Beskerm jou geloof teen verleidings

Die gelykenis van die saad wat op verskillende grond val praat van saad wat in die dorings val. Lees hier hoekom dit belangrik is.

deur ds Daniël Myburgh


Meeste van ons is opgewonde oor die nuwe seisoen wat besig is om rondom ons aan te breek. Baie van ons kan nie wág vir die koue dae om hééltemal verby te wees nie. En dan vir die pragtige lente wat ons kan geniet nie!

Sommige van ons wag al opgewonde vir die geskikte tyd om weer ons groentetuine en blombeddings reg te kry. En sien uit na die bevrediging wat nuwe lewe en groei aan ons bied.


Die gelykenis van die saaier

Dié van ons wat só ingestel is, sal hierdie kort artikel waardeer. Maar ’n mens hoef nie ’n goeie tuinboukundige te wees om die gelykenis van die Saaier te verstaan nie.

Die gelykenis wat Jesus Christus in Matteus 13 gee, is só duidelik dat ’n verklaring eintlik onnodig is. En tog verklaar Jesus Christus sélf hierdie gelykenis, omdat dit wil voorkom asof sy dissipels nié sy Woorde verstaan nie.


Die saad in die dorings en onkruid

In hierdie artikel kyk ons slegs na die voorbeeld van die saad wat tussen die dorings val, en wat dit beteken. In Matteus 13:7 praat Jesus van ’n saaier wie se saad tussen onkruid geval het en hoe die onkruid (of dorings) opgekom het en hierdie jong plantjies versmoor het.

Die saad wat Jesus, as voorbeeld, gebruik, was waarskynlik ’n graangewas wat baie stadiger as onkruid sou ontkiem en groei. Enige persoon wat al gewasse, of selfs ’n groentetuin, geplant het, sal weet hoe ’n mens konstant met die onkruid moet rekening hou.

In beide die Evangelies volgens Lukas én Markus verklaar Jesus Christus óók hierdie gelykenis. In Lukas se oorvertelling van Jesus se woorde hoor ons presies waarop die saad in die gelykenis dui: “Die saad is die Woord van God,” sê Christus in Lukas 8:11.

En in die teksgedeelte sê Christus dat die grond waarin die saad geplant word, op ’n mens se hart dui.


Wie is die saaier?

Die saaier in hierdie gelykenis is alle mense wat die evangelie van Christus verkondig. Maar op daardie dag teen die see, was Jesus Christus sélf die Saaier van sy Woord. Maar soos ons weet, gee Hy aan alle gelowiges die opdrag om sy evangelie te verkondig.


Dieselfde saad, maar grond met onkruid en dorings

En dan begin Jesus om hierdie gelykenis te verklaar deur oor elkeen van die vier tipes grond en tipes groei te praat. Ons moet onthou dat die saad elke keer dieselfde bly – dit is die grond wat verskil. Dus is die evangelie-boodskap elke keer dieselfde – die harte van dié wie dit aanhoor, verskil egter van mekaar.

Ons lees in Matteus 13:22 van húlle in wie se harte daar nie nét die saad van die geloof is nie, maar ook die saad van wêreldse dinge. Die saad wat tussen die onkruid beland het, het nie ’n kans gestaan tussen die oorweldigende onkruid wat saam met hulle gegroei het nie.

Daar is mense wie se harte ontvanklik vir die evangelie is, maar wat óók ’n groot liefde vir wêreldse dinge, soos verleidelikheid en rykdom, het. Soos onkruid versmoor bekommernisse, versoekings en verslawings dan hierdie mense.


Mens kan nie die onkruid en dorings ignoreer nie

’n Tuinier wat sê: “ag laat staan die onkruid – moenie so gepla wees oor ’n bietjie dorings tussen die plante nie…” is nie ’n goeie tuinier nie. Want stadig maar seker versmóór daardie onkruid die plante. Daar kom ’n dag wat die dorings só dig rondom die plante groei, dat ’n mens nie die plant kan red wat jy geplant het nie.


Die dorings en onkruid in die gelowige se lewe

Wanneer ons toelaat dat die sonde saam met ons groei, sal ons, as gelowiges, later heeltemal versmoor. Sodra sonde vatplek in my lewe kry, moet dit met wortel en tak uitgeroei word!

Aangesien ons gelowiges is, behoort ons onsself teen verleidings en sondige afleidings te beskerm. Ons behoort niks daarmee te doen wil hê nie (vgl. Kolossense 3: 1-11). Ons Kategismus noem die wêreldse verleidings een van ons doodsvyande (Heidelbergse Kategismus Sondag 52). Met alles in ons behoort ons dus van hierdie vyand van ons weg te vlug!

In Efesiërs 4:27 staan daar: “Moenie die duiwel vatkans gee nie.” Omdat ons kinders van God is, behoort ons dus nie eers toe te laat dat die wêreldse gedagtes by ons opkom nie. Ons behoort sondige situasies te vermy.

Indien ons agterkom dat dit waarmee ons besig is, gevaarlik is, dan moet ons dit onmiddellik stopsit. Indien ons dit nie doen nie, dan sal ons geestelik versmoor. Maar indien ons dit wél doen, dan sal ons sonder énige verhindering geestelik kan groei en tot God se eer kan vrug dra.   


Lees meer oor die gelykenis van die saaier:

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui