Moenie die stomp kant gebruik nie

Hierdie vier bekende verse word dikwels verkeerd aangehaal. Lees hier meer.

Deur Brian Orm.

Die Bybel is ’n skerp swaard met twee snykante – dit kan deur die hart dring. Wanneer dele van die Bybel egter in die verkeerde konteks gebruik word, is dit soos om met ’n wapen se stomp kant te veg in plaas van met die lem.

Hoewel dit nie ’n Bybelse misdaad is as hierdie verse binne ’n effens ander konteks aangehaal word nie, is dit belangrik om die kern van die oorspronklike betekenis te ken.

Ek kan alles doen

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” (Filippense 4:13)

Hierdie vers word dikwels deur sportspanne en as bufferplakkers en leuses gebruik as ’n oproep om groot dinge te bereik, soos om ’n marathon te hardloop, ’n berg te klim of ’n kampioenskap te wen. Paulus skryf hierdie brief aan die kerk in Filippi om vir hulle te vertel dat God hom geleer het om tevrede te wees in tye van oorvloed én in tye van wanhoop. Hy skryf hierdie brief terwyl hy in die tronk sit.

In sy oorspronklike betekenis bring hierdie vers dus hulde aan ’n man wat geleer het om God in enige omstandighede te volg. Wat ook al oor Paulus se pad gekom het, het hy in geloof hanteer. Dit is nie ’n oproep om uit te gaan en groot en kragdadige dinge te doen nie, maar ’n pragtige herinnering om geloof na te streef en God te vertrou te midde van die voor- en teenspoed van ’n lewe wat ten volle aan Christus toegewy is.

Voorspoed vir jou

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.” (Jeremia 29:11)

Hierdie vers word dikwels in moeilike tye aangehaal om te bemoedig en te inspireer sodat ons nie bekommerd sal wees nie. Binne konteks wys hierdie vers egter op ’n spesifieke belofte wat God aan Israel gemaak het; dié belofte dui op die einde van hul 70 jaar lange ballingskap in Babilonië (vers 10). Die woord “voorspoed” verwys dus nie na geld of materiële seëninge nie, maar fisieke en geestelike verlossing.

Hierdie gedeelte is ’n goeie herinnering aan die vervulde profesie en die volmaakte Woord van God. Dit is ’n wonderlike verhaal wat wys op die groter vrymaking en verlossing van al God se kinders.

Hierdie bly ’n wonderlike gedeelte al is dit nie op jou as ’n individu van toepassing nie. Inteendeel, dit versterk die gedeelte en herinner ons aan die kollektiewe redding van God se mense in die geskiedenis en ook in die toekoms, wat nog moet kom.

Waar twee of drie saam is

Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” (Matteus 18:20)

Hierdie vers word dikwels gebruik as ’n bemoediging dat God in moeilike omstandighede by ons is – al wat ons nodig het, is twee of drie mense in ’n gebedsgroep en ons is reg. Jy hoef in werklikheid nie eens die hele vers aan te haal nie. Net die begin “want waar twee of drie in my Naam saam is” laat ander gelowiges reeds instemmend knik.

Eintlik gaan hierdie vers oor kerklike dissipline. In moeilike tye van konfrontasie en kerklike dissipline het dit hierdie bemoediging aan kerkleiers gebring: God sal teenwoordig wees terwyl hulle daarna streef om sake reg te stel en ’n gevalle lidmaat terug te bring. Dit is veilig om te sê dat jy hierdie vers uit sy oorspronklike konteks aanhaal, tensy jy jou in die middel van kerklike dissipline bevind.

Is God steeds by ons wanneer twee of drie bymekaar is? Ja, natuurlik. Hy is ook by ons wanneer dit net een of eenduisend is.

Alles sal goed gaan

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Romeine 8:28)

Hierdie vers word dikwels gebruik om iemand wat deur ’n moeilike tyd gaan te bemoedig. Met ander woorde, moenie jou bekommer nie, want jou probleme sal uiteindelik tot iets goeds in jou lewe meewerk. God het iets beters vir jou in gedagte … Alle dinge werk mos ten goede mee, onthou jy?

Daar is twee dinge wat ons rakende hierdie vers moet besef. Eerstens, dit het te doen met dié wat Hom liefhet. Dit is ’n belangrike onderskeid. Dit geld nie vir almal nie, maar spesifiek vir gelowiges. Tweedens, die “goede” kan binne konteks beskryf word as ons uiteindelike verandering om soos Christus te wees. Dit is nie iets wat op ons eie gemak dui nie, maar lei ons na heiligmaking en ons uiteindelike verheerliking. Dit wys nie op die omkeer van ons omstandighede van sleg na goed nie. Ons kan uiteindelik net op verlossing hoop en dit is die heel beste.

Vertaal uit Top 5 Most Misused Verses in the Bible (churchleaders.com)

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui