Hoe kies ek ’n gelowige huweliksmaat?

Lees in hierdie artikel hoe die Bybel ons die nodige praktiese riglyne gee om te weet wie ’n goeie lewensmaat sal wees.
deur ds Werner Brotherton
Sou dit nie wonderlik wees as daar duidelike tekens uit die hemel gekom het om ons in kennis te stel wie ons huweliksmaat is nie? Die besluit met wie ons trou is een van die belangrikste besluite wat ons in ons lewe kan maak. Dit beïnvloed ons hele lewe. As daar tog net ’n stem uit die hemel sou kom! Tog gebeur dit nie so nie, want dit is nie die manier hoe die Here besluit het om dit te doen nie.
So gebeur dit dan dat jy iemand ontmoet wat jou voete onder jou uitslaan, maar hoe weet jy of dit die regte persoon is? Vir ons as gelowiges is dit logies dat ons ons antwoorde by die Here soek. In hierdie artikel gaan ons bietjie daarna kyk. Ons kyk eerstens na wat ons nié moet doen nie, en dan na wat ons wel moet doen!
Soek God se leiding: Wat om nie te doen nie!
1. Moenie tekens buite God se Woord soek nie.
Dit gebeur so maklik dat ons wil hê die Here moet direk met ons praat sodat ons dit kan hoor. Die Bybel gee vir ons genoeg leiding oor hoe om die regte man of vrou te soek. Dit is so maklik om eerder op jou gevoelens te vertrou.
Natuurlik is daar gevoelens, dit moet ook daar wees, maar gevoelens gaan weg met tyd. Die gaan nie iewers deur ʼn hoorbare stem met ons praat om ons te oortuig dat iemand vir ons bedoel is nie, want die Here se Woord (die Bybel) is voldoende. Die Here het klaar gepraat, en tog praat Hy steeds deur die Bybel met ons.
2. Waak teen mistieke tekens en gevoelens.
’n Voorbeeld is soos om te worstel of jy ’n verhouding moet beëindig, dan bid jy daaroor. Soos die dag aangaan sien jy hier ’n advertensiebord met een of ander teken. Jy kry boodskappe of sien op sosiale media plasings wat gaan oor gebroke verhoudings. Dan kan jy maklik dink dat dit die Here is wat vir jou tekens stuur.
’n Ander voorbeeld is om te wonder of jy ’n verhouding met iemand moet begin en skielik sien jy orals tekens. Jy sien ’n wolk wat lyk soos ’n hartjie. Jy hoor net sekere musiek, het net sekere tipe gesprekke, sien die persoon se gesig in jou roosterbrood of hoe dit ook al sy!
Ons moet waak teen hierdie tipe mistiese tekens omdat dit bekendmaak dat ons nie glo dat die Woord van God, die Bybel, genoegsaam is nie. Ek moet nog stemme of sekerheid buite die Bybel hoor.
Natuurlik kan die Here so werk, maar Hy kies om dit nie te doen nie.
Soek die Here se leiding: Wat om te doen!
Die Here leer ons genoeg keer, soos in 2 Petrus 1:3 dat die Bybel vir ons genoeg is. Daar staan:
Immers, Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en deug…
Die Here gee ons genoeg leiding deur sy Woord en praat nie iewers nog met ons op ’n ander manier nie. Indien dit so was sou dit beteken dat die Bybel nie afgesluit is nie en ons moet alles wat die Here ekstra vir enige persoon sê by die Bybel byskryf.
Die Bybel is genoeg, ook vir ons verhoudinge! En tog is daar soveel mense wat 7-punt-stappe soek om ’n lewensmaat te vind, en een of ander bevestiging van die Here af. Die Here gee ons egter alle bevestiging in sy Woord.
Ons leer byvoorbeeld in die volgende teksgedeeltes dat gelowiges nie met ongelowiges moet trou nie:
1 Korinthiërs 7:39
’n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.
2 Korinthiërs 6:14
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
Dit is maar twee teksgedeeltes van vele wat ons kan aanhaal. Die Ou Testament het ook gereël dat gelowiges net met gelowiges mag trou. Moses het byvoorbeeld met iemand van ’n ander volk getrou (Numeri 12), maar sy het die Here gedien. Die Here gee ons genoeg wysheid deur sy Woord, ons moet dit net toepas. Ons moet die Bybel as ons filter gebruik wanneer ons wil bepaal met wie ons wil trou.
Die vraag of hy ’n gelowige is wat die Here dien dra die meeste gewig. Dit moet alles bepaal. Die man of vrou, seun of meisie kan hóé oulik wees, kan hoe “goed” leef en selfs kerk toe gaan, maar as hulle nie uit die geloof leef en die Here dien nie, behoort jy nie met die persoon te trou nie en die verhouding daar te eindig.
Hieronder volg vier praktiese stappe wat ons kan toepas.
1. Soek in die Bybel vir antwoorde
Ja, die Bybel bevat dalk nie die begrip om “in ’n verhouding te wees” nie, of die woorde om gekys te wees nie, maar leer ons geweldig baie oor met watter tipe persone ons onsself moet omring.
2. Soek goddelike raad
Psalm 1 maak baie duidelik dat ons onsself met gelowiges moet omring en die Bybel moet deurdink. So moet en kan ons ook die raad van ons medegelowiges vra. Die boek Spreuke prys die persoon wat baie raadgewers het en daarna luister. So is dit vir ons baie belangrik om te luister wat ons gelowige ouers en vriende te sê het oor die persoon waarin ons belangstel.
3. Bid
Gebed is soos die slagaar van die gelowige. ’n Gelowige sonder gebed is soos ’n huis sonder ’n dak wat oop is vir alle storms van die lewe. Daarom moet ons tot die Here bid en vra dat Hy die Woord in ons harte sal plant en ons lei om in wysheid op te tree. Jakobus 1 leer ons tog om te bid wanneer ons wysheid nodig het. Ons moet tot die Here bid om ons deur sy Gees helderheid en vrede te gee oor die saak.
4. Doen!
Wanneer jy gehoor het wat jou gelowige ouers en vriende gesê het en hulle goedkeuring gegee het, en nadat die Heilige Gees jou vrede gegee het, doen dit! Gaan drink koffie met die persoon, of as dit al op so punt is, laat die trouklokke lui!
