Die skepping is dwarsdeur die Bybel

God die Skepper
Die Hebreeuse woord wat in die eerste vers van die Bybel vir God gebruik word is Elohim. Dit beteken God, die almagtige Een. Alles wat God gemaak het wys hoe magtig Hy is. Die woord Elohim is in die meervoudsvorm en wys ons dat God die Vader, Seun en Heilige Gees betrokke was by die ontstaan van die skepping.
Hierdie tien teksverse in die Bybel verwys terug na dié heel eerste vers:
1. Psalm 89:1
Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde, die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak.
2. Psalm 90:2
Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!
3. Psalm 102:25
In die voortyd al het U die aarde gevestig en die hemele met U eie hande gemaak.
4. Jesaja 40:21
Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie ‘n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie?
5. Jesaja 42:5-6
So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg: ek is die Here.
6. Jesaja 45:18
So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word: ek is die Here; daar is geen ander nie.
7. Handelinge 17:24
God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie.
8. Hebreërs 11:3
Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die Woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.
9. Hebreërs 1:10
U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van U hande.
10. Openbaring 4:11
Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep.