Rus en vrede onder Christus se juk

Jesus Christus, die Prins van Vrede, het self geen vrede op aarde gehad nie, sodat ons vrede mag hê. Lees hier hoe ons na Hom toe kan gaan vir rus.

deur ds Werner Brotherton


Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.

Matteus 11:28-30

In hierdie teksgedeelte kry ons een van die wonderlikste uitnodigings in die Bybel. Christus leer ons vandag dat ons ’n tuiste het waarheen ons kan gaan om rus te kry. En hoe het ons dit nodig!

Ons almal dra een of ander las wat vir ons soms te swaar voel. Spanning by die huis of by die werk maak ons soms ontsettend moeg. Soms dra ons die las van vriende of familie wat met een of ander ongeneeslike siekte gediagnoseer word. Ons kan maklik die las van ons werk dra wanneer dinge begin moeilik word vir die maatskappy self.

Die vraag is egter wat ons met ons bekommernisse doen? Waarheen gaan ons met ons laste? In ons teksgedeelte nooi Christus ons uit om na Hom toe te kom en by Hom rus te kry.

Nou moet ons egter vra waar ons hierdie rus kry. Daarvoor moet ons dink waar die Bybel praat van rus. Die eerste is vinnig in die Bybel: Op die sewende dag van die week moet ons rus, want op hierdie dag het die Here gerus nadat Hy geskep het. As beelddraers van God moet ons rus omdat Hy gerus het.


Neem Jesus Christus se juk op jou

Ons Here Jesus sê dat ons sy juk op ons moet neem. ’n Juk word gebruik om iets wat mens moet dra makliker te dra. Dit is ’n stuk hout wat oor osse, of mense se nekke geplaas word om iets wat swaar is mee te dra om dit makliker te maak. Destyds was die gelowiges se las baie swaar.

Ons Here Jesus bedoel dit nie in ’n fisiese sin nie, maar geestelik. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het die las van die gelowiges baie groot gemaak. Hulle het by die Wet van die Here baie ander reëls gevoeg om seker te maak dat jy nie dalk die Wet sou oortree nie.

Hulle sou byvoorbeeld leer dat jy al die aand voor die Sabbat jou klere moet regsit sodat jy nie te veel werk nie. Of, dat hulle het bepaal hoeveel treë jy op die Sabbat mag loop voordat dit werk word. Jy mag ook nie op die Sabbat op ’n stoel sit nie, want as die stoel sou skuif kon dit gesien word as ploeg.

So het Jesus aan die gelowiges van destyds kom wys dat daar ’n beter pad is. Die las van die Fariseërs en Skrifgeleerdes is te swaar. Dit bind die gewetens geweldig en laat jou dink dat jy op ’n manier jou eie verlossing kan bewerk. Ons kan eerder Jesus se las op ons neem wat lig is en sy juk wat sag is.


Hoe kan ons na Jesus toe gaan vir sy rus?

Jesus weet nie net wat ons nodig het nie, maar Hy kan dit ook vir ons gee en bied dit vir ons aan. By Hom sal ons rus vind. Maar dit beteken nie dat ons nie hoef te werk nie. Dit beteken nie dat daar geen reëls in Christus se koninkryk is nie. Dit is net baie makliker om te dra as soveel mensgemaakte reëls.

In Christus se Woord alleen vind ons sy reëls wat ons bevry van menslike wette. Maar wat beteken dit om na Christus toe te kom? Hoe kom ons na Hom toe kom om sy rus en vrede te kry? Ons doen dit deur geloof. Deur te glo dat Hy vir ons die ewige lewe aan die kruis verwerf het. Dit is om ons verlossing buite onsself in Christus te soek.

En tog kan ons dit nie uit ons eie doen nie. Al hoe ons kan antwoord op hierdie uitnodiging van die Here Jesus, is omdat Hy dit deur Sy Gees in ons inplant. Hy gee ons die geloof sodat ons na Jesus toe kan kom.

Met die vrede wat ons by Christus kry, kan ons al die ander laste wat ons in die wêreld kry aanpak. Dan kan ons in die geloof die dood van geliefdes verwerk. Dan kan ons die druk by die werk hanteer. Met die vrede en rus van Christus kan ons probleme in die huwelik en by die huis uitsorteer.


Die koste van Jesus se rus – vir Hom

Tog was hierdie rus nie goedkoop nie. Dit het Hom sy lewe gekos. Om vir ons rus te verwerf was daar vir Hom nooit rus hier op aarde nie. Van sy geboorte af het Hy geen rusplek vir sy kop gehad nie. Hy moes altyd in ander se huise bly en van hulle geriewe gebruik maak.

Selfs vir sy siel was daar geen rus nie. Die kruisdood het soos ’n wolk oor Hom gehang. Soveel so dat Hy bloed gesweet het. In sy mensheid was Hy geweldig bang vir die kruis. Hy was geweldig bang om die toorn van God te dra en ten volle verlate te wees aan die kruis.

Ja, Hy het ’n vloek vir ons geword, sodat ons rus mag ontvang. En daardie rus is nie net vir hierdie lewe nie, maar vir die ewigheid. Dit begin nou reeds. Iets van daardie rus kan ons elke dag in die erediens beleef. Soek daarom jou rus in Christus!


In die wêreld kry ons alleen ’n valse vrede en rus, maar by Christus kry ons ’n ewige rus. Christus, as die Prins van Vrede het geen vrede hier op aarde geken nie, sodat Hy vir ons die enigste ware vrede kan verwerf.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui