Hoekom is daar so baie denominasies?
Denominasies is byna so oud soos die mensdom self! Het jy al ooit gewonder hoekom daar so baie denominasies regoor die wêreld is? Lees hier.
As jy vandag deur meeste plattelandse dorpe en stedelike gebiede beweeg sal jy waarskynlik baie denominasies sien. Selfs miskien denominasies wat langs mekaar in dieselfde straat is. Dit is egter nie net hier in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. Hoe kan dit tog so wees? As Christene een Here en een geloof bely, dan hoekom is daar so baie denominasies? Kan daar nie net een wees waaroor almal saamstem nie? Is dit nie verkeerd dat daar so baie denominasies is nie?
Redes oor hoekom daar baie denominasies is
Volgens statistieke is daar nie tien duisend of twintig duisend denominasies nie, maar byna vyf-en-veertigduisend wêreldwyd – miskien nog meer! Vyf-en-veertigduisend is skrikwekkend. ’n Mens self sal wonder hoeveel denominasies jy kan opnoem. Verdeeldheid onder valse gelowe soos Islam (moslems), Boeddhisme en Hindoeïsme is nie eers naby aan so baie nie. Maar hoekom onder Christene wat in die enigste ware Here glo en aanbid?
Denominasies kan om die volgende goeie of slegte redes gevorm of verdeel word:
- Denominasies bestaan uit kerke en kerke bestaan uit mense. Soms kom mense net nie oor die weg met mekaar nie. Al is die mense belydende Christene, sukkel hulle soms om oor sekere sake met mekaar saam te stem of saam te werk. Dit lei dan tot konflik en verdeeldheid, wat weer tot nuwe kerke en denominasies lei.
- Denominasies word gevorm of verdeel weens meningsverskille rondom die uitleg en bediening van die Skrif en sakramente. ’n Ander geval is weens dwaalleer. ’n Goeie voorbeeld is die Reformasie van die 16de eeu. As daar van die Skrif en sakramente afgedwaal word en die kerk of denominasie dit teenstaan om te reformeer, is ’n nuwe kerk of denominasie noodsaaklik.
- Alle denominasies leef hulle aanbidding op verskillende maniere uit. Die Here het ons almal verskillend gemaak.Sommige Christene vind vreugde om Hom rustig met hulle monde en verstande te aanbid, terwyl ander dit met hulle hande en liggame doen.
- Sommige denominasies aanbid die Here volgens tradisies/gewoontes wat aan geslagte oorgedra is, terwyl ander op vars en nuwe moderne maniere wil.
- ’n Ander rede is weens mense wat nuwe openbarings van God ontvang het. Enkele voorbeelde van sulke mense is Engenas Lekganyane (ZCC; Zion Christian Church), Charles Russell (Jehovah se Getuies), Joseph Smith (Mormoonse Kerk) en John Wesley (Metodiste Kerk). Hierdie denominasies verskil egter so baie van die Christelike geloof dat hulle nie as denominasies beskou kan word nie, maar eerder as afsonderlike godsdienste (kultusse). Hierdie rede is onchristelik omdat die Skrif klaar die volkome openbaring van God bevat. Christene het nie buite-Bybelse- of nuwe openbaringe nodig as dit wat hulle reeds in die Skrif het nie. Buitendien, die Skrif waarsku teen sulke openbaringe (Galasiërs 1:9; 1 Johannes 4:1-6).
Is denominasies iets nuut?
Ons kan sê dat denominasies byna so oud soos die mensdom self is. In sommige buite-Bybelse literatuur is dit duidelik dat binne die Ou-Testamentiese gemeenskap was daar verskillende geloofsgroepe gewees, onder andere die Qumran-gemeenskap wat van die Joodse gemeenskap afgeskei het. In ons Here Jesus se tyd was daar twee verskillende geloofsgroepe gewees, naamlik die Fariseërs en Saduseërs. Ons lees in 1 Korintiërs 1:11-12 dat daar verdeeldheid in die gemeente van Korinte was, waar Paulus skryf:
My broers, ek is deur Chloë ingelig dat daar twiste onder julle is. Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, ‘Ek is van Paulus’, of, ‘Ek is van Apollos’, of, ‘Ek is van Sefas, of: ‘Ek is van Christus’.
Wanneer is ’n demonisasie ’n heilige, algemene Christelike kerk?
Alhoewel daar baie denominasies is as gevolg van goeie of slegte redes, roep die Skrif elkeen op tot eenheid (vgl. Joh. 17:20-23; Ef. 2:14-22; 4:1-6). Elke Sondag word daar in sommige denominasies opreg bely: “Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk”. So wat moet denominasies doen om die Skrif te gehoorsaam en as ’n heilige, algemene Christelike kerk te wees? Daar kan geen eenheid wees behalwe alleen op die vaste grondslag van geloof en waarheid nie.
Daar is basiese waarhede wat denominasies saam moet glo om eenheid te hê. Van hierdie basiese waarhede kry ons byvoorbeeld in die drie ekumeniese belydenisskrifte en die drie formuliere van eenheid, wat in die Gereformeerde Kerke gebruik word. Hierdie belydenisskrifte is formulerings en samevattings van belangrike en kern aspekte van dit wat die Skrif leer en wat Christene opreg moet glo. Wanneer denominasies dieselfde basiese waarhede glo is hulle ’n eenheid. Ja, sekerlik sal daar menings- en aanbiddingsverskille wees, maar nogtans is hulle verenig as ’n heilige, algemene Christelike kerk, want hulle is een in belydenis. So werk en bedien hulle mekaar saam en dra mekaar op in die gebed.