Lewe as ’n lig vir die wêreld!

In Efesiërs 5 kry ons die opdrag om as mense van die lig te leef. Lees hier wat dit beteken om as Christen van duisternis na lig te gaan, en hoe dit beïnvloed hoe jy lewe.

deur ds. Brahm Robinson

Lig en donker is twee dinge wat vir ons baie bekend is. In die antieke tye was lig bekend deur lig van die son of die maan en sterre in die nag, maar ook deur kerse wat die donker sou verdryf. In vandag se tyd is die kontras baie duideliker deur die feit dat ons deur middel van elektrisiteit skakelaars aansit wat onmiddellik die duisternis verdryf en die hele plek verlig. (Behalwe as dit beurtkrag is!) Dit is wat die Here hier verkondig oor wat Hy in ons lewe doen. Hy bring ons van duister na die lig.


Christene gaan van duisternis na lig

Paulus bring in Efesiërs 5:6-14 ’n argument om die gelowiges tot ’n nuwe lewe in Christus aan te spoor. Christene is mense wat omgekeer is, en nuut gemaak is. Alle mense is na die sondeval in die duisternis, totdat die Here hulle oorbring na die lig. Maar Paulus se argument is nog sterker. Hy stel nie net dat ons in die duisternis was en dat ons net oorgebring is na die lig nie. Dit is baie duidelik dat ons nie net in die duisternis was nie, maar dat ons self die duisternis was.

Dan kom daar ’n kritiese keerpunt, ‘maar’. Maar nou in die Here is julle lig. Paulus stel die drastiese gebeure daarvan in Kolossense 1:12-13

Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.

Niemand word uit hul eie lig nie. Die Here maak ons lig. Dit is ’n kragtige werk van God. Ons is nou lig. Jou wese is verander. Jou omstandighede het ook nie verander nie. Dit is nie asof die lig nou net rondom jou skyn nie. Nee, jy is ’n nuwe mens gemaak. Nou is ons lig, want ons is in Christus, en die Heilige Gees is in ons. Dit is wat Paulus van ons sê. Christus is die element in ons, en ons is die houer. Lig straal uit jou uit. Lig in die Here.


Lees baie mooi wat die gedeelte sê: ons is nou in die die Here en daarom is ons lig. Afsonderlik van Hom kan ons nie in die lig wees nie. Alleenlik deur Hom is ons in die lig.


Hoe ons as lig moet lewe!

Nou kom die opdrag dat omdat dit jou nuwe identiteit is, moet jou lewe ook lyk soos wat jy gemaak is. Daar is ’n radikale verandering. Dit moet lei na ’n nuwe leefstyl. In vers 9 hoor ons dat uit die lig vrug van die lig kom (OAV). As jy lig gemaak is, is dit kenmerke waaraan jou lewe gekenmerk moet word.

Die vrug wat jy as lig moet straal is alles wat goed is: dit beteken alles wat lieflik is en behulpsaam is: die ingesteldheid wat tot goeie werke lei. Alles wat reg is gaan oor regverdigheid en opregtheid in ons optrede: wat keer teen alle wanorde en onreg. Alles wat waar is gaan daaroor dat jy die waarheid liefhet en net dit praat. Dit is die respek vir die waarheid in elke vorm en op elke manier: om dit te glo, dit te eerbiedig, dit te spreek, daarvolgens op te tree, te hoop en daaroor te juig, opreg en eerlik te wees, nie vals of opstandig nie.

Dit is waartoe jy verlos word. Jy word verlos om ’n lig in die donker wêreld te wees. Jou goeie vrugte van lig moet in die donker wêreld sigbaar wees.

Lig moet nie meedoen aan die werke van die duister nie. Die punt van hierdie vermaning is in die byvoeglike naamwoord “vrugtelose” praktyke. Die werke van die duisternis is onvrugbaar, met ander woorde, hulle lei tot die dood. Al wat dit bied is skande, berou, wanhoop.


Wat lig doen!

Die opdrag is om die vrugtelose praktyke bloot te stel. Ons mag nie slegs ’n passiewe houding teenoor die praktyke van die duisternis inneem nie. Die vrugteloosheid van die duisternis verheerlik God nie. Verkondig daarom wat God se wil is wat Hom verheerlik.

Calvyn het hieroor gesê: “Mense sien nie hul eie sonde raak nie, en hulle dink ook nie dat God dit raaksien nie”. Hulle kom nie agter wat hulle doen nie, want almal doen dit. Hulle sien dit nie as skandelik nie, want dit vergelyk nie sleg met ander mense se dade nie.

Die Here vra dat ons dit moet blootlê. Lig wys vuilheid uit. Mens kan nie sien hoe vuil ’n vertrek is as dit donker is nie, eers as die lig daar inkom. Hoe moeilik is dit nie wat die Here vra nie? Om met groot vrymoedigheid mense reg te wys op hulle sonde. Hoe doen mens dit?

Gebruik die Woord van die Here en verkondig wat die Here se wil in daardie omstandighede is.

Maar alle dinge, wanneer dit bestraf word, word deur die lig verlig. Wanneer die Woord iets belig, dan word dit gesien vir wat die waarlik is. Dit word gesien soos God dit sien. Die vermaning beteken dus dat jy die Woord gebruik om die kwaad of die donker te verlig.


Dit is wat die Here doen!

Die Here dring verder op hierdie plig aan omdat dit die voorbeeld van God is. Daarom sê hy in vers 14 soos die Here sê:

Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.

Wat gebeur wanneer iemand onder die indruk van die lig kom, is dat die Here dit gebruik om sondaars uit die dood op te wek; om hulle tot bekering te bring. Hulle word ontwaak met die belofte dat Christus dan op die sondaar sal skyn met die reddende lig van sy waarheid.

Die oproep vir ons is baie skerp. Die Here werk deur sy kerk, maar nie waar sy kerk lyk soos die wêreld nie. Let op hoe die Here die kerk juis daar gebruik waar die kerk die lig in die wêreld skyn. Moenie dink dat as jy in jou lewenswandel meer gaan lyk soos die wêreld dat jy só mense vir die koninkryk sal wen nie.

Leef in die lig en bestraf hulle waar hulle nie in die lig is nie. Christus gebruik só sy dienaars, wat die evangelie verkondig. Hy roep voortdurend daardeur sondaars op: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dood.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui