Stel jou verhouding met God eerste

As jy dink aan jou prioriteite in die lewe, onthou Jesus se woorde dat jou skat is, daar waar jou hart is. Ons moet skatte in die hemel bymekaarmaak!

Jy het dit dalk al gehoor – of selfs gesê: “Ek het nie tyd nie!” Veral as dit besig raak en almal iets van jou verwag. Dan kan jy maklik moedeloos raak en voel asof daar nie genoeg ure in die dag is om by alles uit te kom nie. Aan die einde van die dag, as alles rustig raak, en jy so bietjie asem kan skep besef jy meteens: Ek het nooit vandag ’n tydjie afgeknyp vir stiltetyd nie. Maar nou is dit al laat, ek is moeg, môre is ’n besige dag … ek kan later opvang …

Ongelukkig redeneer elkeen van ons op een of ander stadium van ons lewens dat die hier en die nou belangriker is. Ons plaas die prioriteit op die bymekaarmaak van besittings, my akademie, my verhouding, my besigheid. Alles wat ons dink eers aandag moet kry, sodat ek later rustig tyd in die Woord kan spandeer. Wanneer Jesus hierdie ingesteldheid aantref, spreek Hy dit reguit aan met ’n belangrike wekroep wat ons in Matteus 6:21 lees:

Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees …

Dit is merkwaardig hoe relevant hierdie woorde nog in ons tyd is, hoe goed ons Hemelse Vader die verdorwe mensehart ken!


Jou verhouding met God gaan nie oor ander mense nie

In die bergrede verduidelik Jesus aan die mense dat ’n burger van die Koninkryk van God in ’n lewende verhouding met God leef omdat Hy die een is wat hulle regverdig maak. 

  • Geloofsdade gebeur nie sodat ander dit sal raaksien nie, maar dat God daardeur geëer word (Matteus 6:1-4).
  • Die gelowige se gebed is gerig op God en sy eer, en nie die mens se vernuf om met ’n groot omhaal van woorde toneel te speel nie (Matteus 6:5-15).
  • Vas en afsondering is bedoel om jou verhouding met die Here te verinnig, en nie om jou status by mense te laat groei nie (Matteus 6:16-18).

Aardse goed sal vergaan

Jesus spreek in die bergrede ook die misplaaste fokus van die mense op aardse goed aan. Dit wat aards en tydelik is, kan vergaan. Jy moet jou hart, verstand en wese op dit wat onverganklik is rig. So sê Matteus 6:19 dit:

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie …

Die eerste hoorders sou mooi verstaan het wat Jesus hier bedoel: Die kosbare tapyte en klere wat hulle met soveel sorg bymekaargemaak het, en gebêre het – is deur motte verwoes. Koring of metaalwerk is deur roes verteer. Daar is selfs aanduidings dat Jesus hier na ’n sprinkaanplaag kon verwys het, en niks bly van ’n oes oor wanneer ’n rits sprinkane daardeur gegaan het nie. In die Ou Nabye Ooste was die huise van kleimure wat laag gebou is gemaak. Diewe kon doodeenvoudig ’n gat in die muur slaan, deurkom en die huis se inhoud steel. Die punt wat Jesus hier maak is dat al hierdie dinge wat ons met soveel moeite bymekaarmaak, tyd aan spandeer, ons harte aan bind – dit het opsigself die krag om allerhande vernielende elemente aan te trek.


Maak jou skatte in die hemel bymekaar

In Matteus 6:20 sê Jesus: “ … maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar …” want daar kan geen mot of roes verniel nie, daar kan geen dief inbreek en steel nie.  Die punt word vir ons baie duidelik in vers 21 gemaak:

want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Regdeur die Skrif sê die HERE vir ons watter skatte daar vir ons in die hemel weggelê is:

  • Goedertierenheid en trou wat tot in ewigheid duur (Psalm 138:8, en andere).
  • ’n Lewe tot in ewigheid (Johannes 3:16).
  • Water wat ons ewige dors les, wat opspring soos ’n fontein in dié wat daarvan drink (Johannes 4:14).
  • ’n Sterke hand waaruit die Goeie Herder se skape nooit gesteel kan word nie (Johannes 10:28).
  • ’n Liefde waarvan ons nooit geskei sal word nie (Romeine 8:39).
  • ’n Roeping wat nooit teruggetrek word nie (Romeine 11:29).
  • ’n Stewige fondament wat nooit gebreek kan word nie (2 Timoteus 2:19).
  • ’n Ewige, onverganklike en onbesmette erfenis wat in die hemele vir ons bewaar is. 

Maak tyd vir God se koninkryk

Die reël is eenvoudig: Tyd volg prioriteit. Daar is altyd tyd vir luilekker op die bank sit en PS4 speel, om ’n boek te lees of ’n fliek te kyk. Maar dit is nie waarop ons, ons tyd moet spandeer nie. Dink dan aan die klimaks van die gedeelte in Matteus 6:33:

Soek allereers die koninkryk van God en sy geregtigheid …

Die werkwoord soek impliseer ’n alles-absorberende soektog na iets. ’n Volhardende soektog, een wat inspanning gaan vra. Let op dat Jesus die woord “allereers” hier gebruik. Gee aan God die prioriteit in ons lewens wat Hóm as ons Skepper toekom.


Deur genade is ons deel van God se koninkryk

God gee vir ons burgerskap van sy koninkryk en Hy maak ons deel van Christus se geregtigheid. Dit is gawes wat Hy deur genade op ons lê. Maar steeds sê Jesus dat dit in ’n strawwe soektog gesoek moet word, ’n onophoudende soektog.
Hier is geen kontras by betrokke nie, dit is die twee kante van dieselfde munt. Die burgers ontvang die koninkryk as ’n gawe van God. Maar, nadat hulle dit ontvang het, word hulle aktief en werk hulle hard – nie deur hulleself nie, maar deur die krag wat die Here deur sy Heilige Gees konstant aan hulle verskaf. Hulle maak soos die Filippense in 2:12-13 (1953-vertaling):

Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae …


Plaas God eerste in jou lewe
Ons reken ons sal eers uitkom by dit wat ons nodig het om van te lewe, en daarna, ás daar tyd is, kom ons by die koninkryk uit. Dan sal ek doen wat God van my verwag. Jesus keer die volgorde om. Dit is nie verkeerd om te wil werk en ryk te wees nie, maar pasop – jou Hemelse Vader weet wat jy nodig het – en Hy het die vermoë om vir jou te gee ver bo dit wat jy self reken nodig is.
Die geregtigheid waarna ons moet jaag is om te besef dat Jesus nie net vir ander nie, maar vir my in besonder aan die kruishout gehang het. Wanneer jy jou elke dag met die “rat race” van bymekaar maak besig hou, vergeet jy dat ons niks sou kon doen as dit nie vir Christus was nie.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui