Dit was dan nie vyetyd nie!
In Matteus 21 lees ons hoe Jesus in ’n wonderwerk ’n vyeboom nooit weer laat lewe nie. Lees hier wat dit beteken.
deur ds Lohan Linde
Elkeen van ons het seker ’n gunsteling wonderwerk wat ons Here Jesus gedoen het, of dit nou die opwekking van die weduwee se seun is, of die storm stilmaak, of die water in wyn verander. Ek is redelik seker dat hierdie wonderwerk nie in meeste van ons se gunsteling lysies is nie.
Dit laat ons eintlik net te ongemaklik voel. In Matteus 21:12-21 lees ons hoe Jesus kwaad raak en die mense in die tempel met ’n sweep uitmekaarjaag, en die tempel so reinig. Net daarna is die gebeurtenis met die vyeboom – waar Jesus vir die vyeboom sê: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” Dan verdroog die vyeboom.
Dit voel menslik of Jesus nog steeds vasgevang was in ’n vlaag van woede, en dat Hy woedend hier gaan staan en op die vyeboom skree om van sy frustrasie ontslae te raak.
Ons moet egter hierdie prentjie of idee vinnig uit ons kop kry. By die reiniging van die tempel, het Jesus eers rustig gaan sit en ’n sterk sweep gevleg, om so te wys dat hierdie heilige woede wat Hy het vir die Heiligheid van sy Vader se Huis, geregverdig is. So dit was nie sommer net ’n woedeuitbarsting nie. Natuurlik nie, ons Here Jesus was die sondelose Lam.
Hierdie laaste week in Jesus se lewe op aarde, speel af vroeg in die lente, soos ons dit ken wanneer dit vroeg herfs hier in die Suidelike halfrond is, wanneer ons ook dan Paasfees vier.
Daar was gewoonlik twee keer per jaar wat ’n mens vye kon verwag aan die vyebome, in die lente en dan ook vroeg in die herfs, net voor die winter toeslaan.
Dit was daarom soos Markus sê, nie vyetyd nie. Daar is egter twee redes waarom Jesus wel vye kon verwag het van daardie spesifieke boom, die eerste is dat daar gewoonlik saam met die blare sulke harde klein vruggies op die vyeboom groei – nie heeltemal vye nie, maar ’n bitter, dog eetbare knoppie wat die Palestyne taqsh genoem het.
As jy honger was en niks anders gehad het om te eet nie, dan was jy meer as bereid om hierdie taqsh te eet.
Die tweede rede kon wees dat daar verskriklik baie variëteite van vye in Israel is, wat beteken dat as daar ’n boom met blare aan was, dat dit een van daardie tipe vye was wat vroeër vrugte gehad het, daarom kon mens van ’n vyeboom wat vroeg lente vol blare was, verwag het dat daar vye tussen die blare sou wees.
Jesus kom by die boom, en daar is nie vye nie.
Die boom dra nie vrug nie. Hy het die uiterlike skyn van iets moois, iets wat mens vreugde moet verskaf, daardie heerlike sappige vye waaraan jy na hartelus kon smul. Dit lyk mooi, perfek van buite af, maar dit los mens teleurgesteld in die afwesigheid van ’n belofte na soveel meer.
Soos die volk. Die hosannas en hallelujas, die palmtakke en die klere, die gejuig en gesing, wat 4 dae later verander in daardie volksverdoemende woorde: kruisig Hom, kruisig Hom.
Daarom vervloek Jesus die boom, en toe die dissipels weer by die boom kom, is die boom heeltemal droog, verdor, dood.
Jesus leer vir ons iets baie spesiaal met hierdie wonderwerk
Selfs al was dit nie vyetyd nie, selfs al was daar geen rede vir Jesus om te dink dat daar ooit vye aan daardie boom sal wees nie, dink julle dat Jesus nie die reg het om vye van daardie boom te verwag nie? Kom ons stel dit harder: dink jy in jou lewe, dat Jesus die reg het om in enige omstandigheid van jou te verwag om vrug te dra?
Ek kan nie nou nie, Here, ek is te jonk en weet te min. Ek kan nie nou nie, Here, daar is net te min tyd, te min geld, te min energie, te min motivering. Duisende verskonings in ons alledaagse lewe. Duisende verskonings wat verflou wanneer Jesus self voor jou kom staan, en vra: “waar is jou vrugte, my liewe kind?”
“Ek kan vrugte van jou verwag, want kyk na my, kyk na die gate in my hande, kyk na die wond in my sy, kyk na die leë graf, luister na die roepstem van die parakleet, die trooster en helper wat ek in jou hart uitgestort het. Is daar iets onmoontliks wat ek nie vir jou gedoen het nie?”
“Kan ek dan nie enigiets van jou verwag nie?”