Wat beteken dit dat my liggaam ’n tempel van God is?

In 1 Korintiërs 6:20 lees ons dat ons God met ons liggame moet verheerlik. Lees hier hoe jou lewe moet lyk omdat jou liggaam as Christen ’n tempel van die Heilige Gees is.

deur Anel Potgieter

Die wêreld waarin ons leef, laat ons verstaan dat ons liggame aan onsself behoort, en dat ons daarmee kan doen wat ons wil: “My body, my choice!” Die Woord van God leer ons egter dat dit geensins waar is nie. Die frase: “My liggaam is ’n tempel”, kom uit 1 Korintiërs 6:19 waar Paulus skryf: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie?” Dit is egter nie die hele vers nie, en dit is die tweede deel van hierdie vers wat vir die gelowige kind van God van besondere betekenis is: “Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie.” Verder skryf Paulus ook dat ons duur gekoop is, met die bloed van Jesus Christus en dat ons dus aan God behoort. Hieruit vloei dan ’n duidelike opdrag wat ons in 1 Korintiërs 6:20 lees:

Ons moet God met ons liggame verheerlik!


Wat beteken dit dat jou liggaam nie jou eie is nie?

Paulus vermaan die gemeente in Korinte oor verskillende optredes wat nie by ’n Christen tuishoort nie. Wat Paulus in hoofstuk 6 aanspreek is seksuele losbandigheid. Dit beteken egter nie dat ons dit wat Paulus hier skryf nie ook op ander fasette van ons lewens, spesifiek met betrekking tot ons liggame, kan toepas nie. Paulus maak dit duidelik dat ons liggame nie ons eie is om te doen daarmee wat ons wil nie, veral nie om dit aan sonde oor te gee nie. Ons liggame moet eerder instrumente tot eer van God wees. Juis daarom die vergelyking van ons liggame met die tempel van ouds.

Jou liggaam moet ’n instrument tot God se eer wees!

Die tempel van die Ou Testament

Vir die Israeliete in die Ou Testament was die tempel die plek waar hulle God ontmoet en aanbid het. Na die sondeval kon die mens nie meer vrylik in die teenwoordigheid van God kom nie. God het eers die tabernakel gegee as ’n tydelike plek van ontmoeting met Hom. Uiteindelik is die tempel in Jerusalem gebou – ’n Heilige plek waar God en sy volk kon ontmoet – amper soos dit was voor die sondeval.

Deur Jesus is die tempel vervang

Nadat Jesus aan die kruis gesterf het en al ons sondes weggeneem het, hoef ons egter nie meer na ’n tempel te gaan om God te ontmoet nie. Ons kan weer soos voor die sondeval met God gemeenskap hê. Trouens, deur sy Gees woon Hy nou in ons, en dit maak ons liggaam ’n tempel van Hom. Met hierdie verstaan is dan duidelik dat dit geensins vir ons geoorloof is om ons liggame aan allerhande sondige praktyke soos dwelmmisbruik, rook, drankmisbruik en dronkenskap of seksuele losbandigheid oor te gee nie. Ons moet juis ons liggame heilig hou en God daarmee verheerlik.


Hoe lewe jy as jou liggaam ’n tempel van God is?

As ek dan verstaan dat my liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is, behoort dit my te motiveer om gesonde keuses te maak, en die sonde te vermy.

  • Vlug van versoekings

As ’n tempel van die Heilige Gees behoort my mikpunt nie net te wees om nie die tempel te ontreinig met sonde nie, maar eerder om so ver as moontlik van enige sonde weg te bly. Vir sommige van ons is dit moontlik om ’n drankie saam met vriende te geniet sonder om dronk te word, vir baie nie. Die meeste van ons gaan sukkel om versoekings in terme van seksuele verleiding te weerstaan as ons onder die invloed van alkohol is. Lank voordat enige iemand jou as “dronk” sal klassifiseer het alkohol reeds jou weerstand teen versoekings afgebreek.

  • Versorg jou tempel

Sien jou liggaam as ’n kosbare geskenk van God, en maak daarom gesonde keuses. Daniël en sy drie vriende het in die paleis die kos van koning Nebukadneser geweier, en eerder gesonde kos geëet. (Daniël 1). Ons weet nie presies waarom Daniël en sy vriende hierdie keuse gemaak het nie, maar ons weet dat dit hulle baie goed gedoen het. Met al die kennis wat ons vandag tot ons beskikking het weet ons dat rook skadelik is vir ons liggame en so ook oormatige alkoholgebruik. Ons weet dat ons gesond moet eet en genoeg moet slaap en oefen. Ons verstaan dat ons ’n veiligheidsgordel in die motor moet dra en verkeersreëls moet gehoorsaam. Wanneer ons doelbewus hierdie keuses maak om ons liggame wat God aan ons geleen het te versorg en te beskerm, dan word dit ook makliker om onsself in die hitte van die versoeking te herinner om die regte keuse te maak wat God eer.

  • Maak jou tempel skoon

Dwarsdeur die geskiedenis van Israel lees ons hoe hulle die tempel van God verontreinig het met hulle afgode (Kyk gerus na Daniël 9:27, 2 Kronieke 33:15). Telkens moes hierdie onrein goed uit die tempel weggeneem word sodat die volk hulle kon bekeer en God weer reg kon dien. In die Nuwe Testament lees ons dat Jesus self die tempel skoongemaak het (Matteus 21:13). Ons het ook die verantwoordelikheid om die tempel wat God aan ons gegee het gereeld skoon te maak. As my liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is, is daar nie plek vir vuil gedagtes, tabak, dwelms, oormaat alkohol, of pornografie nie. Wanneer ons ons tempel skoon maak bring dit ons ook weer nader aan Christus en word dit soveel makliker om die regte keuses te maak.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui