Moedig mekaar aan na die gemeente se byeenkomste
Lees hier hoe ons elkeen die gemeente se byeenkomste moet bywoon en mekaar moet aanmoedig, om gereed te maak vir die groot ontmoeting met Jesus Christus se wederkoms.
deur ds. Johan Nel
Almal in die kerk van Christus se lewens stuur af op die grootste kerklike byeenkoms van alle tye wanneer ons by Christus en by God in die hemel bymekaarkom. Tot dan, wil Christus dat sy kerk op aarde byeenkomste hou en veral wil Hy dat gelowiges mekaar aanmoedig om daarheen te gaan.
Christus bring gelowiges bymekaar
Die dissipels het bymekaar gekom
Christus het die dissipels se lewens heeltemal verander. Hy het hulle van sy sterwe, opstanding en hemelvaart geleer. Wat Hy gesê het, het Hy alles waar laat word. Diep onder die indruk van Jesus se kruisiging en opstanding het die dissipels bymekaar gekom. Na sy hemelvaart het hulle steeds bymekaar gekom. Hulle was juis saam toe die Heilige Gees op Pinkster uitgestort is (Handelinge 2:1).
Die eerste gemeente was daagliks saam
Wat ons by die eerste dissipels gesien het, het presies so in die eerste gemeente gebeur. Die eerste gemeente het elke dag bymekaar gekom. In Handelinge 2:42 lees ons dat hulle, hulle heelhartig op die leer van die apostels toegelê het. Dit beteken hulle harte was vol van Christus, hulle het hulle lewens op Christus gerig en hulle het oor Christus daagliks bymekaar gekom.
Opregte gelowiges in Christus sal bymekaar wil kom
Christus bring gelowiges bymekaar. Hy wil gelowiges in een gemeente bymekaar hê. Gelowige Christene kom saam met ander bymekaar. Die woord “kerk” beteken ook saamgeroep. Wanneer jy regtig in Christus glo, sal jy met ander Christen gelowiges wil saamkom om Christus met mekaar te deel.
Ons moenie van die samekomste wegbly nie
Wanneer gelowiges nie saamkom nie, tree hulle teen Christus op. Christus se kerk kan mos nie teen Hom optree nie! Die Antichris tree teen Christus op. Wat sê dit van ’n gemeente wat nie saamkom nie en van lidmate wat die samekomste nie bywoon nie? Die Here gee in Hebreërs 10:25 ’n verbod:
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie …
Christus is die middelpunt van gemeentesamekomste
Gemeentesamekomste is ’n belangrike deel van die kerk wat Christus as middelpunt het. Gemeentes se samekomste moet samekomste in Christus wees. Samekomste moet so gereël en ingerig word dat Christus met mekaar gedeel kan word. Dit geld vir eredienste, katkisasie, Bybelstudie, uitreike, vergaderings en al die saamkuier-geleenthede wat gehou word.
Gelowiges mag nie in die gewoonte verval om weg te bly nie
Dinge soos familie of vriende wat kom kuier, sport en ontspanning, moegheid na ’n laat vorige aand, werk wat by die huis gedoen moet word en nog baie ander dinge veroorsaak dat daar dikwels iets is wat mens verhinder om by die samekomste van die gemeente te wees. Die gereelde dinge wat voorval laat dit naderhand gewoonte raak om weg te bly. Dit mag nie, dit is sonde.
Kom bymekaar al is dit moeilik
Pas na Christus se kruisiging het die dissipels die deure uit vrees vir die dood gesluit, maar hulle het saamgekom. In die kerkgeskiedenis het Christene onder bitter vervolging ’n geheime teken begin gebruik, die vis, net om vir mekaar te kan wys ons deel Christus. Vis is in Grieks Igthus en elke letter is gebruik as afkorting vir Jesus Christus, Seun van God, Verlosser. In sekere lande moet gelowiges nou nog plekke en tye geheim hou om saam te kom. Selfs al is dit moeilik moet Christene bymekaar kom.
Wie wegbly is nie vas aan Christus of mekaar nie
As ons na die bywoning van die samekomste kyk en die redes wat ons gee waarom ons nie samekomste bywoon nie, is ons omtrent glad nie vas aan Christus nie, om nie eers te praat van vas aan mekaar nie. Hier lê die sonde. Wanneer jy los van Christus leef, is jy nog vas aan sonde en aan die duiwel. Omdat jy nie vas is aan Christus nie, is jy ook nie vas aan ander gelowiges wat saam met jou in die gemeente is nie.
Christus vra dat ons mekaar aanmoedig
Christene wat vas aan Christus is, is ook vas aan ander gelowige Christene wat ook aan Christus vas is. Ons is almal deel van mekaar, want ons is saam die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12:12-13). Daarom kry ons die opdrag om mekaar aan te moedig. Soos reeds genoem is gelowiges wat vas aan Christus is, ook vas aanmekaar. Jy kan daarom nie net self gereeld byeenkomste toe kom en dink jy doen alles wat van jou verwag word nie. Nee, die Here het ’n opdrag juis vir jou wat gereeld kom: Jy moet ander aanmoedig om na die samekomste te kom. Die woord aanmoedig beteken letterlik om langsaan te roep. Jy gaan staan dus langs die persoon en roep hom of haar om saam na die gemeentesamekoms te kom.
Hierdie opdrag is dringend, want Christus se wederkoms is naby
Indien jy opreg wag vir Christus se wederkoms sal jy hierdie opdrag ernstig opneem en uitvoer. Christus se wederkoms is die dag van oordeel vir elkeen wat nie aan Christus vas was en so geleef het nie. Dit is oordeel vir elkeen wat gehoor het, maar hulle nie daaraan gesteur het en gedoen het wat Christus gevra het nie. Dit is ook die dag van genade vir elkeen wat aan Christus vas was en deur die Heilige Gees so geleef het.
1 Response
[…] Moedig mekaar aan (Hebreërs 10:25) […]