Wedergeboorte is God se werk op Sý tyd
Hoe het jy tot geloof in God gekom? Lees hier oor hoe mense oor ’n lang periode of skielik tot bekering kan kom, en wat dit beteken.
deur ds Dirk Meijer
Twee onderskeie manne het op ’n dag op twee verskillende staproetes gaan stap. Die eerste se staproete was van die begin af oordek met wolke en ’n sagte reënbuitjie wat amper onbeduidend die hele roete lank op hom val. Aan die eindpunt was hy egter van kop tot tone sopnat gereën. Die tweede man se roete het begin met ’n wonderlike sonskyndag. Iewers op die pad het ’n magtige reënbui plotseling uitgebreek. Aan die einde van die roete het die man met druppende klere aan sy lyf by sy eindbestemming aangekom.
Die twee mans se oorvertellings van hulle reise sou beduidend verskil. Die eindpunt is egter dieselfde: albei was sopnat gereën!
So gaan dit ook met die wedergeboorte wat God in sy uitverkorenes bewerk. In baie gevalle is dit iets wat oor ’n lang tyd kom en stadig jou bestaan deursyfer. Vir ander is dit ’n skielike gebeurtenis met ’n groot omwenteling wat plaasvind. In beide gevalle is daar egter iets wat aan die einde duidelik sigbaar is: hierdie mens is deurdrenk van God se werk!
Die manier hoe mense tot geloof kom is altyd dieselfde
Die manier hoe God met sy uitverkorenes werk is altyd dieselfde, maar die tyd nie. Vir almal gebruik Hy dieselfde middele. In alle gevalle is dit God wat eerste uitgekies het wie Hy sal verlos. In alle gevalle is dit God wat sy uitverkorenes deur sy Woord na Hom toe roep. Dit is ook in alle gevalle God wat sy Gees aan hulle gee om die Woord te glo. In alle gevalle is die nuwe lewe Gód se werk deur Gód se middele. Dit gebeur egter ook op God se tyd, en die tyd kan wel verskil.
Wedergeboorte wat oor ’n tydperk gebeur
In meeste gevalle is die wedergeboorte iets wat stadig maar seker die uitverkorenes van God se bestaan deursyfer. In die Bybel vind ons wonderlike voorbeelde hiervan. Samuel was van kleins af in God se huis waar hy dag na dag die Woord van die Here gehoor het (1 Samuel 1-2). Timoteus was ’n man wat van kleins af al deur sy ma en ouma geleer is van die evangelie (2 Timoteus 1:5 en 3:15).
Die Heilige Gees het die Woord in hulle gekweek soos ’n plant wat groei. Daardie groei is nie in elke dag so sigbaar nie. Oor ’n tydperk sien mens egter wel: kyk hoe het dit gegroei! Kyk hoe duidelik sigbaar was God se werk in manne soos Samuel en Timoteus!
Baie van ons ontvang die genade om in gelowige huise groot te word en van kleins af die Woord te hoor. Op hierdie rustige pad van Woordbediening en gebede laat die Heilige Gees die saad van die Woord ontkiem en groei. Aan die einde mag ons God dank vir die geloof wat Hy op daardie tyd gegee het.
Wedergeboorte wat skielik gebeur
Daar is egter ook baie ander uitverkorenes by wie die geloof as ’n plotselinge omkeer in die lewe kom. Ook daarvan is duidelike voorbeelde in die Bybel. Paulus se lewe is skielik van koers verander deur die werk van God se Gees (Handelinge 9). Dieselfde vind ons by die Etiopiese hofdienaar (Handelinge 8) en die tronkbewaarder van Filippi (Handelinge 16). Die werk van die Gees het gekom soos ’n skielike reënbui en hulle bestaan deursyfer!
Ook dit gebeur vandag. Dit is wonderlik as dit gebeur dat iemand wat die Weg van die Here nooit geken het nie, tot geloof kom. Dit is heerlik om getuies te wees van die radikale omkeer wat die evangelie in so ʼn persoon se lewe teweeg bring.
Ons sien altyd die Gees se kragtige werk
Hoe dit ook al sy: in beide gevalle sien ons die kragtige werk van die Gees deur die evangelie. Dit is ook die hoofsaak: wat ook al die tydsberekening mag wees, dit is Gód se werk op Gód se tyd. Daarom mag ons ook nie in hoogmoed praat oor wat ons ontvang het en die tyd waarop ons dit van God ontvang het nie.
Iemand wat van kleins af al die deurlopende werk van die Gees leer ken het, mag nie neerkyk op iemand wat eers op ’n later stadium tot geloof gekom het nie. Iemand wat as volwassene tot geloof gekom het, mag ook nie roem oor ’n dag of datum in sy lewe en ander verkwalik by wie die bekering nie so plotseling gekom het nie. Dit gaan nie oor dag, datum of tyd nie, maar oor God wat werk.
In nederigheid mag en moet ons God dank vir sy werk wat Hy op sy tyd in ons doen. Dan kan ons ook van harte bely soos ons doen in die Dordtse Leerreëls: “die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie ten volle begryp nie. Intussen is dit vir hulle ’n gerusstelling dat hulle weet en ervaar dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet” (3/4:13).