Calvyn: Geroepene van God
Deur Victor E. d’Assonville
Vervolging van gelowiges is algemeen en hulle kan dikwels onder skinderpraatjies ly. In sy bergpredikasie het Jesus Christus al daarop gewys (Matteus 5:11). Uit sowel die Ou as Nuwe Testament weet ons dat vervolging noodwendig die konsekwensie van geloof is en sal wees. Meeste groot figure uit die tyd van die Reformasie is deur die “kerk” of mede-Christene vervolg. Veral Calvyn het deurgeloop. Vandag nog word daar oor hom geskinder en onware negatiewe verhale vertel.
In die oorspronklike bronne sien ons ’n ander prentjie van Calvyn: nederige dienskneg van God, liefdevolle eggenoot en vader, toegewyde herder van die lidmate van Christus se kerk, sagmoedige ondersteuner van mense in nood met ’n heilige eerbied vir die Woord. Calvyn sou sy lewe in ballingskap leef, met ’n verlange en heimwee na sy vaderland, Frankryk. Sy lewe word gekenmerk deur vlugte om gespaar te bly, maar ook deur sy onwrikbare geloof dat die Woord van God suiwer gepreek moet word. Die Here is ’n sprekende God, só skryf Calvyn. Op sy sterfbed sê Calvyn dat hy ’n bedienaar van die Woord van hierdie sprekende God is, “ooreenkomstig die mate van genade” wat God aan hom verleen het.
Die bakens van Calvyn se lewe
- Jean Calvin is op 10 Julie 1509 in die Franse dorp Noyon, noord-oos van Parys, gebore, vanuit ’n Roomse ouerhuis met sy pa as werknemer by die plaaslike Roomse biskop.
- As jong seun is hy na Parys waar hy by twee buitengewone streng kolleges studeer. Daarna het hy regte by beroemde fakulteite in Orléans en Bourges studeer. Hier het Calvyn met geleerdes wat oop is vir die reformatiese gedagtes in aanraking gekom.
- Calvyn was getuie toe medegelowiges vir hulle gereformeerde geloof op brandstapels sterf in sy vaderland
- As jong student het hy in November 1533 die rektor van die Universiteit in Parys met sy intreerede gehelp. Hy moes daarna vlug want die rektorstoespraak was te protestants, met ander woorde te Bybels. Hy was geforseer om sowat drie jare as geloofsvlugteling in Frankryk, Italië en Switserland te reis.
- In hierdie tyd, toe hy nog nie 26 was nie, ontstaan onder andere die eerste uitgawe van sy Institusie wat later een van die mees beroemde christelike publikasies en uiteensettings van die Bybel van alle tye sou word.
- In 1536 het Calvyn in Genève oornag. Willem Farel, die Kerkhervormer van Genève, het daarvan gehoor. Hy het oorreed Calvyn om in Genève te bly en met die verdere Reformasie te help.
- In 1538 word hy saam met Farel en Couralt uit Genève verban. Hy gaan na Straatsburg vir asiel en leer by Bucer. Hier preek hy en gee klas (1538-1541).
- In antwoord op die smekinge van die stadsraad van Genève verdedig Calvyn in 1539 die Reformasie en die stad met sy beroemde Brief aan Sadoletus. Hierdie brief is beroemd as een van die beste publikasies van alle tye oor die redes vir die Reformasie.
- In 1541 keer Calvyn terug na Genève, waar hy voortgaan as bedienaar van die Woord. Tot sy dood op 54 jaar, in 1564, was hy die bedienaar van die Woord van Christus.
Calvyn se gemeentebediening
Calvyn het homself as dienaar van die Woord gesien. Hy het feitlik daagliks gepreek. Nie bloot pitkos vir ’n kwartier of so nie, maar ordentlike Skrifpreke uit die tekste in die oorspronklike tale. As jong predikant in sy laat-twintigs het hy al met sy bediening van die Franse vlugtelinggemeente in Straatsburg twee keer elke week en twee maal per Sondag gepreek. Ná sy terugkeer na Genève vir sy tweede periode daar (1541-1564) het sy preekverpligtinge deurlopend toegeneem. Naderhand het hy soveel as tien verskillende preke elke veertien dae gepreek. Hy is hoogstens deur uiterste siekte daarvan weerhou om te preek, andersins het hy nie ‘n geleentheid gemis nie.
Die Reformatore, Calvyn inkluis, bely met rede dat die Woord van God wat gepreek word, God se Woord self is. Natuurlik, wanneer dit op die Skrif alleen berus. Calvyn het sterk geglo dat daar net een manier is waarop gemeentebou kan plaasvind: deur die Woord van God. Hy beklemtoon dat gereelde prediking, wat konsekwent vanuit die Skrif kom, die enigste manier vir gemeentebou is. Die Woord moet so dikwels as moontlik verkondig en gepreek word, nie net een keer op ‘n Sondag nie. “Verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig …” (2 Timoteus 4:2) want die geloof kom deur die hoor van die Woord (Romeine 10:17).
Ondanks die ongelooflike hoeveelheid preke wat Calvyn geskryf het, het daar ook in sy leeftyd 329 uitgawes van 119 van sy werke verskyn. Hy het voortdurend aan kommentare en voorlesings oor die meeste Bybelboeke, ander geskrifte ter verdediging van die Bybelse leer en belydenis en briewe aan hooggeplaastes, vervolgdes en ander mense gewerk. Reeds in die sestiende eeu ná sy dood het daar ontelbare vertalings en nuwe uitgawes en verdere drukke verskyn. In die Reformasiegeskiedenis sal jy nie sy gelyke vind nie.
Calvyn het klem gelê op kinders se geloofsonderrig
Een van die heel eerste take wat Calvyn in Genève op hom geneem het, was die opstel van ’n kategismus. Ná al die eeue van onkunde by gelowiges, weens die gebrek aan onderrig in die Roomse kerk, was hy terdeë bewus van die noodsaak van kategetiese onderrig. Nie net die kinders moes só die weg in die Skrif en geloofsbelydenis gewys word nie, maar ook volwassenes. In die latere formulering van artikel 68 van die Dordtse Kerkorde word bepaal dat die tweede diens elke Sondag juis hiervoor geskik is. Dit gryp terug na deeglike Skrifuitleg by Calvyn hieroor.
Wanneer Calvyn, onder andere in sy kategismus van 1542/1545, oor die Here se beloftes aan kindertjies met hulle doop praat, is dit uit persoonlike ondervinding.
Hy het self klein kinders aan die dood afgestaan met die sekere wete dat die Here se beloftes ook vir hulle geld. Nie een van Calvyn en sy vrou, Idelette van Buren, se kinders het dit uit hul kleintyd gemaak nie. Tog kon Calvyn hoop en troos in God vind.
Die waarde van die Psalms het vir Calvyn swaar geweeg in sy kategetiese werk. Daarom was dit so belangrik dat juis die kinders die Psalms moes leer sing, sodat die gemeente weer die Woord kon sing. Calvyn sluit doelbewus aan by die Vroeë Kerk van die eerste eeue. Die kerklied was ‘n belangrike deel van sy beklemtoning van die bediening van die Woord van God. As ’n mens sê sola Scriptura, beteken dit ook Psalmsang in die diens.