Begin ‘n uitreik

Wanneer jy die roeping ervaar, reageer dadelik. Kruispad wys jou stap-vir-stap hoe om ‘n uitreik te begin.

Deur Karin Bain

Daar is baie redes waarom mense nie betrokke kan raak by evangelisasie nie. Die grootste rede wat mense sê, is: Ek is te skaam. Ek sal nie weet wat om te sê nie. Dalk dink jy – ek hou nie van kinders nie, of, ek is bang vir ander kulture, of, ek is te sondig. Ek het nog nooit Evangelisasie gedoen nie, en, ek is nie ‘n predikant of ‘n ouderling nie. Ek wil nie alleen met iemand praat nie, want ek het nie genoeg kennis nie. Dié is almal Moses-verskonings. Binne ‘n gemeente is daar soveel wat jy kan doen om by uitreike betrokke te raak.

Hoe raak jy betrokke by ‘n uitreik?

Daar is heelwat afkondigings van ‘n uitreik of ‘n projek in jou gemeente waar mense nodig is. Die maklikste is om dadelik aan te meld by die sameroeper of net na die diens vir die predikant te gaan sê.

Wanneer jy dit gedoen het kan jy uitvind wie betrokke is by die uitreike en dan eerstehands hoor hoe dit werk. Dié persoon sal jou gewoonlik vertel van die wonder van Evangelisasie.

Uitreike het alle gawes nodig

Die mees georganiseerde uitreik waarop ek en my man was, was ‘n keer toe die meeste van die uitreik ingenieurs en B Com-studente was. Hulle het ons omtrent georganiseer. Daardie jaar was ons ‘n klein groepie wat gaan werk het. Hulle het die werk volgens die minuut ingedeel en almal het spesifieke opdragte gekry. Ons het met baie mense die Evangelie gedeel en die dominee kon heelwat kere onder die boom preek. Die Here het hierdie wonderlike perfeksionistiese gawe voluit in sy diens gebruik.

Hoe begin jy ‘n uitreik?

Op ‘n dag stap jy êrens of jy hoor van ‘n plek waar daar groot nood is. Jy sien die mense se groot nood aan Christus raak. (Dis belangrik om te onthou dat die ergste nood by mense is waar Christus se koningskap nie erken word nie.) Die gedagte kom by jou op dat jy of iemand anders met hierdie mense moet praat. Maar op daardie oomblik onthou jy al jou onsekerhede, jou bangheid en jou onbekwaamheid. Dan dink jy dit is ‘n goeie idee as jou gemeente evangelisasie onder die mense begin. Goed, jy het mense se ellende raakgesien. Jy het die roeping om uit te reik aanvaar. Jy verstaan dat uitreike vanuit ‘n gemeente begin. Jy is op die regte pad. Wat nou gemaak? Stap vir stap:

  1. Vra die Here
    Vra na die wil van die Here. Wees bereid om soos Jesaja te sê “hier is ek Here, stuur my” (Jesaja 6:8). Bely jou onsekerhede. Vra om vervulling met die Heilige Gees.
  2. Praat met almal
    Gesels met jou ouderling, die dominee, die Bybelstudiegroep, die persoon wat aangewys is om na Evangelisasie in die gemeente om te sien – glo dit of nie daar is altyd so iemand in ‘n kerkraad in enige kerk. Gewoonlik kom daar mense uit jou gesprekke na vore wat saam met jou wil uitreik.
  3. Die Heilige Gees sal help
    My ma het al baie Bybelstudiegroepe, uitreike, Evangelisasie-aksies en ondersteuningsgroepe begin. Sy het my geleer om te bid voor elke gesprek met iemand. Die Here sal die woorde in jou mond lê. Hy sal ook die regte mense op jou pad stuur, want die Heilige Gees beweeg mense.
  4. Orde is nodig
    Kry ‘n kerkraadsbesluit. Dit kan wees dat jy of die ouderling die saak by die Kerkraad moet voorlê vir goedkeuring. As jy ‘n individualis is sal jy wonder hoekom dit enigsins nodig is. Die Kerkraad hou toesig oor alles wat op ‘n uitreik gebeur. Hulle stuur natuurlik die dominee saam. Hulle stel die gemeente se vergaderplekke, voertuie, fotostaatmasjien of kooktoerusting beskikbaar. Hulle hou ook toesig oor die fondse. Dis ook belangrik sodat ‘n enkelpersoon nie in beheer is en versoek word nie. Die wonderlike van ‘n Kerkraadsbesluit is dat die uitreik sal bly voortbestaan. Dit verseker volhoubaarheid, want iemand moet dan verslag doen wanneer uitreike nie meer plaasvind nie.
  5. Versprei die nuus
    Afkondigings is baie belangrik. Die lidmate moet álmal bewus wees van ‘n uitreik. In die nuusbrief kan jy ‘n berig plaas waarin jy die mense se nood omskryf en presies sê wat met die uitreik beoog word. Die fokus van enige Evangelisasie-aksie moet die verkondiging van Christus wees.
  6. Opleiding en toerusting
    Die hele groep moet hulle ingrawe in die Woord van God. Leer teksverse saam en doen Bybelstudie saam. Die groep kan in hierdie tyd bid oor ‘n datum, die Here se werk in die harte van die mense en nog arbeiders.
  7. Kry ’n bestuur
    ‘n Goedgeorganiseerde uitreik het meer as een persoon aan die stuur van sake. Op die minste moet daar portefeuljes wees vir voorsitter, finansies, logistiek en geestelike toerusting. As die uitreik ‘n week of twee aaneen gaan wees benodig julle ook ‘n kosma en/of kospa. ‘n Groot uitreik kan ook ‘n sekretaresse, ondervoorsitter, fondsinsameling, Bybelstudieleier, ensovoorts hê.

Die Here gebruik ons

Die Here het ons nie nodig om sy Woord te verkondig nie, hy kan die klippe gebruik. Máár Hy wil sy kinders gebruik. Hy wil hê ons moet Hom so lief hê dat ons sy Woord tydig en ontydig sal verkondig en dat ons ander mense van Hom wil vertel. Dink net as jy verlief raak op iemand wil jy almal vertel van die wonderlike ou of meisie wat jy ontdek het. Net so wil die Here hê ons moet ander van Hom vertel.

Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. Coen Visser sê:

    Hi, daar is ook fantastiese videomateriaal beskikbaar wat in al ons tale oorgeklank is en op die swart kultuur gerig is.
    Weet nie of julle al van die “Walking witb Jesus” reeks gehoor het nie. Dis beskikbaar as n “app”
    Dis werklik treffend en kernagtig saamgestel

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui