Hou só vas aan die Here op die regte lewenspad
deur ds. Jan-Louis Lee
Die Bybel gebruik die pragtige beeld van ’n reis of wedloop om ons lewe aan ons te verduidelik. Soos jy op hierdie pad vorder tref jy soms kronkels en draaie aan, opdraandes en struikelblokke wat die pad versper. Ander kere tref mens gelyk paaie aan en afdraandes wat makliker is om te loop (of hardloop!). Hierdie lewensreis of -wedloop verg inspanning en moeite, en het een groot doel voor oë: die wenpaal waar die oorwinnaarskroon aan ons oorhandig word.
Gaan lees wat skryf Paulus in onder andere 1 Korintiërs 9:24-27; Filippense 3:12-14 en 1 Timoteus 4:7-10. Die Hebreërskrywer moedig ons aan om die lewenswedloop met volharding te hardloop (Hebreërs 12:1-4). Jakobus praat van die ‘prys’ wanneer die toets deurstaan is as die ‘kroon van die lewe’.
Verstaan die lewenswedloop!
As ons mooi na hierdie, en al die ander gedeeltes wat so praat gaan kyk, sien ons ’n paar belangrike dinge:
- Om hierdie wedloop of reis suksesvol te voltooi verg inspanning, en daar is baie ontberinge en moeite op hierdie pad.
- Ons moet dit gefokus hardloop met ons oog op die wenpaal (Christus), en nie heeltyd terugkyk na agter, na die ander atlete nie; want dan sak jy in die wedloop uit omdat jou aandag afgetrek is.
- Daar is spelreëls waarvolgens hierdie wedloop of reis voltooi moet word.
Maar hoe weet ek of ek op die regte pad is?
Die groot vraag is egter; hoe weet ek dat ek in die regte rigting hardloop, die regte wedloop voltooi? Jesus antwoord hierdie vraag in Matteus 7. Hy praat van twee paaie en twee poorte, twee soorte reisigers en die twee eindbestemmings (Matteus 7:13 en 14).
- Eerstens is daar die nou poort met die smal pad waarop ‘min’ kan reis. Daarteenoor staan die breë poort met die wye pad waarop baie deur kan gaan. Die pad is smal en die poort nou; en dit verteenwoordig die intense en alles-oorweldigende soektog van die gelowige om die koninkryk van God en sy geregtigheid eerste te plaas.
- Tweedens is daar op elkeen van hierdie paaie ’n ander tipe reisiger. Die smal pad het ‘min’, hulle wat die wil van die Here soek en dit doen. Die breë pad het ‘baie’, dit verteenwoordig die massas wat die koning van sy eie lewe is en God ignoreer.
- Derdens lei hierdie paaie na twee verskillende bestemmings. Die smal pad lei na die lewe (vergelyk Jakobus 1:12) en die breë pad lei na die verderf.
Die onderskeid tussen valse en ware Christenskap
Jesus koppel hierdie gedeelte oor die paaie dan met hoe om wolwe in skaapsklere uit te ken – aan hulle vrugte. Goeie bome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. Hoewel dit dan van toepassing is op valse profete en die leerstellings wat ons moet toets voordat ons dit goedsmoeds glo, wil Jesus hiermee ons ’n belangrike punt laat besef: ’n Mens kan maklik tussen valse en ware Christene onderskei na aanleiding van die vrugte wat hulle dra. Dit is onafwendbaar dat indien jy ’n gehoorsame kind van God is, jy die wil van die Vader sal doen en dit sigbaar word in die manier hoe jy leef.
Toets die vrug in jou lewe
Dit is waarskynlik dan die skêrpunt van ons antwoord – hoe weet ek dat ek op die verkeerde pad is? – om die vrug in jou eie lewe te toets. Verheerlik dit God? Is dit gesonde vrugte, is dit in lyn met wat die Woord ons leer oor die smal pad, soek ek allereers die koninkryk? Of is ek gemaklik om die breë pad te bewandel, my eie koninkryk te bou en te fokus op my eie plesier?
Dit is nie te laat om die verkeerde pad agter te laat nie
As jy dan besef dat jy op die verkeerde pad is, dat jou lewe oor jouself gaan, en dat jy die gebooie van God minag is dit nie te laat nie. Ons bely in die doopsformulier dat ons ’n ewige genadeverbond met God het; wat Hy ingestel het en dat ons soms uit swakheid in sonde val. Dit beteken egter nie dat ons in die sonde moet bly lê of in die genade van God moet twyfel nie – ons moet, in die woorde van die Hebreërskrywer “elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê…” (Hebreërs 12:1).
Vind só die regte pad
Die Here leer ons dat ons altyd met vrymoedigheid tot Hom toegang het – omdat Christus die las van die sonde op Hom geneem het en volledig versoening gedoen het vir ons sondes. Wanneer ’n gelowige selfondersoek doen en dus iets by hom- of haarself raaksien wat nie in pas is met die wil van ons Vader nie, is dit raadsaam om die volgende te doen:
- Bid vir genade om met die sonde te breek, en verorber die Woord sodat jy geloofsekerheid mag ervaar oor jou verlossing. Wanneer ons afgemat is, en oortuig word van ons sondes, verkeer ons dikwels onder aanvegtinge van die Satan wat ons wil oortuig dat ons te ver heen is. Die teenmiddel hiervoor, is om in die Woord van God die waarheid te soek en te glo.
- Verootmoedig jouself met ’n opregte berou voor jou genadige Vader, en moet nie weer in die sondestrik trap nie. Dit help nie jy besef die weg waarop jy jouself begewe is verkeerd, maar jy gaan maar net so aan nie. Dit is om die Here te tart.
- Omring jou met medegelowiges wat saam met jou en vir jou kan bid. Neem vrymoedigheid om dit met jou voorgangers (ouderlinge en diakens) te bespreek en onthou dat ons as gelowiges na mekaar moet omsien.
- Moenie in die genade van God twyfel nie. Dit is nie nederigheid en opregte geloof wat konstant tob en mor oor hulle sondes nie; dit is om te wonder of God almagtig genoeg is om jou van jou sondes te verlos.
- Hou jou oog gevestig op Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof, wat ons Hoëpriester is, en met ons swakhede medelye het – en daarvoor gesterf het. Wat die smaad van die kruis nie verag het nie; en ons nou deur sy Woord en Gees regeer.
Kortom: deur ’n sondebesef, berou en lewe in die Woord, hou ek vas aan die Here op my lewenspad.