Mag jy oordeel?

Ons praat so maklik saam met die groep wanneer iemand ‘n verkeerde of skandelike ding gedoen het. Soms veroordeel ons sommer ook. Hoe kan ons optree om Jesus Christus se gesindheid te vertoon?

Deur ds. Callie Opperman

Ons praat so maklik saam met die groep wanneer iemand ’n verkeerde of skandelike ding gedoen het. Maar ons praat nie net nie, ons veroordeel sommer ook. Dikwels sommer aanklaer en regter!

Die media stel die voorbeeld en ons volg so maklik. Die gemiddelde persoon word vandag blootgestel aan baie media: koerante, tydskrifte, TV, Internet, e-pos, selfoonboodskappe en allerlei sosiale kommunikasie. Die vraag is: Word ons in ons beoordeling van ander mense se “sondes” deur die Woord van God gelei, of word ons eerder deur die algemene media gelei?

Mag ons dan glad nie beoordeel nie?

Jesus het by geleentheid gesê: “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.” (Johannes 7:24). Hoor ons wat ons Leermeester leer? Daar moet regverdigheid wees wanneer ons uitsprake gee oor mense se optrede. Een van die basiese maniere om regverdig te wees, is om nie op die oog af te oordeel nie. Of, soos dit ook gesê word: Moenie op hoorsê oordeel nie. Maak seker van jou feite. Moenie eers bespiegel as jy nie genoeg inligting het nie. Moenie skinder nie. Moenie agteraf stories versprei nie. Jou manier om oor iemand te praat wat verdink word van een of ander skandalige optrede (let wel: nog nie deur ‘n hof skuldig bevind is nie), kan dit waardeur hy gaan vererger of verlig.

Die Here bedoel nie dat ons ’n verkeerde optrede moet oorsien nie. Allermins! Maar wat Hy wel van sy kinders verwag, is om soos Hy te wees – beoordeel regverdig. Moenie oor iemand se optrede ’n oordeel vel voordat jy al die feite gesien of gehoor het nie. Weerhou jou van veroordeling! Daar is maar een wat werklik mag veroordeel, dit is die Regter God. Voor Hom kan niks weggesteek word nie. Hy ken al die feite. Hy is die heilige en volmaakte, ook in sy oordele.

Die opdrag tot regverdigheid geld in jou beoordeling van die optrede van jou ouers, jou kinders, jou vriende, jou gemeentelede, mense in die regering, sportsterre, ja almal oor wie jy ’n mening moet of wil gee.

Leef die gesindheid van Christus uit

Hoe kan ons optree om die Here Jesus Christus se gesindheid te vertoon?

  • Moenie reg in eie hande neem en regter “speel” nie. Jy kan onskuldige mense baie seer maak.
  • Moenie aanlas by stories waarvan die bron onseker is en dit oorvertel nie.
  • Bid eerder vir mense as om agteraf oor hulle te praat – al vermoed jy hulle is skuldig.
  • Leef altyd liefde uit, soos die Here teenoor sondaars optree.
  • Wees bereid om te vergewe wanneer iemand opregte berou het. So is God bereid om te vergewe.
  • Wanneer jy die oortreder was, aanvaar God se vergifnis en ook dié van jou medemens.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui