Hou in eensaamheid aan jou Herder vas

Wanneer jy eensaam voel kan jy onthou dat die Here Jesus Christus in eensaamheid geleef en vir jou gesterf het, en dat jy kan uitsien om tot in ewigheid saam Hom te wees.

deur ds. Danie Snyman

Eensaamheid is ’n emosionele gevoel van pyn wanneer jy nie goeie kontak met ander mense het nie. Hierdie pyn word vererger deur gevoelens van leegheid binne in jou, minderwaardigheid, afgesonderdheid, mismoedigheid en selfs angs. Soms is eensaamheid van korte duur, wanneer jy in ’n nuwe omgewing intrek, ’n nuwe werk begin of by ’n nuwe gemeente aansluit. Eensaamheid kan ook langdurig wees indien jy as gevolg van minderwaardigheid, onsekerheid of vrees vir mense alleen bly leef. Eensaamheid is deel van die sondige wêreld waarin ons leef.


Voorbeelde van eensaamheid in die Bybel

  • Die digter van Psalm 102 het onder baie moeilike omstandighede hulpeloos gevoel, waarskynlik daar in die vreemde in Babel. Dit was vernederend en pynlik om daar tussen die heidene te leef en nie lig op die pad vorentoe te sien nie. Hy was in sy omstandighede so verlate soos ’n pelikaan in die woestyn, ’n uil tussen murasies en ’n eensame voël op ’n huis se dak (Ps.102:7,8).
  • Daniël het as gelowige alleen gestaan tussen die venynige ampsdraers in die parlement van koning Darius wat hom vervolg het as gevolg van sy geloof (Daniël 6:5).
  • Josef was eensaam in sy besluit om in die geheim sy verlowing met Maria te verbreek na hy agtergekom het sy was swanger (Matteus 1:19).
  • Die man by die bad van Betesda wat reeds 38 jaar siek was en niemand gehad het om hom te help nie, was baie eensaam (Johannes 5:5,7).

Hoe die Here by jou is om jou eensaamheid weg te neem

Die Here maak Homself in die lewe van die psalmdigter bekend as die Here wat altyd daar is (Ps.102:13). Ons leer in die Ou en Nuwe Testamente dat die herder altyd, dag en nag by sy kudde was. Soveel te meer is die Here as my Herder altyd by my. Hy is by my om my eensaamheid weg te neem. Hoe doen my Herder dit?

  1. Hy het sy Seun na die eensaamheid van hierdie wêreld gestuur
    God het sy Seun weggestuur uit die hemelse heerlikheid. Jesus het na die eensaamheid van hierdie wêreld gekom. Die nag met sy geboorte was daar nie vir Hom plek op die aarde nie, behalwe by diere in ’n stal. Jesus was nie net eensaam in sy geboorte nie, Hy het eensaam geleef.
  2. Jesus het eensaam geleef
    Die eensaamste deel van sy lewe was teen die einde toe die Fariseërs en Skrifgeleerdes almal saamgestaan het om Hom dood te maak. In die tuin van Getsémané was Jesus baie eensaam. Die baie mense wat Hom gevolg het, wat deur Hom gesondgemaak is en wat van Hom kos ontvang het, het skielik verdwyn. Die dissipels wat Hy in Getsémané gevra het om saam met Hom wakker te bly, het Hom daar ook alleen gelaat. Na Jesus gevange geneem is, was niemand wat voorheen naby Hom geleef het, langer naby Hom nie.
  3. Jesus het eensaam gesterf … vir jou
    Die eensaamste oomblik in die Here Jesus se lewe op aarde, was aan die kruis buite Jerusalem op Golgota. Niemand na aan Hom was daar nie. Almal het of weggegaan of ver van Hom bly staan. Maar die eensaamste was toe sy Vader Hom ook verlaat het (Matteus 27:46). Eensaam en verneder het Jesus voor God die straf en oordeel op jou sonde gedra. Jesus het eensaam gesterf, sodat jy seker kan wees dat jy in ewigheid nooit sonder God sal wees nie.
  4. Jesus is saam jou ná sy opstanding
    Jesus het self na sy opstanding dié sekerheid aan sy dissipels gegee: “Ek is by julle tot aan die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20). Jy gelowige, het dieselfde sekerheid as die dissipels dat Jesus Christus altyd by jou sal wees.
  5. Jesus is in die Heilige Gees altyd by jou
    Na sy opstanding het Jesus na die hemel opgevaar, maar Hy het sy belofte gehou. Hy en sy Vader het die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees het op Pinkster gekom (Handelinge 2:17,18).Die Heilige Gees is die Gees van Christus. Jesus Christus is nie net by jou nie, Hy is so naby aan jou dat Hy deur sy Heilige Gees in jou is. Jou Herder is in sy Heilige Gees altyd by jou.

Leef naby aan die Here jou Herder

Daar is soveel omstandighede wat mens eensaam kan laat. Die eensaamste is om ver van Christus te wees. Rig jou lewe deur die Heilige Gees op Jesus Christus jou Herder en verdryf só die eensaamheid:

  • Glo in jou Herder met ’n lewende geloof. Ken Christus as jou Herder wat sy lewe vir jou afgelê het en wat in sy Heilige Gees altyd by jou is. Vertrou Hom in jou eensaamste tye. Vertrou dat Hy by jou is.
  • Bid. Leef naby jou Herder deur gebed. Praat met jou Herder. Maak tyd vir gebed. Maak alles aan jou Herder bekend. Bid, want jou Herder luister (Psalm 102:18).
  • Jou Herder het jou uit genade deel van sy kudde gemaak. Daar is genoeg gelowiges om jou te ondersteun. Leef so naby aan mekaar dat jy ook ander kan ondersteun.
  • Eensaamheid word net verdryf wanneer jy ’n verhouding met Jesus Christus jou Herder het. Hy verlig jou eensaamheid hier op aarde, want Hy is altyd by jou en Hy maak jou deel van sy kudde.
  • Jy kan uitsien na die dag wanneer alle eensaamheid finaal beëindig sal word. Wanneer Jesus Christus weer kom, sal niemand ooit weer eensaam wees nie, nie jy nie en nie enige ander gelowige nie.

Wees verseker deur jou geloof
Elke ongelowige sal die eensaamste dag van sy/haar hele lewe tegemoet gaan wanneer Jesus weer kom. Wie die Here Jesus nie geken het nie, sal heeltemal alleen voor Hom as Regter staan en die ewige oordeel ontvang. Maar as gelowige het jy die sekerheid dat jou Herder daardie dag jou nader sal roep om ewig by Hom te wees en ewig saam met die res van sy kudde vir Wie Hy plek gereed gemaak het in hemelse heerlikheid. Rig jy jou dan op Jesus Christus jou Herder. Weet en onthou dat jy nooit sonder Hom is nie, nie nou nie en nie in ewigheid nie.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui