Hoe lyk jou gelowige trouman?

Weet jy as Christen waarna om te soek in ’n man? Lees hierdie riglyne wat die Bybel gee oor hoe ’n man van God moet optree.
deur ds Werner Brotherton
Hoe weet ek waarna om te soek in ’n man of ’n vrou? Vir die gelowige is dit ’n baie belangrike vraag. Die Bybel gee sekere riglyne vir die karaktereienskappe in ’n man en ’n vrou om na te kyk. Ons kyk in hierdie artikel nie na al die eienskappe nie, maar net ’n paar belangrikes.
Dit is belangrik om te onthou dat die Here die man geskep het as hoof van die huis. Daarom soek jy ’n man wat sy hoofskap verstaan en uitleef.
1. Hy moet God liefhê en Hom gehoorsaam
Deuteronomium 6:5 leer dat ons die Here moet liefhê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand. Hierdie gebod sê Christus Self is die belangrikste van almal. Dit geld natuurlik vir die vrou ook. Die Here het ons immers geskep om in gemeenskap met Hom te leef. Dit is die grondslag van ons lewe en fondasie van ons huwelike. Ons liefde vir ons naaste vloei voort vanuit ons liefde vir God, so ook in die huwelik.
Hoe lyk dit vir ’n man? Eerstens gehoorsaamheid aan die Here. Om die Here bo alles lief te hê is nie eerstens ’n gevoel nie, maar gehoorsaamheid aan sy Woord. Johannes 14:21a sê:
Wie my gebooie het en die bewaar; dit is hy wat My liefhet …
2. ’n Man het sy vrou lief
Efesiërs 5:25 beveel die man:
Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.
Dit is ’n ontnugterende opdrag! Ons moet mooi hieroor nadink, die manier wat die man sy vrou moet liefhê is die manier hoe Christus die gemeente liefgehad het. Dit is self-opofferende liefde. Dit is wanneer die man sy vrou se belange bo sy eie plaas. Christus het sy lewe vir sy bruid, die kerk, afgelê.
3. ’n Man is ’n leier
1 Korinthiërs 11:3 sê:
Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou en God die hoof van Christus.
’n Bybelse man is ’n leier, nie ’n tiran nie. Hy is die bouer van sy familie en nie ’n afknouer nie. Ons Here Jesus leer ons hoe ’n Bybelse leierskap lyk en dit is om te dien.
Om leiers te wees moet mans:
- Proaktief wees.
- God soek met sy hele hart.
- Sy huis bedien.
- ’n Beskermer wees.
Mans is nie veronderstel om passief te wees nie. Hulle moet uitgaan en dinge inisieer. Hulle moet proaktief wees. Toe Adam en Eva gesondig het, het die Here vir Adam gevra: “Waar is jy?” Die Here het nie vir Eva gevra nie, want die Here verwag van die man om die leierskapverantwoordelikhede op te neem (Genesis 3:9).
4. ’n Man volg die Woord van God
’n Man kan nie ’n goeie leier wees as hy nie eers ’n goeie volger van die Heilige gees is nie. Hy kan nie sy huis lei as hy nie deur die Here gelei word nie. Dit beteken dat dit elke man se werk is om ’n dissipel van Christus te wees. Sy handleiding is die Bybel.
5. ’n Man is die geestelike leier van die huis
Om ’n geestelike leier in die huis te wees beteken eerstens dat hy sy huis kerk toe bring. Hy neem hierin die besluit. Die man vra nie sy kinders wat hulle Sondag wil doen nie, hy bring hulle kerk toe. Tweedens beteken dit om jou geloof voor jou vrou en kinders uit te leef. Moenie net jou gesin kerk toe bring nie, maar maak seker daar is geloof in jou huis.
Daarom sal ’n goddelike man seker maak dat daar huisgodsdiens in sy huis plaasvind. ’n Goddelike man moet een wees waarheen sy vrou en kinders kan kom as hulle probleme het en die man kan na sy Herder, Jesus Christus, toe gaan.
6. ’n Man is ’n beskermer
Die Here het die man geskep om fisies sterker as ’n vrou te wees sodat hy sy gesin kan beskerm. Die Here het die man nie sterk gemaak om sy vrou te mishandel nie, maar eerder te beskerm. Hy verskreeu ook nie sy vrou en kinders nie, maar is geduldig en lankmoedig met hulle. Hy formuleer eerder beter wat hy wil sê.
7. ’n Man voorsien vir sy familie
2 Tessalonisense 3:10 is baie reguit en duidelik: Wie nie werk nie, kan ook nie eet nie. Dit is nie hy wat dalk sy werk verloor het en weer sukkel om werk te kry nie. Dit gaan hier oor die man wat lui is en nie wil werk nie en net die minimum doen wanneer hy wel werk.
Tog moet die man besef dat die werk nie een en alles is nie. Werk kom nie voor familie nie. Nie een moet afgeskeep word nie. Dit is ’n balans wat gehandhaaf moet word.
8. ’n Man is betrokke in ’n plaaslike kerk
Hebreërs 10:25 leer ons baie mooi dat ons gemaak is om onder die gemeente van God te leef. Ons moet aan ’n gemeente behoort en aktief betrokke wees. Dit is meer as om net die eredienste by te woon. Dit is die volle onderlinge gemeenskap.
In kort behoort dit duidelik te wees dat ons ’n man of vrou moet soek wat die Here wil dien met sy hele hart, siel en verstand. Dit is iemand wat nie net in naam Christen is nie, maar ook in lewe.