Hoe kan ek groei in my verhouding met die Here?

Hier is ses Bybelse noodsaaklikhede wat ons in ons lewe moet toepas om te groei in ons verhouding met die Here.


Die Here se verhouding met ons

As Christene, verstaan ons dat God die Een is wat deur die Heilige Gees die verhouding met ons begin het en dat “Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6, 1953-vertaling).

Ons verhouding met die Here

Ons is wel verantwoordelik om te groei in ons verhouding met die Here. Hieroor is die brief aan die Efesiërs ’n goeie voorbeeld. Die apostel wys hoe die Here Jesus ons uit die dood gered het en ons opgewek het om in ’n nuwe verhouding met Hom te lewe. Nou moet ons ook in die nuwe verhouding lééf! Ons lees hiervan in Efesiërs 4:22-24 (1953-vertaling):

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.


Wat is groei?
As ons praat van “groei in ons verhouding met die Here” beteken dit dat ons al hoe meer soos Jesus Christus moet word. Die Here wil hê ons moet groei en gee ons ook die manier om te groei. Wanneer ek weg van Christus af beweeg, dan groei ek nie, maar ek sterf. As ek ná Christus toe groei en sóós Christus word, dan lewe ek en word werklik volwasse in die geloof.


Ses Bybelse noodsaaklikhede om te groei in jou verhouding met God 

Hier is ses Bybelse noodsaaklikhede wat ons in ons lewe moet toepas om te groei in ons verhouding met die Here:

1. Groei kom deur gemeenskap
Wanneer die Here mense red, dan word jy deel van Sy Huisgesin. Jy is nie meer alleen nie. Die Here gee vir jou ’n familie, sodat jy kan groei in jou verhouding met Hom. Die Here maak dit duidelik dat ons ander gelowiges nodig het om te groei. As jy hierdie geloofsreis alleen wil aanpak, tree jy buite God se plan vir jou op. Groei kom deur gemeenskap: skakel in by ’n Bybelgetroue gemeente en gooi jou volle gewig daar in.
“ … Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan” (Hebreërs 10:24-25).

2. Groei deur die goeie te doen
Ons sal nie groei in ons verhouding met die Here as ons soos varke elke keer terugkeer na die modder nie. Die Here het ons aard verander en ons nuwe skepsels gemaak. Ons is skoongewas en ons harte is verander. Ons kan nou deur die Heilige Gees die sonde oorwin en besluit om daarvan weg te draai. As ons wil groei moet ons onsself daarop toespits om die goeie van God te dóén! Wees ’n gereedskapstuk van geregtigheid.
Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe! Dan sal die Here die almagtige God so by julle wees soos julle sê dat Hy is …” (Amos 5:14-15.)

3. Groei in gebed
Ons bid, want ons is swak en ons erken dit en het hulp nodig. Ons bid want ons weet die Heilige Gees gee groei in ons verhouding met die Here. Gebed, in sy eenvoudigste vorm is om tot die Here te roep: “Help my!” Ons sal nie groei in ons verhouding met die Here, as ons nie gedurig met Hom in gesprek is nie. Soos elke aardse verhouding, is ons verhouding met die Here ook ’n verhouding waar ons doelbewus met Hom moet kommunikeer. Die Heilige Gees sal jou hierin bystaan!
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Romeine 8:26).

4. Gee gehoor om te kan groei
In ons verhouding met die Here moet daar gereelde dialoog wees. Ons praat met Hom, maar Hy praat ook eers met ons. Deur gebed kan ons met die Here praat, maar wanneer ons die Bybel lees, dan is dit God wat met ons praat en ons moet gehoor gee. Begin ’n eenvoudige, daaglikse Bybelleesplan. Begin byvoorbeeld by die boek Johannes en, baie belangrik: lees om te luister! Lees om Jesus te leer ken en te groei in jou verstaan van wie Hy is.
“… en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timoteus 3:15-17).

5. Wees lief vir mense om te groei
Ons wil nie mense misbruik vir ons eie geestelike groei nie. Met ander woorde, hulle net liefhê omdat ek wil groei nie! Iemand wat geestelik volwasse is, is juis iemand wat al hoe meer gefokus is op ander en nie op homself nie. Om te groei en te word soos Jesus, beteken ons moet mense liefhê, soos Hy mense liefhet. As ons die Here liefhet, sal ons ook mense liefhê. Hierdie liefde begin by my eie naaste-verhoudings; my gesin en familie. Dit spoel dan ook oor na my gemeente, waar ek my broeders en susters in die geloof liefhet. My liefde stop ook nie daar nie, want ons moet die wêreld en selfs ons vyande liefhê. Hoe moet ek liefhê; hoe lyk die liefde? Soos die Here se liefde vir my. Weerkaats dit wat die Here vir jou doen na ander.
Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie …” (1 Johannes 4:19-21).

6. Groei kom met tyd
Klein kindertjies is opgewonde om gereeld te meet hoe groot hulle geword het. Hulle maak merkies teen die muur en vergelyk dit met die ou merkies. Opgewonde sien hulle dat hulle weer ’n sentimeter of twee langer geword het. Tog kom hierdie groei oor ’n tydperk. Ons groei nie meters op ’n slag nie, maar millimeters. So is dit met ons geestelike lewe en ons groei in ons verhouding met die Here. Opgewonde moet ons gereeld ons groei meet en toets of ons al hoe meer soos Jesus word. Ons moet wel besef dat hierdie groeiproses ’n lewenslange reis. Ons moet moedhou veral as ons nie so vinnig groei as wat ons gedink het nie. Die Heilige Gees werk in ons oor tyd. Groei kom deur volharding. Soos Jesus se gelykenis van die saad in Matteus 13, moet ons diep wortels skiet en die wind en weer van die tyd deurstaan. Groei kom deur te dag-vir-dag te “wandel met die Here” soos Henog en Noag.
Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het” (Hebreërs 3:14).

Jy sal ook hou van ...

2 Responses

  1. Franciske sê:

    Pragtige boodskap. Met teksverse by.

    Baie dankie. Is dit moontlik om hierdie ook n klank opname te maak? Deesdae se tieners is baie lui vir lang artikels lees. En ek sou dit baie graag wou aanstuur vir al ons familie-lede se tieners as bv n whatsapp klank boodskappie. Of as n youtube boodskappie. Ek sal selfs help indien julle iemand nodig het om sulke opnames te maak.

    • Kruispad sê:

      Baie dankie vir die terugvoer. Ons wil beslis daarna kyk om op meer verskillende platvorms te werk. Ek sal graag kontak maak – ons is altyd bly as mense wil help! Groete, Kruispad

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui