Weet jy hoe ’n goeie vriendskap lyk?

Vriende is ’n groot gawe in ons lewens. Dis egter belangrik dat ons moet weet watter eienskappe ’n goeie vriend maak en hoe om ’n toksiese vriendskap raak te sien.

deur ds. Hannes Lee

Bykans alle mense op aarde het behoefte aan vriendskap; aan mense wat jou genote in die lewe kan wees, waarmee jy sosiaal kan verkeer, waarmee jy kan assosieer. Mense wat nie noodwendig jou familie of lewensmaat is nie (alhoewel ’n mens natuurlik vriende kan en moet wees met hierdie mense!) Of dit nou baie hegte vriende is, of mense wat bietjie meer as blote kennisse is, ons almal wil vriende hê.


Vriendskappe moet aan jou geloof gemeet word
Soos alles in die lewe, kan ons nie vriendskap losmaak van ons geloofslewe nie. Ons moet ons keuse van vriende inrig volgens God se voorskrifte wat Hy vir ons in sy Woord gee. Deur die manier waarop ons tyd met ons vriende deurbring, moet ons God verheerlik. Ons moet ook raaksien dat daar nog ’n rede is hoekom God ons voorskrifte ten opsigte van vriendskap gee: Dit is ’n genadedaad van Hom waardeur Hy ons beskerm van vriendskappe en verbintenisse wat moontlik skadelik vir ons kan wees.


Wat is die eienskappe wat ons in vriende moet soek?

Wanneer ons aan vriendskappe in die Bybel dink, is daar sekerlik een voorbeeld wat kop en skouers bo andere uitstaan: Die vriendskap tussen Dawid en Jonatan. In Dawid en Jonatan se vriendskap sien ons verskeie eienskappe wat noodsaaklik is vir so ’n tipe verhouding. In 1 Samuel 18:3 lees ons: “Jonatan en Dawid het ’n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself.” Twee dinge is opmerklik hier:

  • Eerstens, die vriendskap tussen hierdie twee manne was gebou op getrouheid. So verbind was hulle tot wedersydse getrouheid dat hulle ’n verbond met mekaar gesluit het. ’n Verbond is ’n belofte, of kontrak, wat deur God met die mens gesluit word (byvoorbeeld die genadeverbond waarvolgens God die belofte van verlossing aan sy kinders gemaak het), of ’n belofte of kontrak wat in die teenwoordigheid van God tussen twee partye aangegaan word. God word deur Dawid en Jonatan as getuie geroep van die feit dat hulle mekaar nooit in die steek sal laat nie, maar altyd aan mekaar getrou sal bly.
  • Tweedens sien ons dat Dawid en Jonatan mekaar liefgehad het soos hulself. Hier sien ons reeds die nakom van die mees basiese liefdeseis van God se wet, soos Jesus Christus dit in Matteus 22:39 verwoord. God verwag dit van al sy kinders teenoor hul naaste, en dit is voor die hand liggend dat geen vriendskap eg kan wees as hierdie tipe naasteliefde nie ook daarin aanwesig is nie.

Hierdie getrouheid en naasteliefde word duidelik in die wyse waarop Jonatan twee keer teen persoonlike gevaar in vir Dawid by sy pa, koning Saul (wat Dawid verskeie kere wou doodmaak), intree en vir sy lewe pleit (1 Samuel 19-20). Jonatan gaan so ver as om selfs Dawid se lewe te beskerm teen Saul, en hom te waarsku om weg van Saul te vlug wanneer Saul tot die daad van doodmaak wil oorgaan.

  • Ons vriende moet ook wysheid as eienskap hê. In Spreuke 13:20 sien ons die volgende: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” Hier word nie bedoel wysheid soos wat mense dit sal definiëer nie (dit wil sê mense wat besonder intelligent is nie), maar eerder wysheid soos die Woord dit vir ons openbaar. In dieselfde boek lees ons dat wysheid by die dien van die Here begin. So sien ons dat dit vir ons baie goed is wanneer ons vriende saam met ons kinders van die Here is wat Hom dien. So deel ons ‘n baie kosbare geloof wat diepgang aan ons vriendskappe gee. Gelowiges wat so met mekaar vriendskappe aangaan, kan mekaar moed inpraat en versterk met die evangelie, soos ons in 1 Tessalonisense 5:11 sien.
  • Vriende moet ons met goeie raad kan bedien, soos wat ons ook met hulle moet kan doen. Spreuke 27:9 beskryf die genot van vriendskap juis in die raad wat ons kry. Ons het vriende nodig wat ons kan help om die uitdagings van die lewe aan te pak op die beste manier moontlik, sonder om dwase dinge te doen. Goeie raad sal ons juis van sulke dwaasheid weghou.
  • Wanneer ons in noodsituasies verkeer, het ons goeie vriende nodig wat ons daaruit en daardeur kan help. Jy moet altyd op jou vriende se liefde kan reken, en weet dat vriende altyd daar is met die oog op ons nood (Spreuke 17:17).

Wanneer is vriendskappe toksies?  

Dit is ongelukkig ook so dat nie alle vriendskappe goed vir ’n mens is nie. Vriendskappe kan soms sleg en toksies (letterlik: giftig en skadelik) vir ons wees. Ons sien die skeidslyn tussen goeie en slegte vriendskappe in Spreuke 18:24: “Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer.” Goeie vriendskappe kan uiters opbouend wees, en die bande wat ons met sulke vriende het, kan selfs hegter as familiebande ervaar word. Slegte vriendskappe kan ons weer letterlik breek. Dit kan ons menswees verskraal, ons lewensgeluk steel en, ergste van alles, ons geloofslewe skade aandoen. Daar is baie maniere waarop dit kan gebeur. Kom ons kyk na ’n paar van hierdie maniere:

  • Die mees gevaarlike en toksiese vriendskap is sekerlik wanneer vriende ons aanmoedig en tot sonde lei. Ons word immers in 1 Korintiërs 15:33 gewaarsku: “Moet julle nie langer laat mislei nie: ‘Slegte geselskap bederf goeie sedes.’” Gelowige kinders van God moet die bewussyn wat die Heilige Gees hulle gee om tussen reg en verkeerd te onderskei gebruik om te besef wanneer mense in hul lewens nie ag slaan op die Here nie, en nie omgee hoe hul lewens voor Hom lyk nie. Sulke mense soek bondgenote in sonde, en sal alles doen om gelowiges om tot sonde te praat. Dit mag glad nie gebeur nie!
  • 2 Korintiërs 6:14 maak dit duidelik dat ons nie in dieselfde juk moet trek as ongelowiges nie. Natuurlik beteken dit nie dat ons ongeskik met ongelowiges moet wees en hulle vermy nie. Nee, ons moet juis vriendelik en inskiklik met hulle wees, en in hierdie gesindheid die evangelie aan hulle bedien. Ons mag egter nie vriende met hulle maak en omgepraat word om soos hulle te word nie. Die uitwerking van so ’n gesindheid sien ons in Jakobus 4:4: “Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.”
  • Wanneer vriendskappe deur een of beide van die partye nie as ’n gelyke vennootskap beskou word nie, kan dit baie vinnig toksies raak. Dit gebeur soms dat een party in ’n vriendskap ’n besonder dominante rol speel, en die ander party heeltemal oorheers. In so ’n vriendskap gebeur dit dan gereeld dat die dominante vriend die “magsbalans” in die vriendskap misbruik en alles van die ander vriend verwag en eis, en hul eie wil op alles afdwing. Die nie-dominante vriend se rol kan verskraal word tot die van ’n “stertjie” wat al agter die dominante vriend rondloop.
  • ’n Wanbalans in die “gee-en-neem” dinamiek van ’n vriendskap kan sorg dat die verhouding toksies raak. Gebeur dit in ’n vriendskap dat jy die een is wat altyd moeite moet maak om die vriendskap aan die gang te hou? Wat altyd die ander vriend moet opsoek? Wat alles in die vriendskap moet voorsien? Wat baie meer in die vriendskap insit as die ander party? Wat voel of jy soms net gebruik word, omdat die ander vriend nooit bereid sal wees om te doen wat jy altyd moet doen nie? Dit kan ’n toksiese vriendskap wees.
  • Wat hierby aansluiting vind, is wanneer ’n sogenaamde vriend die gewoonte het om gereeld neerhalende aanmerkings en beledigings te maak. Dit kan soms baie subtiel en verskuil gebeur. Die normalisering van sulke gedrag en die aanname dat dit “seker maar is soos dit moet wees,” kan vir ’n werklik skadelike en afbrekende verhouding sorg.
  • Dit kan ook gebeur dat ons vriendskappe om kunsmatige redes aan die lewe hou. Voorbeelde hiervan is wanneer ons voel ons moet ter wille van status met die “regte” soort mense meng of wanneer ons in sosiale situasies ingedwing word om andere gelukkig te hou.
  • Een baie gevaarlike vorm van toksiese vriendskap is wanneer een party in die verhouding die ander probeer isoleer. So iemand sal ’n “vriend” van hul ander geliefdes, vriende en familie weghou; en volkome beslag op die wese van hul vriend probeer lê.

Vriendskap is iets wat God uit genade aan ons gee om rykdom tot ons lewe te voeg. Dit is een van die grootste gawes om mense om ons te kan hê met wie ons gemeenskaplike belange kan hê, ons vreugdes kan deel en ons laste kan dra. Ons moet hierdie gawe gebruik om goeie en opbouende vriendskappe te kweek.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui