Wat moet ons prioriteite as kinders van God wees?

Ons prioriteit moet in alle opsigte die Here en die diens aan Hom wees. Lees hier wat ons leer uit die verhaal van Marta en Maria in Lukas 10.

deur ds. Hannes Lee

Hoe weet ons watter dinge in ons lewens belangriker as ander is? Waarop moet ons onsself toelê in ons lewens, en watter dinge moet ons agterweë laat? Met ander woorde: Hoe rig ons ons prioriteite in die lewe in?

In Romeine 14:7-8 lees ons die volgende: “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”

Hier word aan ons, as kinders van die Here baie duidelik gemaak: Ons prioriteit moet in alle opsigte die Here en die diens aan Hom wees. Geen ander element in ons lewens of aktiwiteit wat ons kan verrig, moet belangriker beskou word as hierdie nie. Ons is op aarde geplaas om sy diens alleen. Ons mag dit nie verontagsaam en eerder ons eie belange of dié van ander mense dien nie.

Is alles dan ewe belangrik? Nee, ook ten opsigte van die dien van die Here is daar dinge wat bo ander geprioritiseer moet word. Dit is die boodskap wat ons in Lukas 10:38-42 kry. Dié gedeelte gaan oor die ontmoet van Jesus met Maria en Marta. Ons leer drie goed uit hierdie gedeelte:


1. Die Woord van God is die hoogste prioriteit

In Lukas 39 sien ons hoe Maria, die suster van Marta, een ding gedoen het. Sy het by die voete van Jesus gaan sit en na sy woorde geluister. Met ander woorde, bo enige ander ding het sy dit die belangrikste geag om soveel as moontlik van Christus se openbaring te ontvang.

Jesus sê dan ook dat Maria die “beste deel” gekies het. Wat bedoel Hy hiermee? Bo enigiets anders waarmee mense besig kan wees, is dit die beste om verdiep te wees in die Woord van God. Deur sy Woord word God geken op die diepste moontlike manier wat Hy beskik ons Hom sal ken. Die Woord van God sê vir ons alles wat ons moet weet van ons saligheid. Ons lees daarin God se voorskrifte en verwagtinge rondom hoe sy kerk teenoor Hom moet lewe uit dankbaarheid.

Maria het die groot voorreg gehad dat ons Here Jesus die Woord persoonlik vir haar uitgelê het. Ons sou kon dink sy was in ’n baie meer bevoorregte posisie as ons. Maar sy is nie! God se Woord praat net so lewend, helder en duidelik met ons as wat Jesus met Maria gepraat het. Die geskrewe Woord wat ons as Bybel het, is niks minderwaardig nie. Daarom is dit ons taak om dit as waardevol te ag, en ons lewens as gelowiges te bou op die openbaring daarin.


2. Ons mag nie die Woord van God verdring met onnodige dinge nie

Marta en Maria het Jesus geken. Hulle broer, Lasarus, word inderdaad ook ’n vriend van Jesus genoem. Hy het gereeld by hulle aangekom, en om Hom in hul huis te ontvang, was nie ongewoon nie. Hul bekendheid met Jesus spreek ook uit die feit dat Marta gemaklik genoeg voel om Jesus op ’n stadium te berispe. En tog lyk dit asof sy voel sy moet vreeslik baie moeite aangaan om Hom te probeer beïndruk; asof sy bang is Hy gaan sleg dink van haar as sy nie die perfekte gasvrou is wat haarself afsloof om ’n koningsmaal voor te berei nie.

Dit is baie duidelik in Lukas 10:38-42 dat Jesus ’n geleentheid geskep het om die mense van die huis te leer, en soos ons gesien het, het Maria dit met beide hande aangegryp. Marta is egter besig met ander dinge. Dinge wat sy dink belangrik is, omdat dit in diens van die Here gedoen word. Dit grief haar ook dat dit net sy is wat besig hiermee is, en daarom eis sy dat Jesus vir Maria ook in die werk steek.

Jesus maak dit egter duidelik dat die dinge wat Marta kies om te doen, onnodig baie moeite is. Hy weet dit word gedoen uit liefde vir Hom. Maar, Hy wys in sy antwoord aan haar dat haar liefde vir Hom beter tot uitdrukking sou kom indien sy ook na Hom kon luister, en eerder die groot klomp voorbereidings wat sy doen, afskaal. Middag- of aandete kan altyd later voorberei word, en met heelwat minder moeite. Dit is baie belangriker dat Marta vir haar ruim porsies van die Woord kom inskep.

Baie mense beweer vandag ook dat ons die Here moet beïndruk met al die dinge wat ons doen, veral in en rondom die kerk. Dit kan veroorsaak dat ons baie besig raak met dinge soos administrasie, vergaderings reël, rapporte en verslae opstel, fondsinsamelings organiseer en projekte bedryf. Ons kan onnodig baie begin oororganiseer, sodat ons later al hoe verder weggetrek word van die Here en sy Woord. Soos ’n relevante spreuk sê: Ons raak so besig met die dinge van die Here se kerk, dat ons begin om die kerk se Here te vergeet.

Dit mag nooit gebeur nie. Ons diens aan die Here begin by sy Woord. As dit afgeskeep word, begin alle ander dinge hul betekenis verloor. Wat verder kan gebeur, is dat ons prioritisering van ander dinge nie net die Woord kan verdring nie, maar later heeltemal dooddruk. Dit gebeur wanneer ons besig wees met ander, oënskynlike kerklike dinge, heeltemal die plek inneem van ons toewyding aan God se Woord. Dit word dan ’n plaasvervanger daarvoor.

’n Voorbeeld hiervan is wanneer mense glad nie erns maak met die Woord nie, daar weinig sprake van persoonlike Skriflesing is en die eredienste nie bygewoon word nie. Word so ’n persoon aangespreek, beroep hy homself dadelik op hoeveel hy vir die kerk doen of vir die kerk gee. So ’n situasie word nie deur die Here toegelaat nie.


3. Ons mag nie die Woord van God misbruik om nie diensbaar te wees nie

Wat ons egter mooi moet verstaan, is dat ons alles wat ons tot nou toe gehoor het, nie mag gebruik as verskoning om lui te wees in die kerk van die Here nie. Ons mag die volgende nie sê nie: “Jesus self beveel ons om ons net te bepaal by die luister na die Woord, en niks anders nie. Daarom gaan ek nie betrokke raak by gemeente-aktiwiteite en reëlings en vergaderings nie, want dit verdring die Woord.”

Ons is nog steeds verplig om die Here te dien deur in sy kerk betrokke te wees. Hy gee ons juis gawes om mee te werk tot die opbou van die plaaslike gemeente, en ons moet dit gebruik. Wat die Here van ons verwag, is om ons gemeentelike betrokkenheid so in te rig dat Woordverkondiging en bediening die primre funksie van die kerk bly.

Ons moet versigtig wees om in minder belangrike sake te verval, maar as alles wat ons in die kerk van die Here doen juis ter ondersteuning van die Woordbediening is, en ons ook ernstig daarop let om die Woord self soveel as moontlik in te neem, sal dit nie gebeur nie. Die Heilige Gees lei ons daarin, en maak seker dat ons God se openbaring (wat Hyself vir ons uitlê) in alle dinge na vore tree.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui