genoem?
Noudat ons weet dat Christene die Naam van Jesus Christus dra, wil mens weet waarom Jesus, die Seun van God, Christus genoem word.
Jesus Christus is amptelik deur God as Verlosser aangestel. Die naam Christus beteken dieselfde as die Hebreeuse woord Messias – al twee beteken Gesalfde.
In die baie vroeë jare was dit die gebruik dat iemand gesalf was wanneer hy bevestig is in sy diens. Dit was ’n eenvoudige seremonie: iemand het net ’n hoeveelheid olyfolie met lekkerruikmiddels in oor die persoon se kop uitgegooi, sodat dit deur sy hare en sy baard afgeloop het tot in sy klere in. Daar is baie voorbeelde hiervan in die Bybel.
Net so is Jesus gesalf (“gechristus”) in sy amp waarvoor God Hom gestuur het. Dit het openlik gebeur toe Hy gedoop is. Daar is Hy gesalf met die Heilige Gees om werkend die dood se mag oor dié wat Hom volg (Christene) uit te roei.
Dit is ook die verskil tussen die Here Jesus se salwing en al die ander salwings:
- In al die ander gevalle was die olie wat uitgegooi is die simbool van die Heilige Gees.
- Die Here Jesus is nie met ’n simbool gesalf nie. Hy is met die werklikheid – die Heilige Gees self – gesalf.
Ons lees in Efesiërs 4:1 die volgende: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” Elkeen van ons is deur God tot ’n bepaalde roeping geroep. Die inhoud van hierdie roeping is geloof in Christus: om Christene te wees. Dit is dieselfde as om gesalf te wees tot diens aan God. Ons is “gechristen” tot die geloof. Ons lewenswandel moet in ooreenstemming wees met die roeping wat ons van God ontvang het.