Wat bely ons van die skepping?
Hierdie nege stellings uit die gereformeerde belydenisskrifte sê duidelik wat ons glo en bely oor God se skeppingswerk.
Deur Paul Kruger
Die belydenisskrifte, wat jy by jou belydenisaflegging aanvaar, gee ‘n beter verstaan van die Skrif. Dit word egter nooit bo die Bybel verhef nie. Die belydenisskrifte is nie bedoel om omvattende dokumente oor alles wat ons moet glo te wees nie. Daar is baie sake in verband met God se skeppingswerk wat nie deel van ons belydenisskrifte is nie, byvoorbeeld of God die aarde in sewe tydperke van 24 uur geskep het. Tog kan ons die volgende nege stellings oor die Skepping daaruit haal.
Vir die lees van hierdie artikel kan jy die Nederlandse Geloofbelydenis, Heidelbergse Kategismus, Geloofsbelydenis van Nicea en die Apostoliese Geloofsbelydenis by hierdie webwerf gaan lees.
1. God het alles uit niks geskep
- “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde” (Apostoliese geloofsbelydenis).
- “Ons glo in een God, die Almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge” (Nicea).
- Lees ook Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) Artikel 12 en Heidelbergse Kategismus 26.
God as Persoon, onderskeie van die Skepping, het die insiatief geneem. As ons só sê beteken dit dat niemand Hom gedwing het nie, maar dat Hy geskep het toe Hy dit goedgedink het. Verder het God alles wat bestaan uit niks geskep en nie bloot bestaande materie georden nie. Dinge het beslis nie volgens ’n spontane proses ontstaan nie.
2. God het die engele goed en as sy boodskappers geskep
- “Ons glo in een God, die Almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge” (Nicea).
- “…en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien … Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is” (NGB Artikel 12).
God het die sigbare en onsigbare wêreld, die materiële én die geesteswêreld geskep.
3. God het alles geskep deur die Woord, sy Seun
- “[Die Here Jesus Christus] God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het” (Nicea).
- “Moses sê dat God die wêreld geskep het en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Genesis 1:1 en Johannes 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Hebreërs 1:2 en Kolossense 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is” (NGB Artikel 10).
- Lees ook NGB Artikel 12.
Soms dink ons dat dit bloot was dat God geskep het deur te praat. Dit is ver meer as dit – Hy skep deur Jesus Christus die Woord.
4. God het die mens uit die stof van die aarde geskep
- “Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het …” (NGB Artikel 14).
Die mens is nie direk uit niks geskep nie, maar is deur God self uit aardse materie gevorm.
5. God het die mens goed geskep, dat hy God se wil kon doen
- “Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem” (NGB Artikel 10).
- “God het die mens geskep in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys” (Heidelbergse Kategismus 6).
- Lees ook die Sondae 7, 8 en 9 se vrae en antwoorde in die Heidelbergse Kategismus.
Die mens is volmaak in die regte verhouding met God geskep. Die vervreemding en alle boosheid is glad nie God se skuld nie. Ons erf van ons eerste voorouers ons verdorwe natuur. Selfsug, haat, siekte en dood by die mens is nie bloot natuurlike verskynsels nie.
6. God het die mens na sy ewebeeld geskep
- “Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig” (Dordtse Leerreëls 3,1).
- Lees ook Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 6.
Slegs die mens is na God se ewebeeld geskape en word so van die dier onderskei. Die mens lê nie bloot op ’n kontinuum van laer na hoër diersoorte nie. Om na God se (ewe)beeld geskep te wees, beteken dat ons in die regte verhouding met Hom staan. Die mens is volkome goed geskep.
7. Alle mense stam van Adam en Eva af
- “Net soos die mens ná die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het” (Dordtse Leerreëls 3,3).
- Lees ook NGB Artikels 10 en 23, Heidelbergse Kategismus 7 en Dordtse Leerreëls 1,1.
Adam en Eva was mense soos ons, wat verantwoordbaar en onderskeie van die ander skepsels was. Hulle was met ander woorde nie sub-menslik of bloot simbole nie. Onthou verder dat alle mense van hulle afstam.
8. Die eerste mensepaar is in die tuin (paradys) geplaas
- “Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so verdorwe geraak …“ (Heidelbergse Kategismus Antwoord 7).
Die gebeure in Genesis 2 en 3 is ‘n historiese werklikheid, wat tydruimtelik geplaas word. Ons belydenis hanteer Genesis 2 en 3 nie as mite, fabel, gelykenis of iets dergelyks nie. Dit is nie net ’n mooi storie wat later opgemaak is om sekere beginsels te verduidelik nie.
9. God het alles volgens hul eie soort en aard gemaak om Hom te dien
- “Hy het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy skepper te dien” (NGB Artikel 12).
Die mens kom nie uit die dier voort nie en alle spesies kan nie na mekaar herlei word nie. Die skepping is nie ‘n selfonderhoudende en selfgerigte sisteem nie, maar is gerig op God wat dit gemaak het.
As jy, skepsel, nie jou Skepper dien nie, mis jy jou doel. Ons belydenis beantwoord baie vrae oor hoekom ons hier is en hoe die hele skepping inmekaar pas.