Wat is apologetiek?

Lees hier hoekom apologetiek vir jou belangrik is én hoe jy jou kennis kan verbreed.

Deur Karnu van Heerden

Die woord apologetiek beteken eenvoudig om ‘n saak te verdedig in die lig van vrae en aantygings wat teen dié saak gelig word. Apologetiek is om te weet hoekom jy as ‘n Christen glo dat die Christelike geloof waar is. Die fokus val op debat en argumentering. Die positiewe hiervan is dat jy in jou argumente ander van Jesus vertel en dít sal tot ‘n verdere gesprek of debat lei.


Apologetiek in die Bybel

Ons word geleer om ‘n verdediging en ‘n antwoord te gee wanneer mense vrae en aantygings teen ons geloof het. Dit is baie duidelik in 1 Petrus 3:15-16:

In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenhied en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat die wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.”

Hierdie opdrag word op nog plekke in die Bybel gegee. Daar is ook voorbeelde van hoe dit gedoen moet word. In Matteus 22 het Christus die argumente van beide die Fariseërs en die Sadduseërs aangevat toe hulle Hom uitgedaag het. Ons lees van Paulus se beredenering met die Griekse filosowe in Handelinge 17.


Christene word uitgedaag

Het jy ook al moeilike vrae van vriende, familielede, werkkollegas, asook jou eie onderwysers of dosente gekry? Vrae soos: “Hoe weet jy die Bybel is waar, dis mos net alles propaganda?”, “Het Jesus regtig uit die dood uit opgestaan?”, “Bestaan God ooit, en as Hy doen hoekom laat Hy toe dat soveel slegte dinge gebeur in die wêreld?”, “Jy weet Christenskap is net ‘n groot mite” of “Daar is soveel ander gelowe in die wêreld hoe durf jy sê dat jy die enigste waarheid het!” Hierdie is iets wat al hoe meer opvallend word vandag en die waarheid word op alle vlakke van Christenskap uitgedaag. Dit is ons plig, as Christene, om ‘n antwoord daarop te gee. Selfs medegelowiges se wanpersepsies kan jou soms uitdaag om jou geloof te verdedig.


Hoe moet Christene reageer?

Dit is duidelik dat dit nie net belangrik is om ‘n antwoord of verdediging te gee nie, maar dat jy dit op die regte manier doen (1 Petrus 3:16). Ons moet altyd antwoorde gee in opregtheid met ‘n liefdevolle Christelike karakter. Efesiërs 4:15 sê: spreek die waarheid in liefde. Die doel van argumente oor jou geloof is nie om te wen nie, maar om die waarheid en die evangelie te verkondig. Tydens evangelisasie is jy ook besig met dissipelskap. Elke gelowige behoort te weet hoekom en waarom jy glo. Jy moet weet hoekom jy anders optree. Wat maak jou ‘n kind van die lig?

“… ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe” (Efesiërs 4:15).


Hier is ‘n paar webwerwe wat jou met antwoorde kan help:

  • Christian Research Institute (www.equip.org)
  • Got Questions (www.gotquestions.org)
  • One minute apologist (www.oneminuteapologist.com)
  • CrossExamined (www.crossexamined.org)
  • Bethinking (www.bethinking.org)

Hier is boeke wat jou met antwoorde kan help:

  • When Skeptics Ask: A Handbook on Christian Evidences (Norman Geisler & Ronald M. Brooks)
  • The Case for Christ (Lee Strobel)
  • Mere Christianity (C.S. Lewis)
  • The Reason for God: Belief in an Age of Skepticism (Timothy Keller)
  • From God To Us (Norman Geisler & William E. Nix)

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui