Wat glo ander godsdienste oor evolusie?
Lees hier wat verskillende godsdienste se standpunte oor evolusie is.
Ons belydenis van die Een in wie ons glo begin by God die Skepper. Heel in die begin van die Bybel wys God vir ons dís wie Hy is. Die Here verduidelik sy werk in Job se lewe aan die hand van die skepping. Wanneer Paulus in die Areopagus preek vir die heidene begin hy by die skepping. Hy wil getuig van die verlossingswerk van Christus, maar om dit te doen begin hy by die begin van God se openbaring. Wanneer jy vir mense van ander gelowe wil vertel wat jy oor God die Vader glo kan dit help om meer te weet van hoe hulle evolusie met die skepping versoen.
Boeddhisme
Baie Boeddhiste sien geen inherente konflik tussen hul godsdienstige leringe en die evolusieteorie nie. Volgens sommige Boeddhistiese denkers stem sekere aspekte van Darwin se teorie inderdaad ooreen met die vernaamste leringe, soos die idee dat alle lewe onbestendig is.
Rooms-Katolisisme
Die Rooms-Katolieke Kerk aanvaar die evolusieteorie oor die algemeen as die wetenskaplike verduideliking vir die ontwikkeling van alle lewe. Hierdie aanvaarding kom egter met die verstandhouding dat natuurlike seleksie ’n God-gerigte meganisme van biologiese ontwikkeling is en dat die mens se siel die goddelike skepping van God is.
Hindoeïsme
Alhoewel daar geen enkele Hindoe-lering oor die oorsprong van lewe is nie, glo baie Hindoes dat die heelal ’n manifestering van Brahman is. Dit is Hindoeïsme se hoogste god en die krag agter die ganse skepping. Tog is daar vandag baie Hindoes wie se oortuigings nie met die evolusieteorie versoenbaar is nie.
Judaïsme
Die grootste bewegings van Amerikaanse Judaïsme – insluitend die Rekonstruksionistiese, Hervormde, Konserwatiewe en Ortodokse takke – leer wel dat God die Skepper van die heelal en alle lewe is. Tog vind die Joodse leringe oor die algemeen geen inherente konflik tussen die evolusieteorie en hul geloof nie.
Islam
Die Koran leer dat Allah mense geskep het soos hulle vandag lyk. Nogtans is Islamitiese geleerdes en volgelinge verdeeld rakende die evolusieteorie. Teologies-konserwatiewe Moslems wat letterlike interpretasies van die Koran aanhang, keur oor die algemeen die evolusionêre argument van natuurlike seleksie af. Aan die ander kant glo teologies-liberale Moslems dat alhoewel die mens goddelik geskep is, evolusie nie noodwendig met Islamitiese beginsels onversoenbaar is nie.
Hierdie artikel is vertaal en verwerk van Pew Research Center se artikel “Religious Groups’ Views on Evolution”.